SuperSport Schools Plus

Wit Bulle skop seisoen teen gewonde Diamantveld in Diamantstad af

By Willem Louw , in Rugby | News , at 2023-03-10

NewsG Affies Rugby
FOTO: William Brown

Die Wit Bulle van die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria sal Saterdag teen ‘n gewonde Hoërskool Diamantveld in Kimberley te staan kom. Soos die gebruik die afgelope paar jaar kom Affies teen Diamonds in die hoofwedstryd van laasgenoemde se jaarlikse spordag in die Diamantstad te staan. 

Volg al die aksie op SuperSport SchoolsRegistreer nou.

Diamonds het verlede Saterdag vir die eerste keer in die geskiedenis die knie teen die Hoërskool Fichardtpark (27-33) gebuig. Dit sal die span van die Diamantstad sonder twyfel swaar gekwes het.

Ruan Jacobs, hoofafrigter van Afrikaanse Hoër Seunskool, het verlede jaar sy eerste wedstryd aan stuur van sake geniet toe Affies vir Diamantveld 40-3 in Kimberley geklop het. 

Diamanveld het al nege wedstryde teen Affies gespeel, maar kon nog nie daarin slaag om die oorhand teen die seuns van Pretoria te kry nie.

Die nederlaag teen die Fichie Leeus was ook boonop in die openings-wedstryd van die Wesgrow-reeks.

Simon Liversage, wat in daardie wedstryd as die plaasvervanger-losskakel opgekom het en ‘n ooglopende impak op die wedstryd gehad het, draf hierdie naweek in die nommer 10-trui uit en sal sy plek in die eerstespan wil verseker. Liversage se pa, Daan, het op sy dag vir Griekwas aan die kant van die skrum gesak. 

Ondanks die feit dat Diamantveld die wedstryd teen Fichardtpark verloor het, sal die afrigtingspan die seuns herhinner dat hulle baie effektief gelyk het waneer hulle die balbesit behou het en geduldig gespeel het.

Na nog ‘n week van oefening sal die Diamante ongetwyfeld meer voorberei voel vir hierdie kragmeting, en dit sal die Affie-span baat om hulle nie te onderskat as ‘n maklike opwarmingswedstryd nie.

Die ondervinding van loskopstut, Steyn Trüter, en heelagter, Migael de Lange, wie verlede jaar al vir Affies se eerstespan uitgedraf het sal veral in hierdie vroeë-seisoen wedstryde kosbaar wees vir die Pretorianers.

Hierdie sal ‘n goeie toets wees vir Affies voordat hulle vroeg in Mei die jaarlikse NMI Toyota Menlyn Noord/Suid toernooi aanbied.

Die eerstespan wedstryd skop om 16:00 af.

Die spanne vir die naweek is:

Hoërskool Diamantveld: 15 Marno Greeff, 14 Michael Prinsloo, 13 Kyle Taute, 12 Henrico van Staden, 11 Valentino Lenge, 10 Simon Liversage, 9 Dirk van Heerden, 8 Juandré Stassen, 7 Stiaan van Loggenberg, 6 Achiles de Jager, 5 Daniël Kuhn, 4 JJ Fourie, 3 Flip du Randt, 2 De Villiers Straus, 1 FJ de Fries.

Affies: 15 Migael de Lange, 14 Stephan Brits, 13 Naudé Laurens, 12 Janco Purchase, 11 Eagan Roux, 10 Ruben Pienaar, 9 Hendré Schoeman, 8 Ruan Lippoldt, 7 Juan Vorster, 6 Braam Swanepoel, 5 Ruben Dreyer, 4 Jonathan Eloff, 3 Ruan Smits, 2 FC van Rooyen, 1 Steyn Trüter.

Afskop: 16:00

Ander kragmetings: 

A-veld

14:40 – Duineveld vs Affies II; 13:30 – Hoërskool Upington vs Affies III.

B-veld 

15:35 – Kimberley Boys’ High vs Affies X.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.