SuperSport Schools Plus

Vonke tussen Grey-kollege en Paarl Gim gaan volgende jaar vroeg reeds spat

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-16 Tags: , ,

Die 2022-seisoen is nog nie eers verby nie en dit is duidelik dat volgende jaar sommer vroeg uit die blokke gaan wees.

Paarl Gimnasium en Grey-kollege sal mekaar reeds vroeg in volgende jaar tydens die NMI Toyota Menlyn Noord/Suid-Rugbytoernooi in Pretoria die stryd aansê. Die twee spanne het mekaar nog nooit op die rugbyfees gepak nie.

Paarl Gimnasium het Grey in hul twee vorige kragmetings verslaan. Gim was met 22-17 vroeër vanjaar tydens Wildeklawer in Kimberley baas, terwyl hy ook verlede jaar tydens die Monnas Eeufeestoernooi in Krugersdorp die span van die Rosestad met 18-16 getroef het.

Van die twee spanne se laaste agt ontmoetings was ses daarvan tydens Wildeklawer. Hierdie kragmeting was gewoonlik een van die hoogtepunte indien nie dié hoogtepunt van die gesogte toernooi in die Diamantstad nie.

Die organiseerder van Noord/Suid, Pieter Rossouw, is ook die hoofafrigter van Paarl Gimnasium se eerstespan. Die feit dat die voormalige Bok-vleuel so vroeg in die jaar vir Grey wil ontmoet kan daarop dui dat Gimmies weer volgende jaar ‘n gedugte span in die veld sal stoot.

Volgende jaar se Noord/Suid-toernooi sal ook ‘n sterker Piesang-geur hê met twee spanne vanuit KwaZulu-Natal, Maritzburg College en Durban High School, wat in aksie sal wees.

Die span vanuit Pietermaritzburg se eerste wedstryd sal teen Noordheuwel van Krugersdorp wees. Grey-kollege sal in sy ander kragmeting vir die eerste keer sedert 2017 vir Maritzburg College ontmoet.

Durban High School het self ‘n tawwe twee wedstryde met die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria en die Hoërskool Nelspruit wat op hom wag. Affies sal in die ander wedstryd wat beloof om een van die hoogtepunte van die toernooi te wees teen die Hoër Jongenskool Paarl sake uitspook.

Boishaai en Affies se wedstryde oor die laaste dekade het almal vir heelwat opwinding gesorg.

Die ontmoeting tussen Garsfontein en Stellenberg sal ook interresant wees. Die twee skole is die nuwelinge onder die groot honde in Suid-Afrikaanse skolerugby. Albei het nou al oor meer as ‘n dekade bewys dat hul rugbyprogramme volhoubaar is.

Die organiseerders het dit ook nie maklik vir King Edward VII gemaak wat slegs een wedstryd op die toernooi sal speel nie. KES sal teen Boishaai in sy enigste wedstryd te staan kom. Die Red Army sal die keer hopelik nie weer die skrik op die lyf gejaag word soos destyds tydens sy eerste wedstryd van Wildeklawer waar hy teen Paul Roos (67-0) te staan moes kom nie.

Paarl Gimnasium kom in sy tweede wedstryd teen Jeppe High School for Boys’ te staan wat soos KES ook net in een wedstryd in aksie sal wees.

Die bepalings is: 

Eerste Wedstryde

Affies vs Durban High School
EG Jansen vs Welkom Gimnasium
Garsfontein vs Stellenberg
Grey-kollege vs Paarl Gimnasium
Oakdale Landbou vs Helpmekaar
Hoër Jongenskool Paarl vs King Edward VII
Outeniqua vs Menlopark
Paul Roos Gimnasium vs Monument
Glenwood vs Hoërskool Nelspruit
Maritzburg College vs Noordheuwel
Hoërskool Durbanville vs Pretoria Boys’ High
Waterkloof vs HTS Drostdy

Tweede Wedstryde

Affies vs Hoër Jongenskool Paarl
EG Jansen vs HTS Drostdy
Garsfontein vs Oakdale Landbou
Grey College vs Maritzburg College
Helpmekaar vs Stellenberg
Paarl Gimnasium vs Jeppe
Menlopark vs Welkom Gimnasium
Monument vs Outeniqua
Hoërskool Nelspruit vs Durban High School
Noordheuwel vs Durbanville
Paul Roos Gimnasium vs Pretoria Boys’ High
Glenwood vs Waterkloof

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.