SuperSport Schools Plus

Wollies kraai koning in Vryburg

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-03-10 Tags: , , , , , , ,

Hoërskool Wolmaransstad het hul doelwitte vir die komende seisoen duidelik uitgestip met ‘n betekenisvolle wegoorwinning van 28-24 oor Hoërskool Vryburg.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – Skakel na die wedstryde.

Wollies se losskakel en skerpskutter, Christopher Dennis, het in besonder uitgeblink, deur 23 van sy span se 28 punte aan te teken. Dennis het ‘n doelskop en ‘n verstommende sewe strafdoele deur die pale gejaag, en sodoende sy span deurgaans in die wedstryd gehou.

Vryburg se doodskoot het egter gekom toe Gitso Mabitso, Wollies se buitesenter, ‘n sprankelende beweging teen die einde afgerond het om die besoekers se sege te verseker.

Vryburg se Jayden Starke was ewe goed met die stewel om al drie sy span se drieë te verdoel en ook ‘n strafdoel deur die pale te jaag. Jordan Rathebe, Karabelo Mbolekwa en Christopher Isaacs het aldrie ook beïndruk en hul span se drieë gedruk.

Hoërskool Riebeeckrand het ‘n netjiese vertoning aanmekaar geslaan om Hoërskool Ben Viljoen met ‘n telling van 38-31 in Randburg te verras.

Losskakel, Zac Smit, het vroeg gaan druk na ‘n uitstekende lopie, terwyl binnesenter, Peet de Bruin, ook Ben Viljoen se doellyn oorgesteek en met vier doelskoppe geslaag het.

Vir die besoekers het die spoedvrate in die agterlyn egter vir die Riebeeckrand-verdedigers laat bontstaan. Clementin Bowers (buitesenter) het sy vaart en vernuf op die aanval tentoongestel om een van sy blitslopies met vyf punte af te rond. Heelagter, Mignon Stevens, was ewe indrukwekkend, is ook, kort voor die eindfluitjie, met ‘n drie beloon en het Avernio Davids (losskakel) en die veelsydige plaasvervanger Dylan Nieuwenhuys se drieë verdoel.

Hoërskool Fochville het vir Hoërskool Schoonspruit ‘n rugbyles geleer om met ‘n telling van 51-17 as oorwinnaars uit die stryd te tree. Fochville se buitesenter, Tonny Sebola het deurentyd uitgeblink en is ‘n bitter moeilike kalant om plat te trek – soos sy tweekuns bewys.

Onder die vories het Wynand Breytenbach (agsteman) en Ntuli Simphiwe (steelkantflank) vurig vertoon en is elk met ‘n drie beloon.

Ten spyte van die oormag, het die span van Klerksdorp se twee staatmakers, Elmo Kruger (haker) en Jan-Hendrik Peacock (agsteman) nietemin weer hand opgesteek en tot die bittereinde aanhou baklei. Hulle het Schoonspruit se twee drieë gedruk, terwyl Bevan Morkel met altwee doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag het.

Hoërskool Hans Strijdom het maklik met ‘n telling van 20-8 teen Leeuwenhof Akademie geseëvier. Losskakel, Mpiri Gadebe, het Hansies se rekening vroeg, na ‘n uitstekende lopie, met ‘n drie oopgemaak. Agsteman, Kian du Plessis, het kort na rustyd ook Leeuwenhof se doellyn oorgesteek.

Hendriko van der Kolf het altwee drieë verdoel en ook met twee strafdoele geslaag om die sege te verseker.

Puntemakers: 

Hoërskool Wolmaransstad 28 (12) – Drieë: Gitso Mabitso. Doelskop: Christopher Dennis. Strafdoele: Dennis (7). Hoërskool Vryburg 24 (17) – Driee: Jordan Rathebe, Christopher Issacs, Karabelo Mbolekwa. Doelskoppe: Jayden Starke (3). Strafdoel: Starke.

Riebeeckrand 38 (10) – Drieë: Zac Smith, Jeandre Fourie, Eshihle Sibisi, Peet de Bruyn, Caleb Hadebe, Kobus Malan. Doelskoppe: Peet de Bruyn (4). Ben Viljoen 31 (14) – Driee: Clemintino Bowers, Anvernio Davids, Leuco Robinson, Mignon Stevens, Dylan Nieuwenhuys. Doelskoppe: Stevens (2), Nieuwenhuys.

Fochville 51 (18) – Drieë: Tonny Sebola (2), Branden Pretorius, Wynand Breytenbach, Petri Schutte, Ntuli Simphiwe, Athi Ngqele, Junior Naude. Doelskoppe: Petri Schutte (4). Strafdoel: Schutte. Schoonspruit 17 (3) – Driee: Jan-Hendrik Peacock, Elmo Kruger. Doelskoppe: Bevan Morkel (2). Strafdoel: Morkel.

Hans Strijdom 20 (10) – Drieë: Mpiri Gadebe, Kian du Plessis. Doelskoppe: Hendriko van der Kolf (2). Strafdoel: Van der Kolf. Leeuwenhof Akademie 8 (8) – Geen puntemakers ontvang nie.

Ander spanne: 

o. 16: Hoërskool Wolmaransstad 26, Hoërskool Vryburg 24; Hoërskool Ben Viljoen 26, Hoërskool Riebeeckrand 22; Hoërskool Fochville 24, Hoërskool Schoonspruit 0; Hoërskool Hans Strijdom 31, Leeuwenhof Akademie 16.

o. 15: Hoërskool Wolmaransstad 41, Hoërskool Vryburg 13; Hoërskool Riebeeckrand 24, Hoërskool Ben Viljoen 14; Hoërskool Fochville 52, Hoërskool Schoonspruit 0; Leeuwenhof Akademie 22, Hoërskool Hans Strijdom 17.

o. 14: Hoërskool Womaransstad 21, Hoërskool Vryburg 7; Hoërskool Ben Viljoen 26, Hoërskool Riebeeckrand 21; Hoërskool Fochville 17, Hoërskool Schoonspruit 5; Leeuwenhof Akademie 41, Hoërskool Hans Strijdom 12.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.