SuperSport Schools Plus

Vrystaat gaan weer na ouderdomsgroepe kyk

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-11-02

Die Vrystaatse Hoërskole-rugbyvereniging (VHSRV) sal voor die einde van die jaar weer na sy liga-stelsel se ouderdomsgroepe kyk. Dit is op die vereniging se jaarvergadering in die Vrystaat-stadion vroeër dié week besluit.

Die Hoërskool Fichardtpark het die punt op die agenda geplaas. Die Vrystaat se ligas word tans in “halwe” ouderdomsgroepe gespeel. Om meer uit te brei die o.14-liga (is vir o.14 en ‘n half jariges), die o.15-liga (vir o.15 en ‘n half jariges) en die o.16-liga (vir o.16 en ‘n half jariges). Fichardtpark het die punt aangeraak dat hulle nie seker is of die sisteem in lyn met die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) se Boksmart-program is nie.

Boonop kwalifiseer spanne van die Vrystaat vir die Kovsiestreek-kompetisie se Volksblad-liga (vir o.15-spanne) met spelers wat nie vir die kompetisie kwalifiseer nie. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie. Louis Botha het tydens die vergadering te kenne gegee dat hulle sou sukkel om spanne in die veld te stoot indien daar besluit sou word om die huidige stelsel aan te pas.

Die voorsitter van die VHSRV, Michael Barker het reeds in sy jaarverslag Louis Botha vir hulle ontwikkelingsprogram bedank.

Op die keurkomitee vir o.18-spelers het die vergadering ‘n nominasie na die afsnypunt ontvang. Die vergadering het egter besluit om die genomineerde Rashied Isaacs op die keurkomitee te koopteer. Isaacs is ‘n voormalige provinsiale speler van die Vrystaat en Griekwas.

Die administratiewe sekretaris, Johan van Zyl is ook vir die eerste keer tot sy pos verkies. Van Zyl het die pos al vir drie jaar beman, maar weens die grondwet wat vereis dat een van die drie poste as admin sekretaris, wedstryd sekretaris en tesourier op die bestuur deur ‘n persoon van kleur gevul moet word, is hy elke jaar tot die pos gekoopteer. Die VHSRV het sy grondwet in ‘n spesiale jaarvergadering voor die jaarvergadering Dinsdag gewysig om Van Zyl verkiesbaar te maak.

Die vergadering het ook twee nuwe name by sy lys van lewenslange lede gevoeg. Die twee lede Gonval Store (President Steyn) en Johan Vorster (Sentraal) het diep spore in skolerugby in die Vrystaat sowel as Suid-Afrika getrap.

Die bestuur van die Vrystaatse Hoërskole-rugbyvereniging is: Voorsitter – Michael Barker (Fichardtpark); Onder-voorsitters – Jimmy Jimlongwe en Schalk Malherbe (Jim Fouché); Wedstryd sekretaris – Chris Kleynhans (Sand du Plessis); Administratiewe sekretaris – Johan van Zyl (Jim Fouché); Tesourier – Riaan Herholdt (Fichardtpark); Keurders (o.18) – Pieter Swanepoel, Roelf Meyer, Deon van Wyk, Schalk Malherbe, Rashied Isaacs, Jimmy Jimlongwe, Dirkie Groenewald, Corné Erasmus; Keurders (o.16) – Ivan Stevens, Riaan Herholdt, Trevor Pennels, James Lekhanya, Jorrie Grobler

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.