Wildeklawer 2016 Results – Day 2
Paarl Gimnasium was in ’n opwindende wedstryd op die tweede van die Wildeklawer-toernooi in Kimberley met 38-22 teen EG Jansen van Boksburg baas. Die twee spanne het met die telling op 31-17 in Paarl Gimnasium se guns gaan rus.
Paarl Gimnasium het ook gesien hoekom Jansies se losskakel, Ruben Beytell, nie vir ’n enkele oomblik alleen gelos kan word nie. Beytell het drie keer Gimmies se doellyn oorgesteek. Die losskakel van Boksburg het vanjaar al 16 drieë in sy span se tien wedstryde tot dusver gedruk. Hy het ook al driekunste teen Marais Viljoen en Menlopark in die Tuks-reeks behaal.
Gimmies se linkervleuel, Muller du Plessis, het twee keer agter Jansies se doellyn gaan kuier. Die haastige vleuel se tweede drie het gekom na ’n stukkie goeie spel deur sy kaptein en skrumskakel, Zak Burger. Gimmies se agtsteman, Muller Uys, en die heelagter, Wian van Zyl, het ook goeie spel gelewer.
Paul Roos Gimnasium se SA Skole-losskakel, Damian Willemse, was weer op sy stukke teen Menlopark. Hy is vir sy vertoning met die toekenning as Speler van die Wedstryd in die sege van 32-5 beloon.
Menlopark het wel beter vertoon as wat die telling aandui. Paul Roos kon teen rustyd slegs ’n voorsprong van 8-0 geniet. Die span van die Jakarandastad se agtsteman, Damian van der Broek, was woelig in die los.
Die Hoërskool Noord-Kaap se eerste rugbyspan het die bordjies in ’n wipplankstryd op die tweede dag van die Wildeklawer-toernooi in Kimberley teen Welkom Gimnasium met 34-32 verhang.
Gimmies het die kragmeting tussen die twee spanne vroeër vanjaar op Fichardtpark se jaarlikse sportdag oortuigend met 32-5 gewen. Northerns se heelagter, Cameron Hufke, het ’n strafdoel na speeltyd reeds verstreke was vir die sege oorgeklits. Hufke het 19 punte tot sy span se totaal bygedra.
Die span van die Diamantstad se kantman Jeffrey Muzaza het by die afbreekpunte vir Gimmies probleme besorg. Hy het ook ’n hele paar belangrike duikslae uitgevoer. Northerns se bonkige Spinnekop van Aswegen het sy span telkens met sy stormramlopies oor die voordeellyn gekry.
Vir Gimmies het sy skrumskakel, Richman Gora, deurgans vra aan Noord-Kaap se verdediging gevra. Die flank JJ Scheepers en die kaptein en haker, Duke Jantjies, verdien elk ook ’n klop op die skouer.
Puntemakers:
Noord-Kaap 34 (14) – Drieë: Gladwin Nieuwenhuyzen, Marc Aitken, Conrad van Aswegen, Cameron Hufke. Doelskoppe: Hufke (4). Strafdoele: Hufke (2). Welkom Gimnasium 32 (15) – Drieë: Ronaldo Fortuin, Duke Jantjies, JJ Scheepers, Jason Wagman. Doelskoppe: Andrew Kota (3). Strafdoele: Kota (2).
Paul Roos Gimnasium 32 (8) – Drieë: Daneel Steinman, Lyle Hendricks, Joshua Vermeulen, Damian Willemse, Davd-Ley Moses. Doelskoppe: Willemse (2). Strafdoel: Willemse. Menlopark 5 (0) – Drie: Ruben Fleischauer.
Paarl Gimnasium 38 (31) – Drieë: Muller du Plessis (2), Muller Uys, Wian van Zyl, Zak Burger, Jan Jordaan. Doelskoppe: Theo Boshoff (4). EG Jansen 22 (17) – Drieë: Ruben Beytell (3). Doelskoppe: Ginter Smuts (2). Strafdoel: Smuts.
Selborne College 60 (27) – Drieë: Joshua Armstrong, Miles Norton, Cameron Moodie, André Rust, Darren Lemmer, Afika Ndinisa, Stephan Nieuwenhuizen, Sango Xamlashe. Doelskoppe: Xamlashe (7). Strafdoele: Xamlashe, David Coetzer. Louis Botha 10 (7) – Drie: Marvin Ruiters. Doelskop: Rethabile Mzamo. Strafdoel: Mzamo.
Outeniqua 40 (34) – Drieë: JP Duvenage (2), Lance Lamprecht, Bradley Kiewietz, Wilco du Preez. Doelskoppe: James-Henry Mollentze (3). Strafdoele: Duvenage (3). Monument 25 (5) – Drieë: Luke Rossouw, Cameron Shutzler, Jandré Botha, PJ Botha, PJ Jacobs.
Garsfontein 19 (0) – Drieë: Embrose Papier, Ryno Pieterse, Brendan Skinner. Doelskoppe: Abner van Reenen (2). Stellenberg 18 (7) – Drieë: Lance Jurgens, Johann van der Merwe. Doelskop: Ruben Scholtz. Strafdoele: Scholtz (2).