Wind onder Arende se vlerke beloof ’n rillerstryd in Pretoria


Die Arende van Hoërskool Dr EG Jansen het Saterdag onafgehandelde besigheid in Pretoria wanneer hulle met Hoërskool Waterkloof sake uitspook in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Volg al die Beker-askie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Verlede jaar het die Jansies en Klofies mekaar twee keer die stryd aangesê, waarvan die Pretorianers die eerste wedstryd met 45-38 op die Arende se tuisveld beklink het. Die tweede kragmeting, ook in Boksburg, het met 32-32 gelykop geëindig.
Saterdag bied dus vir die Jansies ‘n gulde geleentheid om die bordjies te verhang. Albei spanne het tot dusver vanjaar gemengde welslae behaal.
Waterkloof het mooi herstel nadat hy hom in die eerste wedstryd in vanjaar se Beker-wedloop teen Hoërskool Garsfontein vasgeloop het. Klofies het die nederlaag van 19-53 teen die verdedigende kampioen opgevolg met twee agtereenvolgende seges oor Hoërskool Menlopark (27-19) en Hoërskool Rustenburg (40-15).
Die Pretorianers se breier, Cobus van Dyk, verwag oudergewoonte ‘n hoë-intensiteit-aanslag van die Jansies. Derhalwe het Van Dyk ‘n aantal veranderinge aangebring aan die span wat vir die Rusties geklop het.
Die hardwerkende flank, Dawid Prinsloo skuif na slot, om vir nóg ‘n werksesel, Hugo Derckesen, aan die kant van die skrum plek te maak. Agterlangs vervang Marcel Tsiakos vir Jacobus van den Berg op skrumskakel, terwyl Ross Adams die beseerde Gustav Mienie se plek op vleuel inneem. Adams staar ‘n taamlike toets in die gesig teen die Jansies se gevaarlike agterste driehoek.
Hoewel aan die verloorkant, het die Jansies verlede naweek teen Hoërskool Noordheuwel sy beste vertoning van die jaar gelewer. Die span van Boksburg het beslis sy aanvalsvernuf herwin.
Dian Botha se insluiting op losskakel het straks iets hiermee te doen. Botha was uitmuntend teen die Nories en kan met sy goeie visie en verspeiding die Jansies se gevaarlike Deshean Pietersen en kie op die voorvoet plaas om die Klofies te teister.
In Mbombela sal twee ou bekendes mekaar weer langs die kantlyn raakloop wanneer Hoërskool Noordheuwel en Hoërskool Nelspruit mekaar Saterdagmiddag op Rhino-park pak. Dit sal die eerste keer wees dat Ryno Luus as die Nellies se nuwe hoofafrigter met oud-kollega, Ian Joubert, die Blues se voorspelerafrigter, swaarde kruis.
Luus en Joubert het vir twee jaar kragte saamgespan om die Goue Leeus tot agtereenvolgende titels by die Akademieweek te lei. Sedertien is Joubert as deel van die Leeus se Cravenweekspan opgeroep, terwyl Luus einde verlede jaar die leisels by die Nellies opgeneem het.
Die Blues besef dat om die Rhinos tuis te probeer tem geen maklike taak is nie. Hulle het dus slegs een verandering aan die beginspan aangebring, met buitesenter, Tristan Helmund, wat homself op die krukkelys bevind en deur Brandon Pieters in die nr. 13-trui vervang word.
Nellies se breinstrust is steeds besig om te koukus, maar hulle sal waarskynlik sonder uitblinker, Tinyiko Silubane, wat verlede week ‘n rooi kaart ontvang het, moet klaarkom.
Die spanne:
Waterkloof t. EG Jansen om 12:35 in Pretoria:
Waterkloof: 15 Tiaan Posthumus, 14 Ross Adams, 13 Meyer Pretorius, 12 Dylan Botha, 11 Jaiden Badenhorst, 10 Ronan Bastiaanse, 9 Marcel Tsiakos, 8 Marko Kok, 7 Hugo Derckesen, 6 Divan Botha, 5 Heinrich Naude, 4 Dawid Prinsloo, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliott.
EG Jansen (moontlik): 15 Deshean Pietersen, 14 Otlatleng Zulu, 13 Christopher Combrink, 12 Nathan Delport, 11 Jordan van der Westhuizen, 10 Dian Botha, 9 Joseph Diesel, 8 Slade Mowbray, 7 Jaco Engelbrecht, 6 Craig Lightfoot, 5 Breyton Kruger, 4 Jacques van Tonder, 3 Deveraux Wideman, 2 Marco Ventura, 1 Ruan Rossouw.
Hoërskool Nelspruit t. Noordheuwel om 12:20 in Mbombela:
Nelspruit (moontlik): 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Rian Botha, 11 Kamo Monkwe, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Dhandré van Wyk, 5 Werno Heyns, 4 André Smit, 3 Gert Cloete, 2 D’Angelo Roberts, 1 Lindani Ndlela.
Noordheuwel (moontlik): 15 Jeandré Uithaler, 14 Jayden Steyn, 13 Brandon Pieters, 12 Kieran Reid, 11 Aidan Bester, 10 Pablo Moeketsane, 9 Ruan Nel, 8 Armand van Eck, 7 Juandré de Villiers, 6 Andrew Lambert, 5 Roehan Hoogendyk, 4 Kean Lourens, 3 Steph Botha, 2 Clinton Agu, 1 Skuttie Bezuidenhout.

Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




