Wesgrow-reeks vat vlam met Bloemfontein-derby

Verlede seisoen se o. 19 A-rugbykampioen in die Wesgrow Sentrale Sportreeks, Hoërskool Fichardtpark, pak Saterdag hul buurskool en aartsvyand, Hoërskool Jim Fouché, in die Rosestad.
Die Fichies het ‘n staanplek in Bloemfontein vir die trofee verdien met ‘n uitstekende onoorwonne Wesgrow-veldtog in 2023, en in hul vorige kragmeting met JF was die Leeus met 39-33 baas. Na die reeks het JF nietemin die Fichies se droomseisoen effens bederf deur hulle in die eindstryd van die Vrystaat-liga met 31-25 te verslaan.
Hierdie naweek is ‘n liganaweek vir die spanne wat aan die Wesgrow-reeks deelneem, maar aangesien Fichardtpark en JF, asook Hoërskool Trio en Voortrekker Hoërskool, mekaar in hul onderskeie ligas raakloop, dien dit Saterdag terselftertyd ook as hul Wesgrow-bepalings.
Volg die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die toernooi
Fichardtpark kon nog nie vanjaar dieselfde ritme bereik wat hulle in 2023 tentoongestel het nie, maar, met gevaarmanne soos Martin Kalp en Duan Viviers in hul midde, ly dit geen twyfel dat hulle oor die vermoëns beskik om weer onder die voorste spanne in die reeks getel te word nie.
JF het in hul eerste wedstryd van vanjaar se reeks met 24-24 gelykop gespeel teen Hoërskool Witteberg, en moes in hul volgende wedstryd met 13-20 die knie buig teen Goudveld-Hoërskool. Hulle sal uiteraard gretig wees om hul eerste Wesgrow-sege van die seisoen agter hul naam te plaas.
Senter, Adrian de Necker, en flank, Franco Oberholzer, is tot dusver twee van JF se groot uitblinkers en sal Saterdag ‘n deurslaggewende rol hê om te vervul indien hulle harder as die Leeus wil brul.
Die stryd tussen die twee skrumskakels behoort ook interessant te wees. Devanté Claasen het verlede jaar reeds vir Fichardtpark by die Cravenweek verteenwoordig, terwyl sy direkte opponent, Brenden de Wee, wat, saam met sy broer, Breyten de Wee, verlede jaar nog vir Fichardtpark by die o. 16 Grant Khomo-week verteenwoordig het, vanjaar vir die JF-eerstes uitdraf.
Voortrekker het gedurende die skoolvakansie hul eerste NMI Noord/Suid-stryd teen Helpmekaar Kollege naelskraaps met 20-19 gewen, maar tydens die Paastoernooi by St John’s College het hulle gestruikel teen Hoërskole Nelspruit en Noordheuwel, so hulle sal gretig wees om terug te keer na die wenpad toe in Kroonstad die naweek.
Trio het gedurende die voorseisoen ook teen Noordheuwel verloor met 12-20, maar hulle het die Gautengers beslis meer laat sweet.
Die Trekkers se skrumskakel, Christiaan van der Sandt, sal weer ‘n vername rol hê om te vertolk, nie alleen wat sy stelskopwerk betref nie, maar ook aan die spits van bykans al hul aanvallende bewegings.
Voorlangs moet brekers soos Cecil Parsons en Arnold Ras die platform lê, terwyl losskakel, Adriaan Bonthuys, en heelagter, Kaneng Komane, agterlangs die toon moet aangee.
Die tuisspan se voorry, bestaande uit Juandré Vorster, Killian Kriek en Dandré Bloem, sal alles in die stryd moet werp om te verseker dat Trio die tempo beheer, anders kan dit ‘n lang dag raak.
Die manne van Bethlehem het reeds vroeër in die seisoen verlede jaar se kampioen, Fichardtpark, met 33-10 afgestof en het verlede jaar as die algehele wenners van die Wesgrow-reeks geëindig.
Die spanne:
Fichardtpark t. Jim Fouché om 13:30:
Hoërskool Fichardtpark: 15 Martin Kalp, 14 Ayanda Quinisa, 13 Duan Viviers, 12 Junior Titoti, 11 Divan Martens, 10 Pule Motsilili, 9 Devanté Claasen, 8 Wouter Jonker, 7 Janel du Plessis, 6 Marno Smith, 5 Pieter Tembo, 4 Buko Mlali, 3 Nathen Swanepoel, 2 MJ Hattingh, 1 Zaine van Zyl.
Hoërskool Jim Fouché: 15 Christian Strydom, 14 Heinrich Hattingh, 13 Adrian de Necker, 12 Hanro Marais, 11 Bendré Vermaak, 10 Allderick Johnson, 9 Brenden de Wee, 8 Qian Moller, 7 Franco Oberholzer, 6 Nathan van Breda, 5 JW Stone, 4 Brenden Weyers, 3 Darren Matthews, 2 Ian Nel, 1 JC van Niekerk.
Trio t. Voortrekker om 13:20:
Hoërskool Trio: 15 Byron Maggerman, 14 Thuto Kekane, 13 Franco de Wet, 12 Tyron Adams, 11 Aaron Kriek, 10 Byron Biennas, 9 Ethan Smith, 8 Keanu Swanepoel, 7 Pieter van Schalkwyk, 6 Tapiwa Mundeta, 5 Danie Fourie, 4 Dian Serfontein, 3 Juandré Vorster, 2 Killian Kriek, 1 Dandré Bloem.
Voortrekker Hoërskool: 15 Kaneng Komane, 14 Karabelo Chaka, 13 Frederik Fourie, 12 Craig Mann, 11 Kamohelo Moses, 10 Adriaan Bonthuys, 9 Christiaan van der Sandt, 8 Dawie Fourie, 7 Wian Fourie, 6 Jayden de Jesus, 5 Tristan Meyer, 4 Luttig Roux, 3 Cecil Parsons, 2 Arnold Ras, 1 Francois Maree.