Wie gaan kroon in vanjaar se Noordvaal Sewes dra?
Gaan die trofee vir die Noordvaal Sewes-toernooi vir die vierde agtereenvolgende jaar ‘n nuwe tuiste kry? Vanjaar sal die vierde keer wees dat die Noordvaal Sewes-toernooi aangebied word. Soos die vorige drie toernooie vind vanjaar sin Vrydag en Saterdag by Hoërskool Menlopark in Pretoria plaas.
Verlede jaar se kampioen, EG Jansen van Boksburg, is saam met sy teenstander in verlede jaar se eindstryd in Groep A geloot. Die Jansies het verlede jaar met Ruben Beytell aan die spits vir Garsies met 40-17 in die eindstryd verslaan. Garsfontein het vanjaar as die Blou Bulle se voorste span tot die toernooi deurgedring en behoort dus weer ‘n sterk aanspraakmaker te wees.
Daar kan ook verwag word dat EG Jansen nie maklik van sy titel afstand sal doen nie. Die ander twee spanne in Groep A, Hoërskool Nelspruit en Ben Vorster, behoort nie maklike wedstryde te wees nie.
Waterkloof van Pretoria het verlede Saterdag tydens die negende been van die Hoërskole Sewesreeks vir Nelspruit met 24-19 in die eindstryd verslaan om as kampioen gekroon te word. Klofies sal die Noordvaal-toernooi as die Blou Bulle se naasbestes betree en is gewis ook ‘n span om dop te hou.
Die eerste Noordvaal Sewes-toernooi is deur HTS Middelburg gewen, terwyl Monument in 2015 die kroon gedra het. HTS Middelburg sal nie die naweek in aksie wees nie. Die Pumas se twee verteenwoordigers is Nelspruit en Hoërskool Middelburg.
Monnas is saam met Oos-Moot, Potchefstroom Gimnasium en Transvalia in ‘n groep geloot. Daar kan verwag word dat Monnas en Transvalia albei sterk aanslae tot die titel sal loots.
Die Groepe is:
Groep A: Garsfontein, EG Jansen, Hoërskool Nelspruit, Ben Vorster.
Groep B: Kempton Park, Hoërskool Pietersburg, Zwartkop, Noordheuwel.
Groep C: Monument, Oos-Moot, Potchefstroom Gimnasium, Transvalia.
Groep D: Hoërskool Middelburg, Menlopark, Waterkloof, Helpmekaar.




