Waterkloof se Wesley blink uit op én van die atletiekbaan
Wesley Badenhorst, hoofseun van Hoërskool Waterkloof, is ‘n uitblinker sowel op as van die veld af.
By die Helpmekaar Kollege se Goue Liga-atletiekbyeenkoms het hy oorwinning in die diskus gesmaak met ‘n indrukwekkende gooi van 56.74 m, wat aan hom ‘n merkwaardige 999 punte besorg het.
Taelyn Smith van Hoërskool Menlopark het die kollig met Badenhorst gedeel, deur die hoogspring met ‘n sprong van 1.95 m te wen. Smith het in 2023 ‘n rekord laat spat met ‘n sprong van 2.00 m by die Msunduzi-atletiekstadion in Pietermaritzburg.
Erdan van der Westhuizen, van Windhoek Gimnasium, het die tweede plek behaal met ‘n hoogte van 1.90 m in die hoogspring.
In die verspringkategorie het Joshua Wilkinson van King Edward VII School (KES) as oorwinnaar uit die stryd getree met ‘n merkwaardige afstand van 6.78 m.
Nicolas Nieman van Menlopark het skaars twee weke gelede ‘n nuwe rekord opgestel met ‘n sprong van 7.18 m by die Interhuis-kompetisie.
Hoewel hy nie sy persoonlike beste tydens die onlangse Helpmekaar-byeenkoms kon verbeter nie, het Nieman steeds ‘n welverdiende eerste plek met ‘n sprong van 7.04 m behaal, wat vir hom 913 punte verdien het.
Steven Sabino van KES het sy staal in die o. 19-verspring met ‘n sprong van 7.09 m getoon.
Hanno de Klerk van Waterkloof het die o. 17-driesprong oorheers met ‘n afstand van 14.07 m. De Klerk se uitmuntende prestasie dra by tot sy reeds indrukwekkende baanrekord, nadat hy voorheen goud by die AGN-byeenkoms met ‘n sprong van 13.09 m behaal het.
Jacobus Van Dyk (Menlopark) het ‘n eerste plek in die o. 14 gewigstoot behaal, met ‘n indrukwekkende gooi van 16.55 m wat vir hom 913 punte in die sak gebring het.
Keanu Nel van Helpmekaar het eerste geëindig met ‘n gooi van 16.25 m in die o. 16 gewigstoot-kategorie. Nel se talent was voorheen reeds uitgelig tydens die ASA Jeugkampioenskappe in Pietermaritzburg, in 2023, waar hy vierde geëindig het met ‘n gooi van 16.59 m.
Joshau Gerber van Menlopark het koning gekraai in die o. 15 diskus met ‘n gooi van 58.62 m, wat aan hom 942 punte op die puntetabel besorg het.
Tiaan Stevens van Hoërskool Montana het met ‘n gooi van 54.13 m ‘n eerste plek behaal in die diskus wat aan hom 907 punte besorg het.
Stevens het sy posisie as ‘n top-aanspraakmaker voorheen bevestig deur brons by die 2023 AGN-kampioenskappe in te palm met ‘n stoot van 53.73 m in die o. 18-diskuskategorie.
Aidan Erasmus (Menlopark) het die tweede plek met ‘n gooi van 54.05 m verseker en 906 punte behaal.
Die plekke was egter omgeruil in die gewigstoot, met Erasmus wat die eerste plek met ‘n gooi van 17.26 m behaal het, terwyl Stevens met ‘n gooi van 17.22 m tweede geëindig het.