SuperSport Schools Plus

Wit Bul-buks Berhardi baas op die Ras

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-06-07 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Marius Nortjé.

Die reaksie van Hoërskool Monument se afrigtingspan het boekdele gespreek toe die eindfluitjie Saterdag die Wit Bulle se eerste sege in die Beker-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup Beker-afdeling, op die Ras van Rooyen in Krugersdorp, bevestig het.

Herleef al die Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Hoewel naelskraaps, was Monnas in ekstase na hul sege van 24-22 oor Hoërskool Transvalia. Dit was terloops ook die span van Vanderbijlpark se eerste nederlaag as nuweling van die Beker-reeks.

Skrumskakel, Evan Berhardi, was die Monumentare se groot held. Die woelige buksie van die Wit Bulle het by twee geleenthede sy verbysterende vaart tentoongestel om deur te suiker vir ‘n tweekuns aan drieë en was deurgaans ‘n bedreiging met die bal in hand. Die hardwerkende slot, Dean Hartman, is met Monnas se ander drie beloon.

Die terugkeer van Jaydon Viljoen het ook ‘n merkbare impak vir die Wit Bulle gehad. Die losskakel se skopskoen het uiteindelik die verskil tussen wen of verloor beteken, toe hy kort voor die eindfluitjie met ‘n kritieke strafdoel geslaag het.

Soos verwag, het die kragmeting op die Ras ‘n titaniese stryd tussen die twee pakke voorspelers afgegee. Die Wit Bulle se kaptein, Vincent Roberts, het van voor gelei en, tesame met Hartman, die nodige voorwaartse momentum bewerkstellig om hierdie broodnodige oorwinning te help verseker.

Vir Transvalia was haker, Wihandré Kruger, oudergewoonte ‘n doring in die vastelos en het self oorgebars vir ‘n tweede agtereenvolgende tweekuns. Kaptein, Juan Bisschoff, was kort op Kruger se hakke met sy barslopies op die aanval.

Hoërskool Noordheuwel se Clinton Agu het in Mbombela sy aanspraak op die nr. 2-trui van die SA Skolespan versterk met twee kuiers agter die doellyn van Hoërskool Nelspruit, in Nories se sege van 27-14.

Oopkantflank, Andrew Lambert, was ook weer skitterend op dreef en is een van die Blues se onbesonge helde met sy hoë werkverrigting regoor die veld. Skrumskakel, Gideon “Giellie” Diedericks, het duidelik heeltemal herstel van sy dysperbesering, met sy teenwoordigheid agter die skrum wat vir die Nories ‘n raps ekstra woema gegee het.

Die Rhinos se vaskopstut, Gert Cloete, was onkeerbaar naby die doellyn en het albei die tuisspan se twee drieë gedruk, terwyl die jong binnesenter, Rian Botha, straks sy beste vertoning van die jaar op die aanval gelewer het.

Puntemakers: 

Monument 24 (14) – Drieë: Evan Berhardi (2), Dean Hartman. Doelskoppe: Cameron Kourie (2), Jaydon Viljoen. Strafdoel: Viljoen. Transvalia 22 (15) – Drieë: Wihandré Kruger (2), Daniel Kazambo. Doelskoppe: Jay-Dee Maree (2). Strafdoel: Maree.

Noordheuwel 27 (12) – Drieë: Clinton Agu (2), Gideon Diedericks, Andrew Lambert. Doelskoppe: Jeandré Uithaler (2). Strafdoel: Uithaler. Hoërskool Nelspruit 14 (7) – Drieë: Gert Cloete (2). Doelskoppe: Liam Pringle (2).

Ander spanne: 

o.16: Monument 34, Transvalia 7; Noordheuwel 47, Nelspruit 0.

o.15: Monument 50, Transvalia 13; Noordheuwel 38, Nelspruit 12.

o.14: Monument 48, Transvalia 8; Noordheuwel 33, Nelspruit 3.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.