Wit Bulle kan hul afrigter bederf met sege op spesiale dag in Krugersdorp

KRUGERSDORP. – Die inwoners van die Wes-Rand mag dalk Saterdag ‘n bietjie meer iesegrimmig voorkom as gewoonlik in die ry by die Spar of dalk sommer net in die verkeer.
Want Saterdag pak die stad se twee voorste rugbyspanne, Noordheuwel en Monument, mekaar in ‘n kragmeting van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Die Nories is gasheer vir die groot stryd wat om 12:30 afskop.
Dié tweestryd tussen die twee spanne het in 2019 herleef na Noordheuwel tot die boonste afdeling van Groep 1 van die SDC Noordvaal Cup gepromoveer is.
Die Wit Bulle moes verlede jaar hard werk om uiteindelik met 33-29 as oorwinnaars van die veld op die Ras van Rooyen-veld te stap. Nories kon laas in 2001 daarin slaag om die Wit Bulle om te dop (20-18).
Saterdag se kragmeting sal boonop ‘n spesiale mylperk vir die Wit Bulle se hoofafrigter, Tjaart van der Walt, wees. Dit is sy 100ste kragmeting aan stuur van sake by Monnas. Hy het sedert sy eerste wedstryd in 2017 teen die Hoërskool Pietersburg die Wit Bulle tot 72 seges gebrei.
Die belangriker stukkie statistiek is dat Monnas sedert Van der Walt se aankoms drie keer as kampioen van die Noordvaal-reeks (2017, 2018 en 2022) asook twee keer as kampioen van die destydse Tuks-reeks (2017 en 2018) gekroon is.
Van der Walt is nie iemand wat hom te veel stuur aan die goed wat nie tussen die vier lyne gebeur nie. Hy sal wel na afloop van die wedstryd gewis ietsie sterker as lemonade geniet om die mylpaal te vier, mits sy span vir hom rede gee om in ‘n goeie bui te wees.
Monnas se laaste nederlaag in dié kompetisie was in 2019 toe hy teen Helpmekaar-kollege in die halfeindronde met 22-27 die knie gebuig het.
Van der Walt was ook vir 50 wedstryde die hoofafrigter van die Hoërskool Garsfontein se Bere. Hy was by dié skool se eerstespan betrokke in ‘n totaal van 103 wedstryde tussen 2011 en 2016.
Noordheuwel se hoofafrigter, Stefan “Botter” Lourens, is self ‘n ervare afrigter op skolevlak. Hy is self ‘n oud-Monumentaar en weet wat sy span sal doen om ‘n sege oor sy ou alma mater te behaal.
Lourens het saam met Hans Coetzee die Wit Bulle tussen 2000 en 2003 afgerig.
Die Nories se spelskepper, JT Kapank (losskakel), kan indien hy op sy stukke is vir Monnas groot probleme veroorsaak. Die tuisspan sal boonop krapperig wees na sy nederlaag verlede week van 32-42 teen Helpmekaar-kollege.
Agterlangs sal Monnas boonop ook vir Marshall de Vos (buitesenter) en Cheswill Jooste (heelagter) moet hokslaan. Albei beskik oor die vermoë om soos ‘n kulkunstenaar uit niks iets te verskoon te laat bring.
Dit sal veral ‘n interresante tweestryd tussen Jooste en sy direkte teenstander van Monnas, Jody Schambreel, wees. Die Wit Bulle se skrumskakel, Ceano Everson, sal ook sy lippe aflek vir sy tweestryd met Coun-Lee Koekman.
Voorlangs sal die besoekers se Uli van der Westhuizen (slot) en Jamaal Feldman (agtsteman) moet sorg dat hul span op die voorvoet bly.
Marais Viljoen en die Hoërskool Nelspruit sal poog om op die wenpad in die reeks te kom wanneer die twee spanne mekaar Saterdag om 12:20 in Alberton die stryd aansê.
Die tuisspan het vir Dr. EG Jansen van Boksburg hard laat sweet vir ‘n sege van 22-17 verlede week. Die span van kaptein en flank, Cephas van Biljon, sal dus as die vroeë gunsteling op die veld draf.
Die spanne is:
Noordheuwel: 15 Cheswill Jooste, 14 Jade Muller, 13 Marshall de Vos, 12 Jared Coetzer, 11 Keaton van Deventer, 10 JT Kapank, 9 Coun-Lee Koekman, 8 Marco Maree, 7 Juan Fourie, 6 Ludie Schutte, 5 Donovan Breedt, 4 Rudolph Coetzee, 3 Martin Nel, 2 Juandré Schoeman, 1 Meyer Opperman.
Monument: 15 Jody Schambreel, 14 Nathan Venter, 13 Kelvin van Wyk, 12 Zain Henery, 11 Ernesto Oerson, 10 Daylon Myners, 9 Ceano Everson, 8 Jamaal Feldman, 7 RJ Barnard, 6 Tristan da Costa, 5 Uli van der Westhuizen, 4 Jacques Botha, 3 Ricardo du Plessis, 2 Stephan Uys, 1 Muller van Reenen.
Marais Viljoen vs Hoërskool Nelspruit in Alberton om 12:20:
Marais Viljoen: 15 Giacchino Gerber, 14 Brandon Els, 13 Tyron Bouw, 12 Juandré Theron, 11 Tyler Woodruff, 10 Franco Horn, 9 Caydinn Fredericks, 8 Henrico Germishuizen, 7 Cephas van Biljon (kaptein), 6 Stephan van Deventer, 5 Phillip Jonker, 4 Bjorn Pieterse, 3 Dylan Alberts, 2 Lohan van Schalkwyk, 1 Calum Botha.
Hoërskool Nelspruit: 15 Le Riche Atchison, 14 Owen Steyn, 13 Ian Wood, 12 Heino Meiring, 11 Karl Erichson, 10 Theuns Meyer, 9 Andeon Pringle, 8 Braam Basson, 7 Bradley Claassen, 6 Banele Ngwenya, 5 Juan Bezant, 4 Luke Poison, 3 Ryan Venter, 2 Regard Vermaak, 1 Hugwin Heyman.
Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




