Welsh woeker in Eldoraigne sege oor Monument
Cameron Welsh se vertoning met die kolf en die bal het Hoërskool Eldoraigne se eerste sege van hierdie jaar se Finsbury-reeks teen Hoërskool Monument verseker. 
Die veelsydige speler was die voorste lopiemaker van sy span op die dag. Hy het 68 lopies tot Eldoraigne se totaal bygedra. Dit het gehelp dat die Eldos Monument se telling van 187, met slegs twee paaltjies in hand, verbygesteek het.
Johan Broekman (26) en Ryno Redelinghuys (23) het albei ook waardevolle bydraes gelewer.
Welsh het ook uitgestaan met die bal. As aanvangsbouler het hy vroeg drie paaltjies vir slegs 32 lopies laat kantel. Ruhan Oliphant (2/34) het goeie ondersteuning gebied met twee paaltjies van sy eie.
Vir die span van Krugersdorp was dit JD Landsberg, wat in sy kolfbeurt die voortou geneem het.
Landsberg se 39 lopies het grootliks bygedra om ‘n kompeterende telling op die bord te plaas. Dit was ook die meeste vir sy span. Rieghardt Prinsloo (32, 75b) en Nicolas van der Clif (31, 43b) het gesaamentlik 63 lopies, in ‘n goeie terugvegpoging, bygedra.
Landsberg was weer in die kollig met die bal in hand. Hy het die grootste skade berokken met goeie boulsyfers van 2/19. Dit was egter nie genoeg nie, en die laer orde van Eldoraigne kon vasbyt vir ‘n naelbytoorwinning.
Potchefstroom Gimnasium het daarin geslaag om ‘n jong Hoërskool Montana met nege paaltjies te klop.
Die Gimmies se kaptein, Tommie Botha, was op sy stukke. Die voorslagkolwer se onoorwonne 65 lopies het die wind uit die Montana-boulers se seile gehaal. Hy is goed bygestaan deur James Wood (25) en Divan van Eldik (25) in die Gimmies se jaagtog.
Botha was ook die voorste paaltjievraat vir sy span. Hy kon in die middelste beurte vier paaltjies plattrek vir slegs 21 lopies. Die Gimmies se wegbreekbouler, Caiden Seleka, het ook twee paaltjies ingepalm.
Aan die kant van Montana was dit net sy aanvangskolwer, Rowan Sweetman (45, 74b), wat gemaklik gelyk het. Die gebrek aan ervaring op eerstespanvlak in die Monties se kolflys het begin deurskemer en Sweetman kon geen waardevolle ondersteuning vind nie.
Luhan Theunissen (1/28) het hard gespook in die Monties se poging om 123 te verdedig, maar was dit tevergeefs en die span van die Jakarandastad moes met ‘n nederlaag van nege paaltjies die knie buig.
Beknopte telkaarte:
Monument: 187/8 (JD Landsberg 39, Riegardt Prinsloo 32, Nicolas van der Clif 31; Cameron Welsh 3/32, Ruhan Oliphant 2/34); Eldoraigne 188/8 (Cameron Welsh 68, Johan Broekman 26, Ryno Redelinghuys 23; JD Landsberg 2/19). Eldoraigne wen met twee paaltjies.
Montana: 123 (Rowan Sweetman 45; Tommie Botha 4/21, Caiden Seleka 2/19, Thlone Thabata 2/21); Potchefstroom Gimnasium 124/1 (Tommie Botha 65*, James Wood 25, Divan van Eldik 25; Luhan Theunissen 1/28). Potchefstrrom Gimnasium wen met nege paaltjies.
Hans Moore vs Kemptonpark: TBC
 



