SuperSport Schools Plus

Zwarries spog met 17 op ‘n ry na reuse Rooi Bul-stryd

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-10 Tags: , , , , , , , , , ,

FOTO: Marius Nortjé.

Daar het Saterdagmiddag ‘n eindstryd-atmosfeer in Centurion geheers toe die voorlopers in die Plaat-afdeling van die SDC Noordvaal Cup mekaar die stryd aangesê het.

Herleef al die SDC Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Hoërskool Zwartkop het sy segetog vanjaar voortgesit met ‘n 17de agtereenvolgende oorwinning, deur vir HTS Middelburg met 36-30 baas te raak.

Zwarries-losskakel, Tilon Baron, neef van Hoërskool Garsfontein se Drewyn Baron, het die druk wat die Rooi Bulle toegepas het soos ‘n ware generaal absorbeer. Dit het die res van Zwarrie-span koel en kalm, en meer belangrik, in struktuur gehou.

Baron se visier was ook ingestel en het hy vroeg reeds met een van sy twee langafstand-strafdoele geslaag. Hy was uiteindelik in die kol met vier strafdoele, wat, tesame met twee doelskoppe, aan hom ‘n persoonlike bydrae van 16 punte besorg het.

Die laaste ding wat Baron egter sou verwag het was om met die Rooi Bulle se agsteman, Tercius Bezuidenhout, in ‘n skopstryd gewikkel te raak. Diegene wat meen dat voorspelers nie die korrelwerk pale toe moet hanteer nie, moet weer dink.

Bezuidenhout het self met drie strafdoele, waarvan een van die halflyn, en drie doelskoppe geslaag vir die helfte van sy span se punte (15).

Hoërskool Oos-Moot het in ‘n dramatiese laaste paar sekondes met 29-28 oor Hoërskool Middelburg die pyp gerook. Die span van Pretoria het vanuit sy eie halfgebied begin aanval en die beweging is uiteindelik deur Dewron Aford met die wendrie afgerond.

Dit was ‘n merkwaardige terugvegpoging, nadat Oosies teen rustyd ‘n agterstand van 10-23 in die gesig gestaar het, waarin skrumskakel, David Joubert, ‘n taamlike aandeel gehad het met sy tweekuns aan drieë.

Dit was die Middies se snellers op vleuel, Kefilwe Phamotse en Lesego Rakale, wat die aanvanklike skade aangerig het.

Hoërskool Klerksdorp het ‘n derde agtereenvolgende oorwinning op sy kerfstok geplaas deur vir Hoërskool Marais Viljoen in Alberton met 34-12 af te stof.

In wat beskryf kan word as ‘n volledige spanvertoning, was dit die gebruiklike groot kanonne wat uitgeblink het, maar haker, De Wet Le Roux, het uitgestaan met ‘n woelige vertoning wat die vuur onder die res van die pak aangesteek en die agterlyn in staat gestel het om na hartelus aan te val.

Die tuisspan se slot Clayton Gagiano, het moedig probeer om sy span in die wedstryd te hou en is met ‘n vyfpunter beloon.

Hoërskool Kempton Park het uitsonderlik vertoon op sy tuisveld om, tot breier, Henno Coetzee, se verligting, ‘n oortuigende sege van 44-21 oor Ligbron Akademie te behaal. Dit was ook Kempies se eerste sege in vanjaar se Noordvaal-kompetisie.

Puntemakers: 

Zwartkop 36 (18) – Drieë: Reagan Blignaut (2), Matthew Smith, Luan Williams. Doelskoppe: Tilon Baron (2). Strafdoele: Baron (4). HTS Middelburg 30 (10) – Drieë: Danté Lubbe, Janco Aucamp, Marinus Oberholzer. Doelskoppe: Tercius Bezuidenhout (3). Strafdoele: Bezuidenhout.

Oos-Moot 29 (10) – Drieë: David Joubert (2), Jayden Pretorius, Pema Bramely, Dewron Aford. Doelskoppe: Brian Jacobs (2). Hoërskool Middelburg 28 (23) – Drieë: Kefilwe Phamotse, Lesego Rakale, Zanempilo Mahlangu, Jabu Mathebula. Doelskop: Matthew Abbey. Strafdoele: Abbey (2).

Hoërskool Klerksdorp 34 (12) – Drieë: Tiaan Koen (2), De Wet Le Roux, Abrie Esterhuizen, Winton Abrahams, Brendin Mathyse. Doelskoppe: Dorian Isaacs (2). Marais Viljoen 12 (0) – Drieë: Clayton Gagiano, Claude do Couto. Doelskop: Raynhardt Kruger.

Ander wedstryde: 

Hoërskool Kempton Park 44. Ligbron Akademie 21. 

Ander spanne: 

o.16: Zwartkop 30, HTS Middelburg 21; Hoërskool Middelburg 40, Oos-Moot 18; Klerksdorp 19, Marais Viljoen 7; Kempton Park 25, Ligbron Akademie 14.

o.15: Zwartkop 22, HTS Middelburg 14; Oos-Moot 35, Hoërskool Middelburg 5; Marais Viljoen 17, Klerksdorp 10; Kempton Park 28, Ligbron Akademie 11.

o.14: Zwartkop 17, HTS Middelburg 12; Hoërskool Middelburg 49, Oos-Moot 7; Klerksdorp 31, Marais Viljoen 14; Kempton Park 22, Ligbron Akademie 18.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.