SuperSport Schools Plus

Vrystaat en Cronjé beindruk op Noordvaal Bondedag

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-06-24

NewsGHermanAggenbagDaar bestaan geen twyfel na die Vrystaat o.18-rugbyspan se vertoning Saterdag tydens die Noordvaal Bondedag in die Mbombela-stadion dat hy een van die gunstelinge op vanjaar se Cravenweek sal wees nie.

Die Vrystaters het die Goue Leeus met 41-28 in die opwindendste wedstryd van die dag verslaan. Die Leeus, wat die verdedigende nie-amptelike kampioen van die Cravenweek is, is die beste span Noord van die Vaalrivier, maar sal nog moet skaaf indien hy vanjaar weer in die hoofwedstryd wil speel.

Die Vrystaat se slot George Cronjé het met ‘n vertoning uit die boonste rakke  seker gemaak dat die Vrystaatse keurders nie van hom vergeet nie.

Cronjé is vroeër uit die Vrystaters se span van die Cravenweek in die Paarl weggelaat, maar moes teen die Goue Leeus vir die beseerde agtsteman, Werner Gouws, kom instaan. Gouws het sy hand gebreek en is in ‘n resies met tyd om gereed vir die Cravenweek te wees.

Cronjé het soos ‘n vierde losvoorspeler gespeel. Hy het ‘n hele paar keer omgekeerde besit bewerkstellig en ook ‘n hele paar Leeus met duikslae hard aarde toe gebring. Hy het ook ‘n hele paar keer oor die voordeellyn met sy kraglopies gebars.

Gepraat van kraglopies die Vrystaters se vaskopstut, Herman Aggenbag, het ‘n drie gedruk waaroor hy nog lank gaan spog. Hy het vir ‘n hele paar agterspelers hakskene gewys om ‘n lopie van ongeveer 30 meter af te rond. In die agttal was die flank De Wet Marais kliphard en het saam met die stut Jan-Hendrik Wessels die fisieke aanslag gelei.

Die twee spanne het goed teen mekaar opgeweeg en die Vrystaat het teen rustyd ‘n skrale voorsprong van 15-14 geniet. Dit het egter nooit gelyk asof die Vrystaat die wedstryd sou verloor nie.

Dit was veral ook die gemak waarmee die Vrystaatse agterlyn gapings in die Leeus se verdediging geïdentifiseer en uitgebuit het wat indrukwekkend was. Dit het met tye gelyk asof die Vrystaatse agterlyn skadurugby gespeel het.

Die binnesenter, Franco Smith, het met sy verspreiding veral hier ‘n groot rol gespeel. Danksy die spasie het die heelagter, Richard Kriel, ook ‘n hele paar keer mooi aansluiting by die agterlyn gevind. Vrystaat het ook sonder sy skrumskakel, Ross Braude, gespeel. Die skrumskakel, Delano Williams, het goed agter die oond in Braude se plek vertoon.

Vir die Leeus was sy losskakel, Declan Raubenheimer, ‘n staatmaker. Hy het die agterlyn seepglad weggestuur en ook met sy stelskopwerk beïndruk. Die senter Muzi Manyike ook tevrede met sy vertoning kan voel.

Puntemakers:é

Vrystaat 41 (15) – Drieë: Ian Small-Smith, Wyclef Vlitoor, Herman Aggenbag, Samkele Mzayiya, Richard Kriel, WJ Steenkamp. Doelskoppe: Zander du Plessis (4). Strafdoel: Du Plessis. Goue Leeus 28 (14) – Drieë: Ruben Westraad, Lindo Ncusane, Karel Zowitsky, Henco van Wyk. Doelskop: Declan Raubenheimer (4).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.