Vossies en Pieties kan saam vir ‘n skouspel van plattelandse skolerugby sorg
 Die grootste skolerugbywedstryd wat vanjaar in Limpopo beslis sal word, sal reeds Saterdag in Tzaneen plaasvind.
Die grootste skolerugbywedstryd wat vanjaar in Limpopo beslis sal word, sal reeds Saterdag in Tzaneen plaasvind.
Die twee voorste skolespanne van Limpopo, Ben Vorster van Tzaneen en die Hoërskool Pietersburg van Polokwane, sal mekaar in ‘n vriendskaplike wedstryd pak om die seisoen mee af te skop. Dit sal die eerste keer sedert 2018 wees dat die twee spanne mekaar ontmoet.
Dit sal ook ‘n unieke wedstryd wees in die sin dat Ben Vorster die huidige kampioen van die Virsekerbeker se Plaat-afdeling is, terwyl die Pieties die kroon as kampioen van Afdeling 2 van die kompetisie is.
Die Vossies sal boonop volgende week op sy tuisveld ook teen die Virsekerbeker se kampioen van die Beker-afdeling, die Hoërskool Menlopark, te staan kom.
Ben Vorster het verlede jaar in die eindstryd van die Plaat-afdeling vir Eldoraigne as kampioen met ‘n naelskraapse sege van 37-36 onttroon. Pietersburg het in sy eindstryd vir die Ligbron Akademie van Ermelo met 23-20 die loef afgesteek om die kroon te dra.
Die Vossies het slegs vier spelers in sy span Kabello Kghohloane (vleuel), Nathan van den Heever (senter), Dean Ballantyne (flank) en Lehann Marais (losskakel) oor wat verlede jaar ook teen Eldoraigne in die eindstryd in aksie was. Die span moes wel verlede jaar sonder sy yster-kantman Renzo du Plessis klaarkom.
Du Plessis het verlede jaar die eindstryd weens sy betrokkenheid by die SA Skole A-span misgeloop. Die Pieties het nie ‘n enkele speler in sy beginspan wat verlede jaar in die eindstryd teen Ligbron uitgedraf het nie.
Dit is verblydend dat die twee spanne mekaar weer op die rugbyveld pak. Weens die toenemende druk op skole se sportkalenders en die feit dat skole deesdae in verskillende afdelings kompeteer, is dit verblydend om te sien dat ‘n jarelange interskole-tradisie weer sy terugkeer maak in Limpopo.
Die twee “aartsvyande” van Limpopo sal mekaar tydens die interskole op die rugbyveld, hokkie astro en netbalbaan die stryd aansê. Pietersburg vier volgende jaar se 100ste bestaansjaar en die Vossies sal dan na Polokwane vir die interskole reis.
Die spanne is:
Ben Vorster: 15 Kamogelo Kgohloane, 14 Kabello Kghohloane, 13 Nathan van den Heever, 12 Alexander Grid, 11 Ndzalama Twala, 10 Lehann Marais, 9 Eugene van den Heever, 8 Ryno Scheepers, 7 Renzo du Plessis, 6 Dean Ballantyne, 5 Dehan van Vuuren, 4 Marvoules Mashumbye, 3 Nicky Grobler, 2 Jaco Massyn, 1 Khutso Terwey.
Hoërskool Pietersburg: 15 Jeandré Slippers, 14 Marco Pratt, 13 Marcelle de Villiers, 12 Erik Strydom, 11 Juan Greyson, 10 Tiaan van den Heever, 9 Ruben Potgieter, 8 Wihan Pretorius, 7 Jandré van der Hyde, 6 Keanu Castelyn, 5 Kadi Geerkens, 4 Owen Faber, 3 Johan Horn, 2 Adriaan Halgreen, 1 Dehan van der Merwe.
Skeidsregter: Zander Kubannek.
Watch the matches live on VossieTV via digitv.co.za:
|  | 12:45 | o.19A | Ben Vorster vs Pietersburg | https://digitv.co.za/#/video/19043/19043/live | 
| 11:30 | o.16A | Ben Vorster vs Pietersburg | https://digitv.co.za/#/video/19043/19043/live | |
| 10:15 | o.19B | Ben Vorster vs Pietersburg | https://digitv.co.za/#/video/19043/19043/live | |
| 09:00 | o.15A | Ben Vorster vs Pietersburg | https://digitv.co.za/#/video/19043/19043/live | |
| 08:00 | o.14A | Ben Vorster vs Pietersburg | https://digitv.co.za/#/video/19043/19043/live | 
[powr-comments id=”bac93b76_1583407032970″]
 
 
 
 




 
  
  
  
  
  
  
  
  
 