Wesgrow-reeks kondig nuwe opwindende era vir 2023 aan
Die Wesgrow Sentrale Sportreeks betree in nuwe opwindende era in 2023.
Die jong reeks wat in 2018 ontstaan het, het vanjaar slegs sy derde seisoen afgesluit nadat die Coronavirus-pandemie die 2020- en 2021-seisoene in die wiele gery het.
Die reeks het nie net ‘n nuwe voorsitter aan stuur in Gys Coetzee van Voortrekker in Bethlehem nie, maar SuperSportSchools sal ook al die reeks se rugby-, netbal- en hokkie-wedstryde wat op die A-veld beslis word regstreeks uitsaai.
Dit sal verseker dat die reeks in 2023 meer blootstelling as ooit van tevore sal ontvang. Paul Sauer, skoolhoof van die Goudveld-Hoërskool, was sedert die ontstaan van die reeks die voorsitter.
Die bestuur van die reeks het in ‘n verklaring vir Sauer vir sy bydrae as stigterslid van die reeks asook uitvoerende direkteur bedank. “Sauer het ‘n ongelooflike waardevolle bydrae gelewer tot die sukses van hierdie reeks,” lui die verklaring.
Die Hoërskool Trio van Kroonstad sal ook volgende jaar vir die eerste keer aan die reeks deelneem. Die skool van Kroonstad vervang vir Hoërskool Noord-Kaap in die reeks.
Trio het vanjaar ‘n ongelooflike eerste rugbyseisoen as skool beleef. Hy is vanjaar as kampioen van die Griffon-liga asook die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga gekroon.
Die adjunk uitvoerende direkteur van die reeks is Henry Wilken van die Hoërskool Jim Fouché. Die res van die bestuur bestaan uit Nadia Olivier (Goudveld, Direkteur: Administrasie), Charles Liversage (Hoërskool Sentraal, Direkteur: Finansies), Herman van der Merwe (Fichardtpark, Direkteur: Bemarking), Hannes Oosthuizen (Witteberg, Direkteur: Mediaskakeling), Roxy Siebert (Goudveld, Direkteur: Fondswerwing) en Dries Pretorius (Voortrekker, Toernooidirekteur).
Die doel van die reeks is om massadeelname te bevorder en die reeks het in 2022 vir vele hoogtepune gesorg met vriendskappe wat op en van die sportveld tydens die reeks gesmee is. Die kern van die reeks se bestaan is die feit dat B- en C-spanne ook die geleentheid kry om gereeld hul skool te kan verteenwoordig.
Die skole wat aan die reeks deelneem is:
Voortrekker (Bethlehem), Witteberg, Jim Fouché, Sentraal, Fichardtpark, Diamantveld, Goudveld-Hoërskool, Hoërskool Trio.
 



