SuperSport Schools Plus

Wessel Maree en Hennenman sal stoei om plek in eindstryd

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-05-30 Tags: ,

NewsG HennenmanWanneer Wessel Maree van Odendaalsrus en die Hoërskool Hennenman se twee rugbyspanne mekaar weer ontmoet sal dit soos ’n uitklopwedstryd wees.

Wessel Maree en Hennenman het Saterdag met 24-elk gelykop op Odendaalsrus gespeel. Daar is wel nie vanjaar ’n halfeindstryd in die Sandveld-liga nie, maar die wedstryd volgende kwartaal tussen die twee spanne op Hennenman sal in alles behalwe naam ’n halfeindstryd wees.

Bothaville is reeds verseker van sy plek in die eindstryd. Hy het Riebeeckstad Saterdag met 19-5 verslaan. Riebies het beter vertoon as die vorige week en veral op verdediging hulle man gestaan.

Vir Riebies het die losskakel, Nathan Fourie, en die senter Docter Makhubu goed vertoon. Vir Bothaville was sy twee vleuels, Morné Dodds en Reinhardt Grobler, asook die senter Carlo Kleynhans uitstaande. Voorlangs het die stut Hanco van Aswegen inklimspel gelewer.

Sandveld van Wesselsbron het Saterdag op sy tuisveld met ’n sege van 18-15 oor Hoopstad seker gemaak dat hy bo-aan die puntelys van die tweede been van die Sandveld-liga eindig.

In die Oos-Vrystaat het Harrismith vir die tweede agtereenvolgende jaar bo-aan die puntelys geëindig. Hy het Reitz met 21-0 verslaan. Reitz sukkel met heelwat besering, maar kon steeds twee op die puntelys eindig.

Harrismith sal nou in die halfeindronde teen Ficksburg te staan kom, terwyl Reitz en Vrede mekaar in die ander halfeindstryd sal pak. Vrede het Ficksburg Saterdag met 21-18 uitoorlê. Ficksburg se losskakel, Randy Nolan, was sy staatmaker in die wedstryd.

Diamantveld se slot Bernard Jansen se spelpeil toon ’n goeie opwaartse kurwe. Hy was weer een van sy span se uitblinkers in sy oortuigende sege van 49-0 oor Landboudal van Jacobsdal.

Jansen behoort vanjaar een van Griekwas se sleutelspelers op die Cravenweek in Durban te wees. Die losskakel, Charles Williams, en die senterpaar, Etdeon Greyvenstein en De-an Ackerman, het ook weer teen Lanties skitterspel gelewer.

President Steyn se haker, Melvyn Marais, het Saterdag sy verjaarsdag in styl gevier deur drie keer oor die doellyn in sy span se oorwinning van 59-7 teen Tsoseletso te bars. Die senter Niel Smith het self twee keer ’n draai agter die doellyn gaan maak.

Sand du Plessis het vir Sehunelo met 60-17 die loef afgesteek. Sannies se skrumskakel, Nicky Hattingh, asook sy twee slotte Timothy Jones en Rudolf Coetzee kan tevrede met hul vertonings voel.

Brandfort het vir Hoërskool Bloemfontein met 61-10 van die veld af gespeel. Die wenspan se kaptein en losskakel, Francois Fourie, het 21 punte tot die sege met ’n drie en agt doelskoppe bygedra.

Puntemakers:

Wessel Maree 24 (19): Drieë: Antonio Mosaledi, FJ de Beer, Johan Fourie, Ashley Swart. Doelskoppe: Tian Potgieter (2). Hennenman 24 (7): Drieë: Albie Venter (2), Daniel Nkopane, Richard Badenhorst. Doelskoppe: Venter (2).

Bothaville 19 (14): Drieë: Jurie Viljoen, Morné Dodds, Bertram Crawthorne. Doelskoppe: Carlo Kleynhans (2). Hennenman 5 (0): Drie: Sizwe Makize.

Vrede 21: Drieë: Stefan du Toit (2). Doelskop: Pieter Neethling. Strafdoele: Neethling (3). Ficksburg 18: Drieë: Jade Adams, Randy Nolan. Doelskop: Nolan. Strafdoele: Nolan (2).

Sandveld 18 (8): Drieë: David Marais, Stephan Maritz, Chris Marais. Strafdoel: David Marais. Hoopstad 15 (7): Drieë: Janus van Deventer, Wayne Vorster. Doelskop: Koos Snyman. Strafdoel: Snyman.

Brandfort 61 (35): Drieë: Johan Muller (2), Janco Tucker, Kyle Wait, Christiaan Botha, Quintin Fourie, Waldi Eksteen, Kamo Thale, Francois Fourie. Doelskoppe: Fourie (8). Hoërskool Bloemfontein 10 (3).

Sand du Plessis 60: Drieë: JG Oberholzer (2), Michael Armstrong (2), Sheridene van Rooyen (2), Nicky Hattingh, Arthur Watkins, Katleho Moletsane, Rudy Schroeder. Doelskoppe: Hattingh (5). Sehunelo 17.

President Steyn 59: Drieë: Melvyn Marais (3), Niel Smith (2), Luandré Nel, Janco Nel, Riaan Beyleveld, Juandré Atkinson. Doelskoppe: Gailin Neels (7). Tsoseletso 7.

Diamantveld 49 (21): Drieë: Etdeon Greyvenstein (2), De-an Ackerman, Anton van Romberg, Jacques Ackerman, Timothy Harding, Allen Joubert. Doelskoppe: Charles Williams (7). Landboudal 0.

De Aar 27: Drieë: Brenden Merrington, Jacques Beukes, Sisa Madyo, Jaco Wilkinson. Doelskop: Azi Afrika, Gian Visagie. Strafdoel: Afrika. Vaalharts 24.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.