Wessel Maree vier 70ste in styl, Riebeeckstad behaal 50-tal

Wessel Maree het Saterdag hul 70ste bestaansjaar behoorlik gevier met ‘n dramatiese tuisoorwinning oor Hoërskool Bothaville.
Drieë deur die vleuels, Thato Lebitso en Tsebo Fako, asook haker, Kagiso Plaaitjie, was nét genoeg om vir die tuisspan met 15-12 te laat seëvier.
In Welkom het die buurskole, Hoërskool Riebeeckstad en HTS Welkom, kragte gemeet, met die Riebies wat ‘n wegholsege van 52-14 behaal het.
Binnesenter, Kannanelo Motshoaliba, het twee keer agter die doellyn gaan kuier om tot sy span se stewige totaal by te dra.
Die HTS Welkom-seuns het nietemin hard gewerk om self twee keer bresse in die tuisspan se verdediging te slaan. Hulle sal die lesse uit hierdie nederlaag gebruik om hulle te staal vir hul volgende groot uitdaging, wanneer hulle vir Hoërskool Hoopstad eerskomende Saterdag pak.
Hoopstad het verlede naweek se nederlaag teen Wilgerivier afgeskud om met ‘n sterk Hoërskool Bultfontein af te reken met 29-12. Hul opwindende senter, Hennie Barnard, het nog twee drieë tot sy naam gevoeg.
Wilgerivier het 24 punte sonder antwoord teen Hoërskool Henneman aangeteken, met die groot slot, Ewert Kleynhans, wat ook ‘n tweekuns behaal het. Hulle sal wil voortbou op hierdie momentum wanneer hulle Saterdag vir Wessel Maree in Frankfort welkom heet.
Puntemakers:
Wessel Maree 15 – Drieë: Thato Lebitso, Tsebo Fako, Kagiso Plaaitjie. Hoërskool Bothaville 12.
Hoërskool Riebeeckstad 52 – Drieë: Kannanelo Motshoaliba (2), Bongani Majola, Lerato Mangonjane, Jabu Lebazi, Khayalethu Ntsakaza, Aviwe Betana, Kenneth Matsaba. Doelskoppe: Miguel Maasdorp (6). HTS Welkom 14.
Hoërskool Hoopstad 29 – Drieë: Hennie Barnard (2), AJ Brink, Adam Barnard. Doelskoppe: Busi Mfebe (3). Strafdoel: Mfebe. Hoërskool Bultfontein 12.
Wilgerivier 24 – Drieë: Ewert Kleynhans (2), Gerhardu Lourens, Pedri Graaff. Doelskoppe: Wian Muller (2). Hoërskool Henneman 0.
Ander uitslae
o. 16 – Hoërskool Bothaville 26, Wessel Maree 12; Wilgerivier 62, Henneman 0.
o. 15 – Wessel Maree 31, Hoërskool Bothaville 5; Wilgerivier 50, Henneman 0.
