Wie gaan gekroon word as nuwe kampioen in NWU Sportreeks?

Die eindstryd in vanjaar se NWU Sportreeks tussen Hoërskool Menlopark en Hoërskool Waterkloof beloof om ‘n titaniese stryd af te gee.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).
Die eindstryd tussen die twee Pretoriaanse skole sal ook ‘n nuwe kampioen oplewer. Verlede jaar het Hoërskool Dr. EG Jansen met 48-10, in die eindstryd, ‘n Oosrand-affêre, teen Hoërskool Kempton Park, koning gekraai.
Albei spanne is tot dusver onoorwonne in die kompetisie en sal die status quo wil handhaaf wanneer die afskopfluitjie Saterdag om 15:30 by Eldoraigne blaas. Die Parkies het verlede naweek ‘n plek in die eindstryd verseker met ‘n oortuigende sege van 31-14 oor Hoërskool Nelspruit.
Divan Nel, die Parkies se heelagter, was grotendeels verantwoordelik daarvoor, en sal op sy driekuns in daardie wedstryd wil voortbou in die finaal. Nel is egter nie ál speler wat gevaar inhou vir Klofies nie.
Ruben Fourie, Menlopark se glibberige buitsenter, kan, nes Nel, heelwat skade aanrig indien hy die nodige spasie gegun word.
Fourie mag egter sy hande volhê met die Klofies se buitesenter, Riwan van Aswegen. Van Aswegen is uitstekend op dreef, en dit was sy stukkie individuele briljantheid wat nie nét die Jansies in Boksburg geskok het nie, maar ook sy span se plek in die eindstryd verseker het. Die week voor dit het hy die doellyn, teen Hoërskool Transvalia, drie keer oorgesteek.
Voorlangs wag die besige oopkantflank, Divan Botha, geduldig op sy kans om onder die Parkies in te klim, terwyl agsteman, Marko Kok, ook nie sal skroom om die opposisie fisies aan te vat nie.
Hoërskool Oos-Moot gaan Saterdag in ‘n Dawid-teen-Goliat-stryd met die Arende van Hoërskool Dr. EG Jansen gewikkel wees. Daar wag inderdaad ‘n reuse taak op die Oosies, na die gewonde Jansies se nederlaag, op tuisbodem, die week vantevore.
Die span van Boskburg sal egter sonder hul uitblinker op heelagter, R-Jay Pietersen, moet klaarkom. TK Ngobese vervang hom in die nr. 15-trui, terwyl Gerhardt van Aswegen skuif van slot na steelkantflank in die plek van die beseerde Divan Francis. Ettienne Smit neem Van Aswegen se plek op slot in.
Die spanne:
Hoërskool Menlopark t. Hoërskool Waterkloof om 15:30 in Centurion
Menlopark: 15 Divan Nel, 14 Reinhardt Herbst, 13 Ruben Fourie, 12 Leskin Samuels, 11 Stephan van Niekerk, 10 Andru Kuhn, 9 Gustav Shaffner, 8 Rocco Myburgh, 7 JN van Zyl, 6 Nathan du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Keegan Pretorius, 3 Phillip du Plessis, 2 Declan Pleser, 1 Mattheus Prinsloo.
Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Malcolm George, 13 Riwan van Aswegen, 12 Happy Makate, 11 Dennis Obi, 10 Franco Cronje, 9 Migael Prinsloo, 8 Marko Kok, 7 Leandrey Janse van Vuuren, 6 Divan Borha, 5 Alrich Uys, 4 Stephan de Beer, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.
Hoërskool Dr EG Jansen t. Hoërskool Oos-Moot om 14:00 in Centurion
EG Jansen: 15 TK Ngobese, 14 Jean-dre Claassens, 13 Jeandre Jacobs, 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerenberg, 10 Matthew Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Storm Labuschagne, 7 Gerhardt van Aswegen, 6 Zade-Leigh Rippenaar, 5 Zandre Naude, 4 Ettienne Smit, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Zian Marais.
Oos-Moot: 15 Naylan Albertus, 14 Jayden Pretorius, 13 Jeandre Venter, 12 Dewron Aford, 11 Drew Williams, 10 Ruwan Allen, 9 Franco O’Neale, 8 Deon Badenhorst, 7 Wade Williams, 6 Bertus van Dyk, 5 Jaydon Botha, 4 Connor de Jager, 3 Christian Smith, 2 Clayton de Bruyn, 1 Jandre de Beer.




