SuperSport Schools Plus

Vrystaat ryg die drieë in tydens kleedrepetisies vir Cravenweek

By Willem Louw , in Rugby | News , at 2023-06-12

FOTO: Dirkie Groenewald

Die Vrystaatse o.18-span het hierdie naweek met sy eweknie van die Griffons (43-8) afgereken tydens die Griekwa Bondedag in Kimberley. Die Bondedag is gehou ter voorbereiding van die jaarlikse Cravenweek wat op 3 Julie by Outeniqua in George afskop.

Die Bondedag wedstryde op die A-veld is almal beskikbaar op SuperSport SchoolsRegistreer nou

Die Vrystaters lyk soos een van die gunsteling spanne by vanjaar se Cravenweek, hulle het nou al 22 drieë in hul vorige twee wedstryde gedruk, en nog net drie afgestaan.

Verlede naweek het hulle die Griekwas met 97-10 verbrokkel by die Vrystaat Bondedag.

Grey-kollege se senter, Benito Goeda, was weer ‘n gevaar waneer hy die bal ontvang het. Hy en die blitsige vleuel, Junior Claassen, kon albei twee drieë druk.

Sy skoolspanmaat flank, Keagan Scholtz, was ook deurlopend betrokke. Hy het selfs die laaste 5 minute in die nommer 11 trui op die vleuel gespeel.

Vrystaat lyk goed ingerig om die sterkste span in die land te wees, maar die wedstryd teen die Griffons het ‘n paar areas ontbloot waar ‘n vinnige verdediging hul aanval kon keer. Dit is egter waarvoor hierdie wedstryde gespeel word, om aspekte van hul spel te identifiseer waarop hulle kan verbeter, en hulle het nog genoeg tyd om mekaar en die strukture te leer ken voor die Cravenweek afskop.

Die oefenlopies kom egter met ‘n prys, en hul staatmaker losskakel, Grey-kollege se Ian van der Merwe, moes die veld verlaat met ‘n besering.

Die Griffons se enigste drie was dalk ook die mooiste drie van die dag. Voortrekker Bethlehem se breker stut, Cecil Parsons, het ‘n briljante drie afgerond, na Sydwell Sethi, Witteberg se vleuel, goed gedoen het om die verdedigingslyn te breek.

Die Vrystaat Akademiespan het ook ‘n indrukwekkende oorwinning oor die Griekwa se Cravenweek-span behaal.

Dit wys hoeveel diepte daar in die Vrystaat is, hierdie span sal ongetwyfeld een van die pasaangeërs by die Akademieweek wees.

Die Griekwas sal nie baie gelukig daarmee wees om vir die tweede naweek vyftig punte of meer af te staan nie, maar hulle kon hierdie week meer van hul aanval ten toon stel.

PA Karsten, Hoërskool Upington se staatmaker stut was te sterk om te keer toe hy die bal naby aan die Vrystaat doellyn ontvang. Hy druk toe die eerste drie van die wedstryd om die tuisspan op die voorvoet te kry.

Grey-kollege se heelagter, Vincent Wolhuter, het baie goed gelyk. Hy het ‘n aangee onderskep en die Griekwas in sy stof gelos vir die Vrystaat se eerste drie, maar hy moes ongelukig 10 minute voor die einde van die wedstryd ook die veld met ‘n besering verlaat.

Oratile Maphile, Vrystaat se plaasvervanger skrumskakel, moes ook weens ‘n harde hou teen die kop sy wedstryd kortsny.

Hopelik is geen van die beserings op die dag ernstig genoeg om die seuns te ontneem van ‘n kans om hul provinsies by die verskillende jeugweke te verteenwoordig nie.

Fichardtpark se losskakel, Dailen Geldenhuys, was ook op topvorm vir die Vrystaat Akademiespan. Hy het sy span se aanval goed beheer met sy taktiese spel en het ‘n paar moeilike verdoelings oorgeskop.

Die Griekwas het in die eerste helfte die skrums oorheers, maar Vrystaat se plaasvervanger haker, Liam van Wyk van Grey-kollege het ‘n definitiewe impak gehad en Fichardtpark se stut, Nathan Swanepoel, was deurlopend ‘n uitblinker.

Van Wyk het ook ‘n drie as beloning vir sy harde werk gekry. Hy het die bal in die vleuelposisie ontvang en langs die kantlyn afgenael asof hy in die agterlyn hoort.

Die Griekwalanders het werk om te doen op hul verdediging voor die Craven Week, maar hul senterpaar, Dwayne Lubbe van Hoërskool Prieska en Kimi van der Horst van Noord-Kaap het goed kombineer op die aanval.

Valentino Lenge, Diamantveld se senter, het nie vandag gespeel nie, maar hy het laas week gewys hoe effektief hy kan wees toe hy albei die Griekwas se drieë teen die Vrystaat Cravenweekspan gedruk het.

Dit is egter die Vrystaters wat die toon stel in die Sentrale streke, en dit gaan interesant wees om te sien hoe van die ander provinsiale spanne teen hulle vaar.

Puntemakers:

Vrystaat 43 (24) – Drieë: Benito Goeda (2), Junior Claassen (2), Keagan Scholtz, Alzeadon Felix, JJ Theron. Doelskoppe: Ian van der Merwe (3), Felix. Griffons 8 (3) – Drie: Cecil Parson. Strafdoel: Renaldo Kiewiet.

Vrystaat Akademie 50 (31) – Drieë: Vincent Wolhuter, Schalk du Plessis, Masoeu Rorisang, Calvin Bolt, Martin Botha, Erich Visser, Liam van Wyk, Tumelo Leputla. Doelskoppe: Dailen Geldenhuys (5). Griekwas 31 (17) – Drieë: PA Karsten, Junior Kettledas, Thaylin Rose, Dwayne Lubbe, Jaco Fourie. Doelskoppe: Kimi van der Horst (2), Eldridge Jack.

Vrystaat Rhinoweek 28 (21) – Drieë: De Wet du Toit, Philip McLaren, Emile McGeer, Marcel Coetzee. Doelskoppe: Heinz Stockenstrohm (4). Griekwas Akademie 14 (0) – Drieë: Tyron China, Khayalenkosi Maganga. Doelskoppe: Simon Liversage (2).

Griffons Platteland 62 (26) – Drieë: Thlompo Motsapi, AB Muller, PJ Botha, HG Muller, Arrie Ferreira, Hano Botha, NW de Beer, Franko van Heerden, Hennie Barnard, Henco Crause. Doelskoppe: Wian Muller (5), Ferreira. Vrystaat Platteland 5.

Ander tellings:

o.19 – Griffons Rhinoweek 24, Griekwas Reitzweek 22; Vrystaat Arende 31, Griffons Akademie 14; Oos-Vrystaat 16, Vrystaat Kiewiete 5; Sandveld 38, Vrystaat LSEN 5.

o.16 – Vrystaat 66, Griekwas 7; Griffons 10, Vrystaat XV 10; Oos-Vrystaat 43, Vrystaat Platteland 0; Griffons Akademie 36, Vrystaat Kiewiete 7; Griekwas Valkeweek 19, Griffons Platteland 19.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.