SuperSport Schools Plus

Zwarries sit merkwaardige segetog voort

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-06-09 Tags: , , , , , , , , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

Hoërskool Zwartkop is na 14 wedstryde vanjaar steeds onoorwonne, maar die Vikings moes Saterdag tuis, in Centurion, met ‘n grootse terugvegpoging in die tweede helfte vorendag kom, om dit te vermag.

Herleef al die Plaat-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die Zwarries het teen rustyd ‘n agterstand van 3-13 in die gesig gestaar, maar 25 punte in die tweede was genoeg om vir Hoërskool Wesvalia, tans tweede op die puntelys van die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling, met 28-21 te troef.

Die Wessies was egter uiters klinies in die eerste helfte, met vernaam agsteman, Franco Dumond, wat uitgeblink het vir die besoekers met sy hoë werkverrigting. Ongedwonge foute na die omdraaislag het die Wessies egter duur te staan gekom.

Met slegs drie punte op die bord, te danke aan ‘n strafdoel deur losskakel, Tilon Baron, het die Zwarries in daardie stadium ook na ‘n volgende rat oorgeskakel om drie keer te gaan druk.

Heelagter, Justin Julies, was soos verwag die groot gevaarman, terwyl slot, Logan Knott, vir die derde agtereenvolgende naweek, ook oorgebars het vir ‘n belangrike vyfpunter en binnesenter, David van Jaarsveld, die derde drie gedruk het. Baron het met nóg twee strafdoele en twee doelskoppe geslaag, vir ‘n deurslaggewende bydrae van 10 punte.

In Middelburg het Hoër Tegniese Skool Middelburg die sluise oopgemaak om vir Hoërskool Klerksdorp met 62-26 uit die pad te vee. Die besoekers is vroeg reeds ‘n reuse knou toegedien toe agsteman en kaptein, Tiaan Koen, die veld weens ‘n besering moes verlaat, en die Rooi Bulle het dit bykans onmiddelik uitgebuit.

Die tuisspan se senterpaar was vernietigend, met binnesenter, Nathan Janses van Vuuren, wat die voortou geneem het met ‘n merkwaardige driekuns aan drieë, terwyl die man aan sy buitekant, Jacques Greyling, twee keer deur die Klerksdorpers se verdediging gesny het vir drieë.

Voorlangs het vaskoptstut, Marinus Oberholzer, en slot, Janco Aucamp, die pap dik aangemaak en albei is met ‘n kuier agter die besoekers se doellyn beloon.

Ligbron Akademie se swaargewigte het op die regte tyd gepiek om vir Hoërskool Oos-Moot met 41-38 te verras.

Vleuel, Bandile Thanjekwayo, in sy tweede jaar van eerstespan-rugby, het sy ervaring tentoongestel om met gemak deur te dartel vir ‘n tweekuns. Siyanda Dennison en die venynige Neo Zwane het elk ook een keer afgerond, terwyl heelagter, Gaston Brown, ‘n volmaakde dag van die skopkegel af beleef het om met ál vyf doelskoppe en twee strafdoele te slaag.

Die Oosies het nietemin so hittete van agter gekom om die tuisspan te skaapvang. Agsteman, Jaydon Botha, het uitgetroon met ‘n energieke vertoning voorlangs, wat die grondslag gelê het vir die moedige terugvegpoging.

Kefilewe Phamotse se skuif vanaf regter na linkervleuel het vrugte afgewerp vir Hoërskool Middelburg. Phamotse het in Kempton Park drie keer deurgewals in die Middies se sege van 36-22 oor Hoërskool Kempton Park, terwyl losskakel, Matthew Abbey, ook weer puik vertoon en in byna elke drie wat die besoekers gedruk het ‘n aandeel gehad het, om sy aanspraak op ‘n plek in een van die SA Skole-groepe te versterk.

Puntemakers:

Zwartkop 28 (3) – Drieë: Justin Julies, David van Jaarsveld, Logan Knott. Doelskoppe: Tilon Baron (2). Strafdoele: Baron (3). Wesvalia 21 (13) – Drieë: Fafa Calitz, Strafdrie. Strafdoele: Wian du Preez (3).

HTS Middelburg 62 (36) – Drieë: Nathan Jansen van Vuuren (3), Jacques Greyling (2), Marinus Oberholzer, Janco Aucamp, Anthoni Smuts, Kwanele Mkhize. Doelskoppe: WJ Enslin (7). Strafdoel: Enslin. Hoërskool Klerksdorp 26 (14) – Drieë: Tiaan Koen, Tyrand Masango, Marco Symington, Dorian Isaacs. Doelskoppe: Isaacs (3).

Ligbron Akademie 41 (15) – Drieë: Bandile Thanjekwayo (2), Siyanda Dennison, Neo Zwane, Jurgesn Bezuidenhout. Doelskoppe: Gaston Brown (5). Strafdoele: Brown (2). Oos-Moot 38 (26) – Drieë: Jaydon Botha, Jayden Pretorius, David Joubert, Owen Basson, Jeandré Venter, Stian de Vente. Doelskoppe: Venter (4)

Hoërskool Middelburg 36 (22) – Drieë: Kefilwe Phamotse (3), Matthew Abbey, CW Hanekom. Doelskoppe: Abbey (4). Strafdoel: Abbey. Hoërskool Kempton Park 22 (10) – Drieë: Guillaume Botha (2), Almero Gerritson. Doelskoppe: Stian de Villiers, Ben Steyn. Strafdoel: De Villiers.

Ander spanne:

o.16: Wesvalia 26, Zwartkop 24; Klerksdorp 43, HTS Middelburg 19; Oos-Moot 25, Ligbron Akademie 20; Hoërskool Middelburg 24, Kempton Park 23; Oos-Moot 25, Ligbron Akademie 20.

o.15: Zwartkop 26, Wesvalia 15; HTS Middelburg 25, Klerksdorp 14; Oos-Moot 28, Ligbron Akademie 13; Kempton Park 13, Hoërskool Middelburg 3.

o.14: Wesvalia 24, Zwartkop 18; HTS Middelburg 3, Klerksdorp 0; Ligbron Akademie 31, Oos-Moot 10; Hoërskool Middelburg 10, Kempton Park 5.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.