Wit Bulle die Bere se baas in Pretoria


Die skare op Afrikaanse Hoër Seunskool se tuisveld is Saterdagmiddag soos verwag bederf met ‘n aksiebelaaide stryd tussen die Wit Bulle en Hoërskool Garsfontein.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit was van meet af aan duidelik dat die twee agttalle mekaar sou opkeil, met albei pakke wat met mening ingeklim het op sowel die aanval as verdediging.
Dit was egter die Affies-voorhoede wat uiteindelik die oorhand verkry en die grondslag vir die tuisspan se sege van 41-25 gelê het. Die Wit Bulle het ses keer agter die Bere se doellyn gaan kuier, waarvan vyf drieë deur die voorspelers gedruk is.
Steelkantflank, Elwin Jansen van Vuuren, wat in die plek van die beseerde Albert Smit gespeel het, het straks die nr. sewe-trui sy eie gemaak. Van Vuuren het nie alleen twee van sy span se drieë aangeteken nie, maar deurentyd regoor die veld met sy energieke spel uitgetroon. Loskopstut, Roal Kruger, wat ook deurgebars het vir ‘n drie, was uiters indrukwekkend in die skrums.
Agterlangs het Ruben Groenewald, die Wit Bulle se losskakel, oudergewoonte beheer geneem en sy driekwarte, vernaam buitesenter, Estiaan Marx, telkens op die voorvoet geplaas.
Vir die Bere is die nederlaag ‘n bitter pil om te sluk, maar is daar was nietemin positiewe tekens op die vooraand van hul SDC Noordvaal Cup-veldtog. Vaskopstut, Luan van den Berg, het vurig vertoon voorlangs en sy vernuf met bal in hand kan vir die Bere nog heelwat beteken op die pad vorentoe.
Dit was egter die Garsies-losskakel, Joshua Gouws, wat die kollig vir sy span gesteel het. Gouws se visie en verspreiding het dikwels die Bere op die aanval geplaas en hy het self, na ‘n slinkse steekskoppie, een van sy span se drie drieë gedruk. Hy het ook 15 punte met die stewel bygedra.
Puntemakers:
Affies 41 (17) – Drieë: Elwin Jansen van Vuuren (2), Stefan McDonald, Luan Potgieter, Joshua Gouws. Doelskoppe: Ruben Groenewald (3). Strafdoel: Groenewald. Garsfontein 25 (6) – Drieë: Joshua Gouws, Junaide Stewart, Drewyn Baron. Doelskoppe: Gouws (2). Strafdoel: Gouws (2).
Ander spanne:
o.16: Affies 43, Garsfontein 24.
o.15: Affies 19, Garsfontein 17.
o.14: Affies 43, Garsfontein 17.