SuperSport Schools Plus

Wêreld-skolefees skop Dinsdag in Eikestad af

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-03-24 Tags:

NewsGFCPotgieterHoewel die aandag die komende week op die Wêreld-skolefees hier sal wees, is daar reeds ‘n streep in die sand getrek vir wat beloof om die skolerugby-wedstryd van die jaar te wees.

Die Wêreld-skolefees skop Dinsdag in die Markotter-stadion in die Eikestad af.

Ja, die gasheer, Paul Roos Gimnasium, het nog nie ‘n amptelike wedstryd die jaar gespeel nie en behoort onder die voorste drie spanne in die land te tel, maar die wedstryd op 4 Mei tydens die Wildeklawer-toernooi in Kimberley tussen Grey-kollege en Paarl Gimnasium beloof om ‘n riller te wees.

Terug na die skouspel in die Eikestad. Die Suid-Afrikaanse spanne behoort soos verlede jaar oor heeltemal te veel skietgoed vir sy eweknieë van oorsee te beskik.

Daar kan verwag word dat die Nieu-Seelandse spanne die meeste gevaar vir die Suid-Afrikaanse spanne sal inhou. Daar sal vanjaar vier Nieu-Seelandse spanne Christchurch Boys’ High, Napier Boys’ High, Southland Boys’ High en John McGlashan in aksie wees.

Slegte nuus vir die besoekers van die Land van die Lang Wit Wolk is dat Grey vanjaar weer oor ‘n span beskik wat enige verdediging aan flarde kan skeur. Grey het verlede jaar vir Christchurch Boys’ High met 66-28 vir die Hoër Jongenskool Paarl sag gemaak vir hul 150ste bestaansjaar vieringe.

Die span van Christchurch sal dus gedagtes van wraak hê. Grey was in sy agt wedstryde in die geskiedenis teen Nieu-Seelandse skole nog net drie keer aan die verloorkant. Twee hiervan was in 1994 tydens ‘n toer deur Nieu-Seeland waarvan die een teen Southland Boys’ High (8-17) was.

Dié wedstryde tydens die toer het as voorwedstryde vir die Springbokke se toer deur die land gedien. Grey het wel in 1996 die bordjies met 24-10 teen Southland verhang.

Paul Roos het nie ‘n maklike eerste taak wat op hulle teen Southland Boys’ High wag nie. Southland is toevallig ook Grey se tweede uitdaging tydens die skolefees.

Die span van die Eikestad sê in die hoofwedstryd op die laaste dag vir Napier Boys’ High die stryd aan.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria sal op sy huidige rekord teen Nieu-Seelandse spanne wil vebeter. Affies kom teen Christchurch Boys’ High in sy tweede wedstryd te staan, na hulle op Dinsdag die Italiaanse All-Stars moes te woord staan.

Die bepalings:

Dinsdag, 26 Maart: 10:30 – Glenwood t. John McGlashan; 12:00 – SA Uitnodigingspan t. Wêreldskole Uitsoekspan; 13:30 – SACS t. Zambezi Steelers; 15:00 – Monument t. Hartpury College; 16:30 – Paarl Gimnasium t. Afrika-Pasifiese Drake.

Woensdag, 27 Maart: 10:30 – Affies t. Italiaanse All-Stars; 12:00 – Boland Landbou t. Napier Boys’ High; 13:30 – Hilton College t. VSA Skole XV; 15:00 – Paul Roos Gimnasium vs Southland Boys’ High; 16:30 – Grey-kollege t. Christchurch Boys’ High.

Vrydag, 29 Maart: 10:30 – SA Uitnodigingspan t. Zambezi Steelers; 12:00 – SACS t. Wêreldskole Uitsoekspan; 13:30 – Glenwood t. Afrika-Pasifiese Drake; 15:00 – Paarl Gimnasium t. Hartpury College; 16:30 – Monument t. John McGlashan.

Saterdag, 30 Maart: 10:30 – Boland Landbou t. VSA Skole XV; 12:00 – Hilton College t. Italiaanse All-Stars; 13:30 – Grey College t. Southland Boys’ High; 15:00 – Affies t. Christchurch Boys’ High; 16:30 – Paul Roos Gimnasium t. Napier Boys’ High.

[powr-comments id=”24b087d2_1553420552623″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.