Zwarries swoeg en sweet, maar steeds onoorwonne
Die kragmeting tussen die enigste twee onoorwonne spanne in die C-afdeling van die Finsbury-reeks het nie teleurgestel nie.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoërskool Zwartkop moes kliphard swoeg, maar het, soos in die res van die seisoen tot dusver, eenvoudig ‘n manier gevind om die wa deur die drif te trek.
Vandeesweek was dit die beurt van Nicholas Conradie om sy hand op te steek en uiteindelik die tuispan na ‘n swaarverdiende sewe-paaltjie sege oor Hoërskool Monument te lei.
Dinge kon heelwat anders vir die besoekers uitgewerk het as die nie was vir ‘n taamlike kolfineenstorting nie. Aanvangskolwer, Antonie van Niekerk (70) en Logan Weetman (36) het met hul vennootskap van 54 lopies ‘n stewige grondslag gelê, maar moes daarna toekyk hoe die paaltjies een na die ander val.
Die Zwarries se Botha Geldenhuys het die meeste skade aangerig met sy drie paaltjies vir net nege lopies. Dit het die pas vir die res van die Zwarrie-boulers aangegee en die Monumentare het daarna agt paaltjies vir net 34 lopies verloor. Dit het die besoekers met slegs 157 lopies gelos om te verdedig.
Die Zwarries het dit egter self nie maklik gehad met die kolf nie en as dit nie was vir die uitstaande beurt van 89, nie uit nie, deur Conradie nie, sou die prentjie heel anders gelyk het. Conradie was egter in ‘n klas van sy eie en het, onder moeilike omstandighede, sewe sesse en drie viere gemoker om sy span oor die wenstreep te sleep.
Hoërskool Pietersburg se Willem Viljoen het die besoekende Hoërskool Dinamika se kolwers ore aangesit met ‘n uitstaande boulvertoning. In die ses beurte wat Viljoen afgevuur het, was altesaam 31 balle leeg en het die volgehoue druk aan hom vyf paaltjies vir net 20 lopies besorg. Stephan Swanepoel (2/13) en Ignus Ferreira (2/28) het verder bygedra daartoe om die besoekers tot slegs 94 te beperk.
Swanepoel was ook voor in die koor met die kolf. Die hotklou het die wedstryd op 31 nie uit nie afgesluit. Dit was egter Cilliers van der Merwe wat die kollig met die kolf gesteel het. Hy was duidelik haastig op pad êrens heen en het 49 onoorwonne lopies van net 23 aflewerings gemoker om die teiken in die 11de beurt te bereik vir ‘n oorwinning met agt paaltjies.
Jonathan Wiseman (4/18) het sy ervaring gebruik om skoonskip te maak teen Hoërskool Lichtenburg en vir Midstream College tot oorwinning te lei in Centurion. Wiseman en sy aanvangsvennoot, Wian de Bruin (2/12), het blitsig van die Liggies se kolwers ontslae geraak om die span van Noordwes tot net 122 te beperk.
Ryan Strauss, steeds goed op dreef en vol selfvertroue, het sake verder gevoer met die kolf en ‘n afgeronde 43 lopies aangeteken, wat genoeg was om sy span met ses paaltjies te laat seëvier.
Beknopte telkaarte:
Monument 157 (Antonie van Niekerk 70, Logan Weetman 36; Botha Geldenhuys 3/9, Liam van Wyk 2/14, Zander van Staden 2/32, Rowan McLaren 2/42); Zwartkop 162/7 (Nicholas Conradie 89*, Ekstras 22; Rieghardt Prinsloo 3/18). Zwartkop wen met drie paaltjies.
Dinamika 94 (Branko Steenberg 20; Willem Viljoen 5/20, Stephan Swanepoel 2/13, Ignus Ferreira 2/28); Hoërskool Pietersburg 95/2 (Cilliers van der Merwe 49*, Stephan Swanepoel 31*; Branko Steenberg 2/18). Hoërskool Pietersburg wen met agt paaltjies.
Hoërskool Lichtenburg 122 (Jurgen Hesse 37, Douw Jacobs 27; Jonathan Wiseman 4/18, Wian de Bruin 2/12); Midstream College 125/4 (Ryan Strauss 43, Eckhardt du Toit 20; Raiyaan Pathan 2/36). Midstream College wen met ses paaltjies.