SuperSport Schools Plus

Wesvalia eis eerste slagoffer op tuisbodem

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-05-05 Tags: , , , , , , , , ,

FOTO: Marius Nortjé

Hoërskool Wesvalia het hul eerste slagoffer in die Skild-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup geëis.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com).

Die span van Klerksdorp het gewys waarom hulle, as nuwelinge in die afdeling, reeds as van die voorste aanspraakmakers op die titel beskou word, deur vir Hoërskool Lichtenburg tuis met 23-12 te klop.

Die tuisspan moes nietemin alles uithaal om die knoop deur te hak, met die Liggies wat niks wou weet van tou opgooi nie. Albei spanne se verdediging was rotsvas en die skote het vir die volle 70 minute geklap.

Die Wessies se bestendige binnesenter, Rickardt van Heerden, het oudergewoonte weer die telbord vir die Klerksdorpers laat aanhou rol met sy stewel, wat op die ou end die verskil beteken het. Hy het albei die Wessies se drieë verdoel en ook drie strafdoele deur die pale gejaag.

Die tuisspan se ander staatmaker, Francois Dumond, was ook weer op sy stukke. Dumond het, nes verlede naweek, sy stempel met begeesterde barslopies afgedruk en vir een van die Wessies se twee drieë oorgebars.

Die Liggies se voorspelers het moedig probeer, met agtsteman, Abrie Coetzee, wat met sy energieke en fisieke spel uitgeblink het. Hy was ook ‘n yster op die verdediging, wat die vuur onder sy haker, Juan van Rhyn, en loskopstut, Donovan Rosato, aangesteek het.

Hoërskool Die Anker het ‘n taamlike verrassing op tuisbodem gelewer deur vir Hoërskool Pietersburg ‘n rugbyles van 53-7 te leer. Daarmee het die span van Brakpan ook op dramatiese wyse die bordjies verhang, na hul vorige nederlaag met 17-23 teen die einste span van Pietersburg.

Agsteman en kaptein, Ruben Herbst, het van voor gelei, en was beloon met twee drieë vir sy uitstekende spel op die aanval.

Hoërskool Ben Vorster het so hittete ‘n belowende begin tot hul veldtog verbrou. Die Buffels van Tzaneen het nietemin koelkop gebly om ‘n sege van 38-32 oor Heidelberg Volkskool in die sitrusvallei te verseker.

Dit was hoofsaaklik te danke aan Ben Vorster se vuurvreter-agtsteman, Ewald Kirstein, wat ‘n barshou gespeel het en regoor die veld te sien was. Hy het vir die Volkies van meet af onder druk geplaas met sy vurige dryfspel en ‘n driekuns aan drieë behaal.

Volkies het egter ook gewys dat hulle nog nie naastenby afgeskryf kan word nie. Die besoekers het, met 10 minute oor, ‘n tamaaie agterstand van 30 punte in die gesig gestaar, maar het, danksy buitesenter, Kevin Oormeyer, se tweekuns, verbete terugveg om byna ‘n groot opskudding te veroorsaak.

Puntemakers: 

Wesvalia 23 (20) – Drieë: Francois Dumond, Chad Hofmeyer. Doelskoppe: Rickard van Heerden.(2). Strafdoele: Van Heerden (3). Lichtenburg 12 (5) – Drieë: Juan van Rhyn, Donovan Rosato. Doelskop: Albert Joubert.

Die Anker 53 (24) – Drieë: Ruben Herbst (2), Xavier Erasmus, Gerhard Oosthuizen, Jonathan Jordaan, Danie Smit, Paul Schutte, Brendan van Lutterveld, Branden Sauerman. Doelskoppe: Xavier Erasmus, Paul Schutte. Strafdoel: Schutte. Hoërskool Pietersburg 7 (0) – Drieë: Juan Jansen van Vuuren. Doelskop: Divan Brown.

Ben Vorster 38 (12) – Drieë: Ewald Kirstein (3), Damian Bye, Tihandré Reyneke, Nikelo Moyo. Doelskoppe: Shelton Primo (4). Heidelberg Volkskool 32 (3) – Drieë: Kevin Oormeyer (2), Joshua Munro, Christopher Makgonfoane, Jean de Villiers. Doelskoppe Theuns van der Merwe, Kayle Venter. Strafdoel: Venter.

Secunda 35 (17) – Drieë: Ryan Erasmus (2), Bismarck Jansen, Divan Mulder, EJ Venter, Franko Rossouw. Doelskop: Damian de Beer. Strafdoel: De Beer. Jeugland 17 (7).

Ander spanne:

o. 16: Wesvalia 44, Lichtenburg 3; Die Anker 20, Pietersburg 8; Heidelberg Volkskool 40, Ben Vorster 15; Jeugland 29, Secunda 21.

o. 15: Wesvalia 29, Lichtenburg 16; Pietersburg 12, Die Anker 9; Ben Vorster 24, Heidelberg Volkskool 7; Secunda 31, Jeugland 25.

o. 14: Wesvalia 40, Lichtenburg 17; Pietersburg 34, Die Anker 10; Ben Vorster 26; Heidelberg Volkskool 8; Jeugland 17, Secunda 17.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.