SuperSport Schools News

Wesvalia staan in die pad van Die Anker om vanjaar se Bowl-titel te verower

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2023-08-24

Daar wag nie ‘n maklike taak wat op Die Anker , wanneer hy Saterdag teen Wesvalia in die eindstryd van die SDC Noorvaal Cup se Bowl-afdeling, in Brakpan kragte meet nie.

Die Anker geniet wel tuisveldvoordeel na hy eerste op die puntelys geëinding het.

Die span van Brakpan is tot op hede steeds onoorwonne in die kompetisie. Hy kon daarin slaag om die einste Wesvalia-span in die se rondomtalie wedstryd met 36-30 te klop.

Hy sal egter op sy hoede wees, met die wete dat Wesvalia die span kan wees wat hom onkant betrap. Die span vanaf Klerksdorp het deur die loop van die seisoen daarin geslaag om goeie momentum op te bou.

Hy het ook die bordjies verhang teen Eldoraigne in die halfeindronde, na hy met ‘n telling van 36-20 as oorwinnars uit die stryd getree het.

Wesvalia pak die einstryd, met ‘n onveranderde span, aan. Alle oë sal op sy puntemasjien, Teboho Sekonyela (regtervleuel), rus met die hoop dat die spoedvraat nog ‘n paar drieë op sy kerfstok kan bylas. Sekonyela kan met ses drieë in sy laaste twee wedstryde spog.

Voorlangs, is sy kookwater flankpaar, Francios Dumond (oopkant) en Hennoh Visser (toekant) weer te siene. Die duo is tot op hede intrukwekend. Albei se verdediging is uit die boonste rakke en skroom die paar nie om agter hul opponente se doellyn te gaan kuier nie.

Dumond staan ook op vyf drieë van sy eie, in die se laaste twee wedstryde.

Die Anker se afrigter, Corneel van Dyk, het twee veranderinge aan die span wat verlede naweek vir Merensky in die halfeindstryd geklop het, gemaak. Sy Cravenweek-flank, Divan du Plooy, maak na ‘n enkelbesering sy terugkeer na die beginspan.

Du Plooy se fisiekheid beloof om ‘n groot rol op die aanval te speel. Die rateltaai flank is ook ‘n groot doring in die vlees by die afbreekpunte en is daar min so vinnig soos hy op die los bal.

Agterlangs, maak Marcel Engelbrecht, sy terugkeer op regtervleuel na hy homself vroeër in die seisoen op die krukkelys bevind het. Engelbrecht se vermoeë om af te rond was sover vanjaar vir sy span goud werd.

Saam met Engelbrecht sal dit sy losskakel, Benton Giessing, wees wat goed dopgehou moet word. Giessing se aanvallende spel het tot op hede menigste verdedigers met meer vrae as antwoorde gelaat. Hy het ook bewys dat hy sekuur vanaf die skopkegel is en sal sy skopvoet ‘n groot rol in Saterdag se eindstryd speel.

Die span van Brakpan kry ‘n tweede kans na hy in verlede jaar se eindstryd met ‘n punt teen Secunda vas geval het.

Die spanne:

Die Anker teen Wesvalia in Brakpan om 12:15: 

Die Anker: 15 Damien Muller, 14 Marcel Engelbrecht, 13 Duhan du Plessis, 12 Branden Crous, 11 Christiaan Nell, 10 Benton Giessing, 9 Danie Smit, 8 Hanru Pienaar, 7 Divan du Plooy, 6 AJ Roux, 5 Ruben Herbst, 4 Reagan Pretorius, 3 Daniel du Toit, 2 Dihan de Villiers, 1 Buks Britz.

Hoerskool Wesvalia: 15 Marno Dreyer, 14 Teboho Sekonyela, 13 Deon Viljoen, 12 Philip Janse van Rensburg, 11 Werner Kruger, 10 Richardy van Heerden, 9 Chad Hofmeyer, 8 Hanre Venter, 7 Hennoh Visser, 6 Francios Dumond, 5 Wessel Sevenster, 4 Vian Botes, 3 Koos Kleynhans, 2 Junior Kuhn, 1 Heinrich Jansen van Vuuren.

Skeidsregregter: Christo Erasmus (Leeus)

Ander spanne:

11:20 – o.16 – Alberton vs Wesvalia
10:10 – o.15 – Wesvalia vs Hoërskool Pietersburg
09:00 – o.14 – Die Anker vs Hoërskool Pietersburg

 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.