SuperSport Schools Plus

Wessies baas in Klerksorp-derby, Zwarries hol weg met Die Anker

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-22 Tags: , , , , , , , , ,

FOTO: Marnus Prinsloo

Dit het soos verwag ‘n klipharde en senutergende stryd afgegee tussen Hoërskool Wesvalia en Hoërskool Klerksdorp in die kwarteindronde van die NWU Prestige-reeks.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die toeskouers in Klerksdorp was vir die volle 70 minute vasgenael aan hul sitplekke, met dié derby wat tot die bittereinde vir hope opwinding gesorg het.

Dit was so hittete of Klerksdorp het as oorwinnaar getree uit die stryd tussen dié twee rugbyreuse van die dorp.

Dit was egter nie hoe die draaiboek geskryf was nie en die span in bruinrooi kon uiteindelik ‘n sug van verligting slaak na die swaarverdiende oorwinning van 16-12 waarmee Wessies gevorder het tot die halfeindronde van die Prestige-reeks . Die tuisspan se se pak het hand opgesteek om sy stempel af te druk in die vaste fasette en het ook op die verdediging dikwels die besoekers se besit omvergegooi.

Dit was egter weer die skopskoen van losskakel, Eduard Dreyer, wat die laaste sê gehad het. Dreyer se drie strafdoele en een doelskop het uiteindelik ‘n deurslaggewende rol in sy span se sege gespeel.

Klerksdorp se agsteman en kaptein, Tiaan Koen, het vir die soveelste keer met sy fisieke spel op die aanval beïndruk om sy span deurentyd op die voorvoet te plaas.

Hoërskool Zwartkop het ‘n kliniese vertoning teen Hoërskool Die Anker gelewer om ‘n wegholsege van 42-3 te behaal. Die span van Centurion, wat opslae maak met sy aantreklike hardlooprugby, se aanslag is gelei deur regtervleuel, Luan Isaacs, wat ‘n driekuns behaal het. Binnesenter, David van Jaarsveld, het self twee keer agter die span van Brakpan se doellyn gaan kuier.

Die Zwarries het sy man teen Die Anker se pak gestaan en volgens hul sterkpunte gespeel, naamlik om die bal so vinnig moontlik by die snellers op die punte te kry. Hulle het voorts omgekeerde besit uitstekend benut en gevaarlike teenaanvalle geloods, waarvoor die Die Anker nie ‘n antwoord gehad het nie.

Heidelberg Volkskool se Tyrone Munro en Reuben Bothma het elkeen ‘n tweekuns aan drieë behaal in die Volkies se oortuigende sege van 43-25 oor Hoërskool Jeugland. Die span van Heidelberg is beslis besig om ritme te vind, wat moeilikheid voorspel vir toekomstige teenstanders.

Puntemakers:

Wesvalia 16 (3) – Drie: Fafa Calitz. Doelskop: Eduard Dreyer. Strafdoele: Dreyer (3). Hoërskool Klerksdorp 12 (5) – Drieë: Tiaan Koen, Dorian Isaacs. Doelskop: Brendin Matthyse.

Zwartkop 42 (25) – Drieë: Luan Isaacs (3), David van Jaarsveld (2), Zulu Mona. Doelskoppe: Tilon Baron (3). Strafdoele: Baron (2). Die Anker 3 (3) – Strafdoel: Edrick Pienaar.

Ander wedstryde:

Heidelberg Volkskool 43 (26) – Drieë: Tyrone Munro (2), Reuben Bothma (2), Henru Coetzer, Jeandré Pretorius, Pieter Greyling. Doelskoppe: Hein Oelofse (4). Jeugland 25 (10).

Hugenote (Springs) 24 (5) – Drieë: Zander van Vuuren, Dylan Podges, Thanyani Mokiri, Luan Pretorius. Doelskoppe: Yovan Prinsloo (2). Wagpos 22 (12).

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.