Vrystaat kies voorlopige span vir Cravenweek
Die Vrystaatse keurders het vyf spelers in sy voorlopige Cravenweek-span ingesluit, wat verleder jaar ook aan die gesogte toernooi deelgeneem het. Die Coca-Cola Cravenweek vind van 9 tot 14 Julie in die Paarl plaas.
Die vyftal wat verlede jaar deel van die Vrystaat se onoorwonne span op die toernooi in Johannesburg was, is Wyclef Vlitoor (senter), Ross Braude (skrumskakel), Ofentse Maphuti (slot), Herman Aggenbag (stut) en De Wet Marais (flank). Die keurders sal ongelukkig nog een speler in die huidige groep moet weglaat.
De Wet Marais herstel nog van ‘n besering. Die keurders sal indien Marais sy fiksheid bewys moet kies tussen Grey se kaptein, WJ Steenkamp, en die slot George Cronjé. Die speler wat weggelaat word sal wel steeds na die Paarl saam met die Vrystaatse Akademie-span reis. Marais het verlede jaar op die Cravenweek as slot uitgedraf, so hy is ewe gemaklik in die middel van die oond of langs die kant van die skrum.
Aggenbag herstel ook nog van ‘n skouerbesering. Hy sal wel gereed wees om sy plek in die skrum in te te neem.
Grey-kollege het met 15 spelers die meeste spelers in die span. Die Hoërskool Sentraal se vaskopstut, Albert Allandale, sal die Vrystaters se skrum anker. Jim Fouché se skrumskakel, Delano Potgieter, is ook in die span opgeneem. Louis Botha wat tot dusver die tweede beste span in die Rosestad na die onoorwonne, Grey-kollege is, het sewe spelers wat die span gemaak het.
Die heelagter, Richard Kriel, se broer David Kriel, het verlede jaar die Vrystaters se laaste vesting beman. Die binnesenter, Franco Smith, se pa het Franco het self die Vrystaat op die Cravenweek van 1989 en 1990 verteenwoordig. Hy was albei jare op die plaasvervangersbank, maar het ondanks die feit in 1990 die rekord vir die meeste punte op ‘n toernooi tot 41 opgestoot.
Smith sr. het natuurlik ook die Springbokkke in nege toetse verteenwoordig. Hy was ook al een van die Bokke se hulpafrigters. Nog ‘n seun van ‘n Springbok, André-Hugo Venter, sal op haker vir die Vrystaat sak. Sy pa, André Venter, het die Groen-en-Goud 66 keer oor sy kop getrek.
Die vleuel, Ian Small-Smith, se broer, William, was die Vrystaat se o.18-span asook die SA Skole-span se kaptein in 2010. Dit terwyl die slot Danwich Beukes se pa Joe die Vrystaat in 125 wedstryde verteenwoordig waarvan hy 24 keer voorgedraf het.
Die span sal vanjaar deur Corné Erasmus (Jim Fouché) en Adolf Swiegers (Grey) gebrei word. Die spanbestuurder is steeds die uiters bekwame Jimmy Jimlongwe. Die Vrystaat kom op die eerste dag van die toernooi teen die Blou Bulle te staan.
Die spane is:
15 Richard Kriel (Grey), 14 Brandon-Lee Adams (Louis Botha), 13 Wyclef Vlitoor (Grey), 12 Franco Smith (Grey), 11 Ian Small-Smith (Grey), 10 Zander du Plessis (Grey), 9 Ross Braude (Grey), 8 Werner Gouws (Grey), 7 WJ Steenkamp (Grey), 6 Samkele Mzayiya (Louis Botha), 5 Danwich Beukes (Grey), 4 Ofentse Maphuti (Louis Botha), 3 Albert Annandale (Sentraal), 2 André-Hugo Venter (Grey), 1 Jan-Hendrik Wessels (Grey). Plaasvervangers: 16 Francois Boonzaaier (Louis Botha), 17 Lihle Lokwane (Louis Botha), 18 Herman Aggenbag (Grey), 19 Nhlanhla Senoamadi (Louis Botha), 20 De Wet Marais (Grey), 21 Delano Williams (Jim Fouché), 22 Jade Human (Grey), 23 Lehlonolo Lithabe (Louis Botha), 24 George Cronjé.




