Vyf-karaat kragmeting in Kimberley

Diamantveld sit Woensdagaand hul onoorwonne Wesgrow Sentrale Sportreeks-veldtog voort wanneer hulle vir die Leeus van Fichardtpark in Kimberley ontvang.
Beleef die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die reeks
Die Diamonds skitter letterlik tot dusver in die reeks, met spogseges oor Jim Fouché (38-15), Hoërskool Trio (29-27) en Voortrekker (18-6), en is ongetwyfeld een van die voorste aanspraakmakers op vanjaar se titel.
Verlede seisoen het Fichardtpark egter vir Diamantveld met 33-27 by hul jaarlikse sportdag in Bloemfontein getroef om hul onoorwonne veldtog na die Wesgrow-trofee mee af te skop. Devanté Claasen het uitgestaan op skrumskakel in daardie kragmeting, tesame met die Fichies se eerste SA Skole-verteenwoordiger, Jaco Grobbelaar.
Vanjaar het die Bloemfonteiners effens langer geneem om hul ritme te vind, maar na inspirerende vertonings oor die afgelope paar naweke, en met gevaarmanne soos Claasen, Duan Viviers en Pule Motshilili in hul midde, behoort die Leeus oorgehaal te wees om die Diamonds op tuisbodem te probeer skok.
Diamantveld se sukses tot dusver weerspieël die hoeveelheid top-talent to hul beskikking vanjaar.
Linkervleuel, Jonathan Harding, het byvoorbeeld twee keer gaan druk toe hulle verlede naweek in Bloemfontein met Jim Fouché afgereken het. Voorlangs sal die besoekers hulle ook moet staal vir die voorrystryd wat voorlê teen Diamantveld se Dian Ellis, De Wet du Plooy en kaptein, FJ de Vries.
‘n Oorwinning Woensdagaand behoort die Diamonds se selfvertroue ook ‘n beduidende hupstoot te gee alvorens hulle van die beste spanne in die land onthaal by die Absa Wildeklawer-toernooi van 1 tot 4 Mei.
Die spanne:
Diamantveld t. Fichardtpark om 19:20:
Diamantveld: 15 Kyle Taute, 14 Carel Viljoen, 13 Clinton Brits, 12 Simon Liversage, 11 Jonathan Harding, 10 Marno Greeff, 9 Dirk van Heerden, 8 Enrique Boshoff, 7 Stiaan van Lofferenberg, 6 Paul Cronje, 5 Zuan Rautenbach, 4 Daniël Kühn, 3 Dian Ellis, 2 De Wet du Plooy, 1 FJ de Vries.
Fichardtpark: 15 Martin Kalp, 14 Ayanda Quinisa, 13 Duan Viviers, 12 Junior Titoti, 11 Divan Martens, 10 Pule Motsilili, 9 Devanté Claasen, 8 MJ Herbst, 7 Janel du Plessis, 6 Marno Smith, 5 Pieter Tembo, 4 Buko Mlali, 3 Nathen Swanepoel, 2 MJ Hattingh, 1 Zaine van Zyl.
Ander bepalings:
Diamantveld A-veld: 14:00 – Diamantveld IV t. Landboudal III; 15:00 – Diamantveld o. 14 A t. Fichardtpark o. 14 A; 16:00 – Diamantveld o. 15 A t. Fichardtpark o. 15 A; 17:00 – Diamantveld II t. Fichardtpark II; 18:10 – Diamantveld o. 16 A t. Fichardtpark o. 16 A.
Diamantveld B-veld: 15:00 – Diamantveld o. 16 B t. Fichardtpark o. 16 B; 16:10 – Diamantveld o. 14 B t. Fichardtpark o. 14 B.
Kimberley Boys’ High B-veld: 15:00 – Diamantveld o. 15 B t. Fichardtpark o. 15 B; 16:00 – Diamantveld III t. Fichardtpark III.