Vryburg wil sy vlekkelose rekord in Noordvaal-eindstryde behou

Die twee spanne wat mekaar Saterdag in die SDC Noordvaal Cup se Groep 3 eindstryd pak, Hoërskool Vryburg en Riebeeckrand, sal mekaar vir die eerste keer in dié eindstryd ontmoet.
Albei die spanne het vroeër vanjaar aan die NWU 16-reeks deelgeneem. Vryburg het in die halfeindronde teen die uiteindelike kampioen, Hans Strijdom van Mookgophong, vasgeval.
In die uitspeelwedstryd om die derde en vierde plek in die reeks het hy met 22-elk gelykop teen Ben Viljoen van Groblersdal gespeel.
Ben Viljoen asook Hans Strijdom was vanjaar onder meer die kampioen en naaswenner van Limpopo in Groep 2 van die SDC Noordvaal Cup.
Riebeeckrand moes met ‘n tiende plek tevrede wees na hy met 14-21 teen Ferrum in ‘n uitspeelwedstryd die knie moes buig. Die Riebies se span het intussen dalk selfs sy afrigter, Janco Tiedt, verbaas.
Die span het ongeveer ses spelers om verskeie redes afgestaan deur die seisoen, maar in krag gegroei om uiteindelik Saterdag in die eindstryd op sy tuisveld uit te draf. Riebies is boonop ook die verdedigende kampioen van Groep 3 na hy verlede jaar in die eindstryd vir Linden met 31-18 verslaan het.
Die span het verlede week in die halfeindronde die einste Linden met 22-15 die loef afgesteek. Vryburg het op sy tuisveld in die halfeindronde vir Louis Trichardt met 24-7 getroef.
Vryburg se Cravenweek-slot, Jamie Davids, is steeds op die kantlyn na hy harsingskudding tydens die nasionale week opgedoen het. Nog ‘n staatmaker die buitesenter, Karabelo Mbolekwa, het sy been al vroeër in die seisoen teen Welkom Gimnasium gebreek.
Die twee spanne vir die eindstryd se spelers sal egter nie vreemd vir mekaar wees nie. Die twee jaargroepe het mekaar ook twee jaar gelede in die eindstryd van Groep 3 gepak met Riebies wat daardie dag in Vryburg met 22-20 baas was.
Vryburg spog egter met die beste rekord van enige skool op eerstespanvlak in die Noordvaal-reeks. Ja selfs beter as die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria.
Vandag sal die skool se eerstespan se negende verskyning in ‘n eindstryd van dié gesogte reeks wees. Hy was voor vandag al agt keer as kampioen gekroon.
Die span vanuit die Luiperd-streek was kampioen van die Beeldtrofee vir kleinskole in 2002, 2003, 2004 en 2005, Beeldtrofee vir mediumskole in 2014 en 2016 asook kampioen van Groep 3 van die SDC Noordvaal Cup in 2022 en 2023.
Die spanne is:
Riebeeckrand: 15 Hassan Amed, 14 Relebogile Ntwe, 13 Eshihle Sibisi, 12 Tyler Vereynne, 11 Ntando Lamola, 10 Thabo Moleme, 9 Aiden Botes, 8 Luyanda Khubeka, 7 Marco Grobler, 6 Kobus Malan, 5 Ndosi Mahlanga, 4 Angel Mongwe, 3 Marko Labuschagne, 2 Zander Viljoen, 1 Sifiso Mudou.
Hoërskool Vryburg: 15 Jayden Starke, 14 Bogolo Mankuroane, 13 Michael Mazonzo, 12 Jordan Rathebe, 11 Cat Dikhudu, 10 Marco Halgryn, 9 Janko Venter (kaptein), 8 Aiden Jonker, 7 WD Ferreira, 6 Tsiamelo Mereekane, 5 Rigardt Muller, 4 Olerato Bonokwane, 3 Daniel Nortjé, 2 Dirk Visser, 1 Petri Weideman.
Afskop: 12:00
Skeidsregter: Danie van Staden (Limpopo Blou Bulle)
Ander eindstryde:
o.16 – 10:30 – Fochville vs Standerton
o.15 – 09:30 – Riebeeckrand vs Bastion
o.14 – 08:30 – Riebeeckrand vs Linden