Webster begin lewenspad soos Moses langs ‘n rivier
Soos Moses van die Bybel het Webster Swanepoel se lewensverhaal langs ‘n rivier begin. Moses het die Israeliete na die beloofde land gelei en Swanepoel is ‘n rugbyster wat eendag daarvan droom om die Groen-en-Goud oor die kop te trek.
Swanepoel is as ‘n pasgebore baba langs die Kliprivier-omgewing in die Alberton-omgewing gevind. Die 19-jarige leerling van Vereeniging Gimnasium het verlede jaar in Durban die Valke op die Cravenweek vir hoërskole verteenwoordig. “Die Cravenweek was tot dusver die hoogtepunt van my rugbyloopbaan,” het Swanepoel gesê.
Daar was ‘n aantal beproewinge op Swanepoel se pad voor hy as 12 jarige weens sy rugbytalent raakgesien is. Die Afrikaans-sprekende seun moes in ‘n weeshuis in Meyerton, waar meestal Sotho-sprekende en geen Afrikaanse kinders woon, bly vir ‘n hele paar jaar.
In Meyerton het hy vanuit die Laerskool Voorwaarts ‘n impak op die rugbyveld gemaak en die Valke se o.13 Cravenweek-span gehaal. Hy was ook ‘n leerling aan Laerskool HF Verwoerd in Meyerton wat deesdae Laerskool Midvaal heet.
“Ek is persoonlik bly oor die moeilike tye wat oor my pad gekom het. Dit het my geleer om nooit op te gee nie en aan my ‘n veggees gegee,” het Swanepoel gesê.
Hoewel Swanepoel ‘n weeskind is wat nie ‘n idee het oor wie sy ma of pa is nie, is daar mense in sy lewe wat lief vir hom is en hul oor hom ontferm.
Hy is voor die Cravenweek reeds deur HTS Vereeniging se destydse hoof, Dries van Heerden, raak gesien. Van Heerden was op sy dag ook die Suid-Afrikaanse Skole-rugbyvereniging se voorsitter asook ‘n voormalige provinsiale rugbyspeler.
HTS Vereeniging en Hoërskool Vereeniging het in 2013 saamgesmelt om Vereeniging Gimnasium te vorm. Van Heerden het intussen afgetree.
Daar is nie baie skolespelers wat daarmee kan spog dat hulle ‘n beduidende rol gespeel het in die ontstaan van ‘n rugbyweek nie. Swanepoel het op ‘n stadium aan Van Heerden gevra hoekom hy nie aan die Bokkie-week mag deelneem nie. Van Heerden het geworstel met die vraag en met die idee van die Rhino-week vorendag gekom wat elke jaar groei toon.
Dit is ook voor die Cravenweek vir laerskole dat die Van Zyl-egpaar, Piet en Marina, van Swanepoel te hore gekom het. Die egpaar wie se sewe kinders reeds uit die huis is, het hulle oor die jong seun ontferm.
“Frik Swanepoel (geen verwantskap) het hom gaan haal en hy het in HTS Vereeniging se koshuis ‘n tuiste gevind. Hannes Grobbelaar, wat tans die adjunkhoof by Gimnasium is, is nog ‘n persoon wat hom oor Webster ontferm,” het Van Heerden gesê.
“Hy is ‘n boerekind en ‘n ongelooflike oulike kind. Ek is ongelooflik trots op hom, hy is ‘n gesonde, pragtige, gebalanseerde en liefdevolle seun,” het Marina van Zyl gesê.
Swanepoel is vanjaar na afloop van die jaarlikse VKB-week op Reitz in ‘n uitnodigingspan opgeneem wat in Oktober deur Skotland sal toer. Hy sal egter die toer weens ‘n tekort aan bevondsing asook die feit dat hy wil fokus op die eindeksamen wat op hom wag.
Swanepoel het vanjaar ook vir Vereeniging-klub se o.21-span uitgedraf, terwyl hy ook al vir die klub se eerstespan gespeel het. Vereeniging het vanjaar gekwalifiseer om volgende jaar aan die Goue Beker deel te neem.
Swanepoel hoop om volgende jaar plek by ‘n rugbyakademie te kry en sy loopbaan verder voort te sit. “Ek is sover nie seker wat ek gaan doen nie, maar wil graag plek in ‘n rugbyakademie probeer kry,” het Swanepoel gesê.
“Hy het hierdie talent met die ball. En ek glo hy kan dit eendag nog ver bring,” het Van Zyl gesê.