SuperSport Schools Plus

Zwarries sit segetog voort, Middies skakel oor na hoogste versnelling

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-17 Tags: , , , , , , , , , ,

FOTO: Hannes Rossouw/Hannes Rossouw Photography.

Die vreugdevure het Saterdag hoog gebrand in Klerksdorp en Middelburg na die laaste rondomtalie-wedstryde in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling.

Herleef al die SDC Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Hoewel dit Hoërskool Zwartkop was wat sy 17de agtereenvolgende wedstryd gewen het met ‘n naelbytsege van 25-24 oor Hoërskool Klerksdorp, het Tiaan Koen se drie die Klerksdorpers van oor tot oor laat glimlag.

Dit het aan Klerksdorp die bonuspunt besorg wat hom gevolglik na tweede op die puntelys geneem en ‘n tuishalfeind beklink het.

Die Zwarries se haker, Regan Blignaut, het oudergewoonte voorlangs geroer. Hy was vernaam vernietigend met bal in hand en die Klerksdorpers se verdediging genadeloos aangevat.

Hoërskool Middelburg het gedoen wat nodig was deur vir Ligbron Akademie met ‘n bonuspuntsege van 45-30 te troef. Dit het ook aan die Middies ‘n plek besorg in die halfeindronde, waar hulle eerskomende Vrydag teen die Zwarries in Centurion te staan kom.

Die Middies se skakelpaar, Keabetswe Nkgadima en Matthew Abbey, was weer op hul gevaarlikste in Ermelo en was nie net self verantwoordelik vir twee van hul span se drieë nie, maar het in bykans elke ander een ‘n aandeel gehad. Voorlangs was vaskopstut, Dewald du Toit, die hoeksteen van sy span.

Vir die Liggies het steelkanflank, Henco Scheepers, uitgeblink met sy hoë werkverrigtig en goeie verdediging, om die tuisspan deurlopend in die wedstryd te hou.

Hoërskool Wesvalia het moedig probeer om die punteverskil tussen hom en die Middies uit te wis deur vir Hoërskool Kempton Park met 48-15 pakslae te gee. Die Wessies het agt drieë, insluitende ‘n strafdrie, ingeryg.

Nadat hulle ietwat gesukkel het in die eerste helfte, het voorrymanne, Ulrigh du Preez en Fanie Linde, se drieë die vuur aangesteek wat uiteindelik helder gebrand het teen die einde. Ongelukkig was dit steeds net nie genoeg om die Middies verby te steek nie, maar dit het nietemin die Klerksdorpers se seisoen op ‘n hoë noot voltooi.

Hoërskool Oos-Moot het sy seisoen ook met rugby van hoogstaande gehalte tuis afgesluit. Die Oosies het vir Marais Viljoen met 49-19 ore aangesit. Die span van die Moot het baljaar vanuit gebroke spel om sy gevaarlike agterlyn, met Drew Williams en Dewron Aford aan die spits, los te laat om na hartelus aan te val en ‘n totaal van sewe drieë in te ryg.

Puntemakers:

Zwartkop 25 (15) – Drieë: Tilon Baron, Justin Julies, Regan Blignaut. Doelskoppe: Baron (2). Strafdoele: Baron (2). Hoërskool Klerksdorp 24 (10) – Drieë: Tiaan Koen, Rellston Wilson, Jarred van Staden. Doelskoppe: Dorian Isaacs (3). Strafdoel: Isaacs.

Hoërskool Middelburg 45 (26) – Drieë: Matthew Abbey, Keabetswe Nkgadima, Dewald du Toit, Sipha Mabena, Marco de Wet, Buhle Mphahlaza, Roux Grobler. Doelskoppe: Abbey (5). Ligbron Akademie 30 (17) – Drieë: Bandile Thanjekwayo, Henco Scheepers, WP Human, Regard Janse van Rensburg, Ongeidentifiseerd. Doelskoppe: Gaston Brown (2). Strafdoel: Brown.

Wesvalia 48 (19) – Drieë: Ulrigh du Preez, Fanie Linde, Joshua Pieters, Eduard Dreyer, Fafa Calitz, Wian du Preez, Henco Greyling, Strafdrie. Doelskoppe: Eduard Dreyer (2), Barry Niemand. Hoërskool Kempton Park 15 (10) – Drieë: Almero Gerritson. Doelskop: Stian de Villiers. Strafdoel: De Villiers.

Oos-Moot 49 (21) – Drieë: Jaydon Pretorius, Mike Notnagel, Drew Williams, Jeandré Venter, Dewron Aford, David Joubert, Brian Jacobs. Doelskoppe: Venter (7). Marais Viljoen 19 (5).

Ander spanne:

o.16: Klerksdorp 10, Zwartkop 0; Kempton Park 24, Wesvalia 22; Hoërskool Middelburg 52, Ligbron 7; Oos-Moot 38, Marais Viljoen 12.

o.15: Zwartkop 15, Klerksdorp 13; Wesvalia 24, Kempton Park 14; Ligbron 18, Hoërskool Middelburg 12; Oos-Moot 103, Marais Viljoen 3.

o.14: Klerksdorp 17, Zwartkop 12; Wesvalia 22, Kempton Park 10; Hoërkool Middelburg 26, Ligbron 12; Oos-Moot 19, Marais Viljoen 12.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.