SuperSport Schools Plus

Voortrekker en Welkom Gimnasium sal dit uitspook vir Griffon-titel

By Willem Louw , in Rugby | News , at 2023-08-05

FOTO: Marnus Prinsloo

Voortrekker kon in ‘n titaniese halfeindstryd teen die verdedigende kampioene, Hoërskool Trio, seëvier met 27-24 vir die geleentheid om Welkom Gimnasium in vanjaar se eindstryd aan te durf.

Die groot Cravenweek vasskopstut van die Trekkers, Cecil Parsons, was weereens ‘n breker vir sy span en kon twee drieë aanteken in hul riller teen die span wat hulle laas jaar in die eindstryd met 21-14 kon verslaan.

Hoërskool Trio beleef ‘n moeilike tweede seisoen, nadat hulle in 2022 in hul debuutjaar alle verwagtings oorskrei het deur om die liga te wen, maar hulle lyk asof hulle hul vorm na die vakansie gevind het, en kon ‘n sterk vertoning teen Jim Fouché lewer laas naweek om die Bloemfonteiners met 65-21 kaf te draf, maar die Trekkers was ‘n stappie te vêr die jaar.

Trio het wel daarin geslaag om te verbeter op hul 24-18 nederlaag van vroeër die seisoen toe hulle ook teen Voortrekker verloor het.

Welkom Gimnasium is sonder twyfel die pasaangeërs in die streek hierdie seisoen, en kon hul algehele dominansie beklemtoom met nog ‘n groot sege deur om vir Witteberg met 58-15 pakslae te gee.

Die blitsige Gimmie agsteman, Ethan Jones, was ook twee keer agter die doellyn in daardie wedstyd en hul ster-losskakel, Ronaldo Kiewiet, kon tot sy astronomiese puntetelling hierdie seisoen byvoeg met nog vyf doelskoppe en sy tweede suksesvolle skepskoppie na die vakansie-periode.

Kiewiet draai nog heel jaar koppe met sy pragdrieë, maar het klaarblyklik nou nog ‘n gevaarpunt tot sy spel ontwikkel met die skepskoppies wat hy begin inoefen. Hy is voorwaar ‘n opwindende jong speler om dop te hou vir die toekoms.

Witteberg se agsteman, Daniel Meintjies, en skrumskakel, Dries Stemmet, is nog heel jaar twee steunpilare vir die span van Bethlehem, en kon albei weer bydra. Meintjies het ‘n drie gedruk en Stemmet het ‘n doelskop en ‘n strafdoel oorgesit. Hul ander punte was aangeteken deur die groot slot, Pieter Nel, maar dit was ongelukig nie genoeg om die opwindende Welkom Gim te timmer nie.

Toe die Gimmies en Voortrekker mekaar vroeër in die seisoen ontmoet het was Welkom bobaas met 43-8. Die Trekkers sal dus hul beste moet lewer vir ‘n kans om die dinamiese groep uit Welkom te pootjie in die eindstryd.

Puntemakers:

Voortrekker 27 – Drieë: Cecil Parsons (2), Karabelo Chaka, Kaneng Komane, Dawie Fourie. Doelskop: Alexander Maree. Hoërskool Trio 24 – Drieë: JD Kirstein, BJ Pelser, JP Botha, Ewald Tolmay. Doelskoppe: Byron Biennas (2).

Welkom Gimnasium 58 (29) – Drieë: Ethan Jones (2), Tristan Appollis, Naylan Goeda, Julian Samuels, Teschan Meas, Mojalefa Mathoka, Dante Smith, Lawrenze Lamiene. Doelskoppe: Ronaldo Kiewiet (5). Skepskop: Kiewiet. Witteberg 15 (10) – Drieë: Daniel Meintjies, Pieter Nel. Doelskop: Dries Stemmet. Strafdoel: Stemmet.

Ander uitslae:

o.19B – Welkom Gimnasium II 27, Voortrekker II 3; Hentie Cilliers II 19, Hoërsskool Trio II 3.

o.16 – Welkom Gimnasium 5, Voortrekker 3; Hentie Cilliers 16, Hoërskool Trio 12.

o.15 – Voortrekker 61, Goudveld 24; Witteberg 15, Hoërskool Trio 8.

o.14 – Voortrekker 19, Welkom Gimnasium 17; Hoërskool Trio 18, Witteberg 15.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.