Vrystaat Arende enigste span oor om die Blou Bulle te stuit
Dit lyk nie of iemand vanjaar die Blou Bulle gaan kan keer om sy titel as kampioen van die VKB Stedelike-week in Reitz te behou nie.
Die Ligbloues het soos op die eerste dag ‘n reuse telling op die bord gesit het. Die span van Pretoria het die drieë ingeryg om ‘n gemaklike sege van 78-6 oor KwaZulu-Natal te behaal.
Sy losskakel en generaal, Eagan Roux, het ‘n uitstekende wedstryd beleef en was dit geen verrasing dat hy ook as Speler van die Wedstryd aangewys is nie.
Roux het die spel dikteer en was astronomies tot sy span se intrukwekkende oorwinning. Hy was slegs twee keer onsuksesvol met sy korrelwerk pale toe.
Die enigste span wat tussen die Ligbloues en die titel staan is die Vrystaatse Arende. Die Arende het sy plek in Vrydag se eindstryd met ‘n oorwinning van 40-19 oor die Westelike Provinsie Noordelike Voorstede XV bespreek.
Die Arende se losskakel, Vuyani Moore, was behoorlik op sy stukke. Moore beskik oor indrukkwekende visie en die vermoeë om spasie te skep. Hy het nie verniet verlede jaar die Vrystaat se uitsoekspan op die Cravenweek in Kaapstad verteenwoordig nie.
Die heelagter, Hanre du Plessis, en regtervleuel, Barry Pretorius, het albei gebruik gemaak van die beskikbare ruimte om agter die doellyn ‘n draai te gaan maak.
Moore is ook as Speler van die Wedstryd aangewys met sy goeie vertoning vanaf die skopkegel.
Aan die kant van WPNS XV was dit binnesenter, DeAndre Mouwers, wat tevrede kan wees met sy vertoning.
Die Barbarians het sy drag slae teen die Blou Bulle afgestof en soos ‘n nuwe span gelyk in sy oorwinning van 28-0 teen die Diamante van Kimberley.
Sy binnesenter, Divan Vorster, kon twee keer agter sy teenstanders se doellyn gaan kuier. Vorster het ook die verantwoordelikheid opgeneem om pale toe te korrel. Hy het daarin geslaag om drie van sy span se drieë te verdoel.
Terwyl die linkervleuel, Bakamoso Kgang, ook een keer die verdediging kon penitreer vir ‘n kuiertjie agter die doellyn.
Die grondslag vir die sege is voorlangs gele. Die slot Thinus Nieuwoudt het ‘n barshou gespeel. Nieuwoudt was die veld vol en het hy sy lyf op die spel geplaas vir sy span. Sy fisieke spel en insette met bal in hand het sy kollegas voorlangs aan die gang gekry.
Nieuwoudt is ook welverdiend as Speler van die Wedstryd aangekondig.
Die Diamante is tot dusver nog wenloos. Hy sal in sy laaste wedstryd van die toernooi diep moet delf om ‘n sege op sy kerfstok te plaas.
Die Griffons het sy eerste oorwinning van die toernooi behaal. Hy kon daarin slaag om die Noord-Natallers met ‘n telling van 34-5 af te ransel.
Sy agterlyn het ‘n goeie vertoning opgelewer. Die spoedvrate agter het ‘n kliniese vertoning deur die groot manne voorlangs goed afgerond.
Sy kantman NW de Beer het weereens beindruk en het die toekenning as speler van die wedstryd ontvang. De Beer was voorlangs woelig en gedurig ‘n doring in die vlees vir die besoekers op die aanval sowel as verdediging.
Agterlangs was dit die staatmaker Arrie Ferreira wat met nog ‘n skittervertoning hand op gesteek het. Ferreira het 12 punte tot sy span se telling bygedra en was sekuur met sy stelskopwerk.
Noord-Natal het met rukke en stote ritme gevind, maar kon nie afrond nie.
Puntemakers:
Barbarians 28 (21) – Drieë: Divan Vorster (2), Bokomaso Kgang, Thinus Nieuwoudt. Doelskoppe: Vorster (3), Dandre van der Merwe. Diamante 0 (0).
Griffons 34 (12) – Drieë: Juan van der Merwe, Junior Nhlapa, Arrie Ferreira, PJ Botha, Thompo Motsapi. Doelskoppe: Ferreira (3), Wian Muller. Strafdoel: Ferreira. Noord-Natal 5 (0) – Drie: S. Mkwahanzi.
Vrystaat Arende 40 (19) – Drieë: Sarel Taljaard, Barry Pretorius, Hanre du Plessis, Pumelele Banti, Loffie Ackerman. Doelskoppe: Vuyani Moore (3). Strafdoele: Moore (3). WPNS XV 19 (8) – Drieë: DeAndre Mouwers, Wian Koen. Strafdoele: Zander Enslin (3).
Blou Bulle 78 (47) – Drieë: Stefan Pretorius (2), Itumeleng Baloyi, Eagan Roux, Jahred Smit, Victory Akinsbusuy, Lanzo Treeby, Hendre Schoeman, Lethabo Phahlanohlaka, Jayden la Douce, Tzanwani Ompfuna. Doelskoppe: Roux (9). KwaZulu-Natal 6 (6) – Strafdoele: Hanro van Zyl (2)




