Wit Bulle gaffel Welkom Gimnasium in Malcullum Marx-gedenkwedstryd

Monument van Krugersdorp se Wit Bulle se motor het gister nog net geluier, maar dit was goed genoeg om Welkom Gimnasium met 64-28 die loef af te steek.
Die kragmeting op die Ras van Rooyen-veld in Krugersdorp was boonop Monnas se jaarlikse Malcullum Marx-gedenkwedstryd.
Kyk gerus weer na die kragmeting asook ander op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).
Die twee spanne het goed mekaar in die eerste helfte opgeweeg. Monnas kon met ‘n voorsprong van 19-14 gaan rus. Die span van Welkom se losskakel, Renaldo Kiewiet, het amper net voor rustyd met ‘n strafdoel die voorsprong verder gekrimp.
Kiewiet was verlede jaar die voorste puntemaker op die Craven Week in George met 48 punte. Hy het ook ‘n hele paar keer danksy sy skerp breekslae gapings in die Wit Bulle se verdediging gevind.
Die besoekers het in die tweede helfte op ‘n hoë noot begin toe sy flank Rylen Kirsten oor die doellyn gebars het om aan sy span vir die eerste keer in die kragmeting ‘n voorsprong van 21-19 te besorg. Monnas het hierna egter na ‘n hoër rat oorgeskakel.
Boonop moes Welkom Gimnasium se buitesenter, Joshua Coertzen, die veld met ‘n besering verlaat. Dit het die Wit Bulle se agterhoede soos ‘n handskoen gepas. Albei die tuisspan se vleuel, Ernesto Oersen en Kealan Milton, kan nie oor geleenthede kla nie. Hulle het ‘n hele paar keer etlike meters veld met hul lopies op die punte gewen en self ook elk ‘n drie gedruk.
Monnas se buitesenter, Jason Joubert, het self met die ekstra spasie baljaar en twee keer die doellyn oorgesteek. Voorlangs het die die haker, Kiyan Pretorius, ook baljaar. Hy het self dubbelle driedrukplesier ervaar, terwyl die plaasvervanger-haker, Keenan Myners, boonop ook binne enkele minute na sy verskyning op die veld gaan druk het.
Gimmies se flanke, Kirsten en Rovaun van Niekerk, was in ‘n hewige stryd teen hul direkte teenstanders, RJ Barnard en Jamaal Feldman (kaptein), gewikkel. Die span van Welkom se lenige agtsteman, Ethan Jones, kan ook meer as tevrede met sy vertoning op die dag voel.
Monnas se losskakel, Justin Viljoen, het ‘n stewige vertoning met die skopskoen gelewer en ook daarin geslaag om sy agterlyn seepglad weg te stuur.
Die Wit Bulle kom Saterdag tydens die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi teen Paarl Gimnasium te staan. Welkom Gimnasium is ook op die toernooi in aksie. Hy het self nie ‘n maklike eerste wedstryd Vrydag teen EG Jansen van Boksburg wat op hom wag nie.
Puntemakers:
Monument 64 (19) – Drieë: Kiyan Pretorius (2), Jason Joubert (2), Hanno du Toit, Ernesto Oersen, Kealan Milton, Jacques Botha, Keenan Myners, RJ Barnard. Doelskoppe: Justin Viljoen (7). Welkom Gimnasium 28 (14) – Drieë: Kganya Molapo, Ethan Jones, Rylen Kirsten, Renaldo Kiewiet. Doelskoppe: Kiewiet (4).
Ander spanne:
o.16: Monument 40, Welkom Gimnasium 0.
o.15: Monument 90, Welkom Gimnasium 10.
o.14: Monument 27, Welkom Gimnasium 0.




