Vryburg en Schweizer seevier in Beeldtrofee eindstryde
Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Vryburg het sy vlekkelose rekord in eindstryde van die Beeldtrofee behou deur die 
Hoërskool Hans Strijdom op sy tuisveld in Mookgophong (Naboomspruit) met 29-21 te troef.
Dit was Vryburg se sesde titel as kampioen van die Beeldtrofee uit ses probeerslae. Die span het wel in 2005 die titel in die afdeling vir klein skole met Parys gedeel. Vier van dié titels is in die klein skole-afdeling, terwyl Vryburg se vorige sukses in die medium skole-afdeling teen Linden (31-24) in 2009 was.
Joe van Huysteen, vleuel van Vryburg, het sy span se enigste twee drieë in die eindstryd gedruk, terwyl BF van Staden, losskakel, die res van sy span se punte met sy skopskoen bygedra het. Van Staden het albei die drieë verdoel en ook vyf strafdoele tussen die pale deur gejaag.
Hans Strijdom het drie drieë gedruk waarvan al drie deur Conrad Engelbrecht, losskakel, verdoel is. Die skopskoen van Van Staden was egter die verskil tussen die twee spanne.
) Schweizer-Reneke se eerste span het verhinder dat die Koster-skool sy titel as kampioen van die klein skole behou. Die tuisspan het met 27-10 in die eindstryd koning gekraai.
Hanro Smit, Schweizer-losskakel, was sy span se uitstaande speler op die dag.
Van Zyl Roodt, agtsteman, Benjamin Maass, vaskopstut,
Jano Smith, skrumskakel,
Tshiamo Ntasi, slot, en Freddie Botha, heelagter, het almal deurslaggewende bydraes met hul vertonings gelewer.
Volgens Marco van Wyk, dié span se breier, was dit een van die span se beste vertonings dié seisoen.
) Alberton High het die eerste span geword om die Beeldtrofee vir middelskole omhoog te hou nadat hulle Belvedere met 22-15 in die eindstryd verslaan het.
Neville Haarhoff, die kam-
pioen se voorryman, het die wendrie laat in die wedstryd gedruk.
Belvedere het met die omdraaislag 15-10 voorgeloop.
 
 
 
 




 
  
  
  
  
  
  
  
  
 