SuperSport Schools Plus

Welkom Gim en Rooiskool bult spiere in Griffon-liga

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-05-12

Ná die eerste twee rondes van die Griffon-liga blyk dit of Welkom-Gimnasium en die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad die spanne is wat vanjaar geklop moet word indien iemand anders as kampioen gekroon wil word.

Gimmies het op sy tuisveld vir Voortrekker van Bethlehem met 22-14 geklop. Soos met elke wedstryd het die skrumskakel, Jason Olivier, en die agtsteman, SJ Malherbe, uitstaande spel vir die span van Welkom gelewer.

Die slot Jacque Henning verdien oor vermelding vir sy uitstekende werk in die lynstane. In die skrums het die haker, Andries Engelbrecht, verskeie vaskoppe gehaak.

Vir die Trekkers het die vleuel JJ Lombaard, en flanke Sakkie Molentze en Ruan Stanissis die meeste problem vir die tuisspan besorg.

Rooiskool het op sy tuisveld in Kroonstad vir Hentie Cilliers met 40-15 die loef afgesteek. Die tuisspan het met die omdraaislag reeds ‘n stewige voorsprong van 28-10 opgebou.

Rooiskool se skrumskakel, Duncan Horak, is vir sy skitterspel met twee drieë beloon. Voorlangs het die twee slotte, Michiel Bosman en Ettienne O’Donovan, die pap dik aangemaak, terwyl die agtsteman, Johan Steyn, ook maar vandag breebors kan rondloop. Die senter Charl du Plessis het ook meer as sy deel gedoen.

Witteberg van Bethlehem het in Welkom vir HTS Welkom met 31-21 getroef. Die span van die Oos-Vrystaat het ook ‘n belangrike bonuspunt na Bethlehem terug geneem danksy sy vyf drieë wat hy gedruk het.

Goudveld-Hoërskool was met 31-22 bo teen Hoërskool Kroonstad in ‘n klipharde tweestryd. Gouties sal tevrede met sy bonuspunt-sege voel.

Blouskool se twee slotte, Jaco van Oudtshoorn en Johan le Grange, het voorlangs gewoel. Die twee kantmanne, Jan-Louis du Plessis en Hendré Bolton, het ook goeie spel in die kragmeting gelewer.

Agterlangs het die losskakel, Henro de Vos, goed vertoon en 17 punte tot sy span se totaal bygedra. Hy is goed deur die senter Mervin Touzel ondersteun.

Puntemakers: 

Welkom-Gimnasium 22 – Drieë: Zander Wasserman, Danie Hendricks, Jason Olivier. Doelskoppe: Luan James (2). Strafdoel: James. Voortrekker 14 – Drieë: Reitumetsi Mofokeng, Edrich Victor. Doelskoppe: Marko Labuschagne (2). 

AHS Kroonstad 40 (28) – Drieë: Duncan Horak (2), Harold Hills, Johan Steyn, Drico Viljoen, Michiel Bosman. Doelskoppe: Corné Cooper (5). Hentie Cilliers 15 (10).

Witteberg 31 (17) – Drieë: Cronjé Meiring, Tshepi Mofokeng, Dehandro Mostert, Kobus Gunter, Handus Botha. Doelskoppe: Tiaan Schoonraad (3). HTS Welkom 21 (7).

Goudveld-Hoërskool 31 (17) – Drieë: Martin Scheepers (2), Pietman Kotze, Ruben Breedt. Doelskoppe: GP Nieuwenhuys (4). Strafdoel: Scheepers. Hoërskool Kroonstad 22 (10) – Drieë: Henro de Vos (2), Jaco van Oudtshoorn. Doelskoppe: De Vos (2). Strafdoel: De Vos.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.