SuperSport Schools Plus

Welkom Gimnasium verower sy vierde titel as Shimla-kampioen

By Willem Louw , in Rugby | News , at 2023-08-27

NAVAN GOEDA, duik hier sierlik oor die doellyn in sy span se sege van 52-19 oor die Hoërskool Upington in die eindstryd van die Shimla-liga. FOTO: Marnus Photography

Welkom Gimnasium is die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga kampioene vir 2023.

Die span van Welkom het na ‘n skitterende vertoning in die eindstryd op Shimlapark in Bloemfontein met 52-19 as oorwinnaars van die veld teen Hoërskool Upington gestap.

Kyk die eindstryd weer op SuperSport Schools – Registreer nou

Die Gimmies se kaptein en goue seun, die losskakel, Renaldo Kiewiet, kon ‘n droomseisoen afsluit met nog twee pragdrieë vir sy span.

Daar was nog nie ‘n span wat vir Kiewiet hierdie jaar kon inperk nie, en hy is definitief ‘n opwindende jong speler om dop te hou vir die toekoms.

Sy vleuel, Navan Goeda was self twee keer oor die doellyn, en sy tweeling-broer, Naylan Goeda (heelagter) kon ook weer ‘n drie en drie doelskoppe aanteken om sy span te help om die Shimla-titel weer ‘n staanplek in Welkom te gee.

Die speler van die wedstryd was Welkom Gim se groot, veelsydige slot, Tristan Appollis.

Appollis flous verdedigers nog heel seisoen met hoe vinnig hy sy groot lyf oor die veld kan kry, en kon sy merkwaardige seisoen ook afsluit met ‘n drie in die eindstryd.

Vir Hoërskool Upington het hul kaptein, die groot stut, PA Karsten, weer ‘n uitsonderlike wedstryd gehad.

Karsten het al drie sy span se drieë self gedruk, en sy heelagter, Ruwin Isaks, kon twee verdoel.

Ondanks die feit dat hulle nie vir Welkom Gimnasium kon inperk nie, het die Uppies uitstekend presteer om tot in die eindstryd te kom en kan met trots terug kyk op ‘n goeie seisoen.

Hulle is die Griekwaland-Wes kampioene en kon ‘n baie sterk Fichardtpark span in die halfeindstryd met 53-19 uitskakel.

Welkom Gimnasium het dan hierdie jaar albei die Griffon- en Shimla-titels verower en hulself as die die voorlopers, naas Grey-kollege, in die streek bevestig.

Hierdie was baie van die spelers se laaste skolewedstryd, en vir Welkom Gimnasium is die die perfekte beloning vir al hul harde werk deur die seisoen.

Dit is ook die tiende wedstryd hierdie seisoen wat Welkom Gimnasium daarin slaag om meer as 40 punte teen hul teenstanders aan te teken, ‘n indikasie van hoe giftig hul aanval hierdie jaar was.

Puntemakers:

Welkom Gimnasium 52 (33) – Drieë: Renaldo Kiewiet (2), Navan Goeda (2), Tristan Appollis, Naylan Goeda, Teschan Meas, Ethan Jones. Doelskoppe: Naylan Goeda (3), Kiewiet (3). Hoërskool Upington 19 (7) – Drieë: PA Karsten (3). Doelskoppe: Ruwin Isaks (2).

Ander wedstryd:

o.15 – Voortrekker 43, Fichardtpark 14.

Die spanne was:

Welkom Gimnasium: 15 Naylan Goeda, 14 Navan Goeda, 13 Taschon Meas, 12 Mojalefa Matoka, 11 Khamohelo Mokoena, 10 Renaldo Kiewiet, 9 Julian Samuels, 8 Ethan Jones, 7 Rylen Kirsten, 6 Kganya Molapo, 5 Jayden Auld, 4 Tristan Appollis, 3 Keanan August, 2 Dante Smith, 1 Buhle Mxabayi.

Hoërskool Upington: 15 Ruwin Isaks, 14 Khayalenkosi Maganga, 13 Sylvester Hoffman, 12 Siphe Msebenzi, 11 Louwan Harper, 10 Emlyhn Jacobs, 9 Neil Petro, 8 Jaco Fourie, 7 Sipho Livingi, 6 Roedolf Duraan, 5 Johan Louw, 4 Ruan Janse van Rensburg, 3 Niel Visser, 2 Roelof Slabbert, 1 PA Karsten.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.