SuperSport Schools News

Volkies se Snyder drop Oos-Moot ala Jannie de Beer uit kragmeting

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-03-13

NewsG Dean Snyders Potch VolkiesDie Hoër Volkskool Potchefstroom se losskakel, Dean Snyder, was op sy stukke in sy span se sege van 21-14 oor Oos-Moot. Snyder het drie doelskoppe ala Jannie de Beer binne tien minute in die tweede helfte oorgeklits om sy span tot ‘n skitterende wegsege te help. 

Dit was Oos-Moot se eerste wedstryd van die seisoen en sy afrigters Christiaan Gouws en Tjaart Naudé sou met die telling van 7-5 in hul guns teen rustyd nie te bekommerd gewees het nie. Snyder het egter met sy skopskoen in die tweede helfte vir ‘n beroemde sege in die NWU Prestige-reeks vir sy span gesorg. 

Snyder het buiten sy drie skepdoele ook ‘n draai agter die doellyn gaan maak asook een van sy span se twee drieë verdoel. 

Potch Volkies het wel al vanjaar in ‘n vriendskaplike wedstryd teen Heidelberg Volkskool in ‘n stryd van die Volkies kragte gemeet. Die span van Potch was met 15-0 in die kragmeting baas. Oos-Moot het in sy geledere op slot vir Rudolf Coetzee gehad wat die seun van die voormalige Springbok-haker, Danie Coetzee, is. 

Coetzee sr. is ook by Oos-Moot as kondisionerings-afrigter betrokke. Die verloorspan se flank Duvan du Plessis was uitstekend by die afbreekpunte en het deurgans ‘n hoë werksverrigting getoon. Sy flankmaat en kaptein, Regardt Jordaan, kan ook tevrede met sy vertoning voel. Agterlangs het Tiaan Bornman (heelagter) en Carlo Janse van Rensburg (buitesenter) ook goeie vertonings gelewer. 

Die Hoërskool Zwartkop se haker en kaptein, SJ Bezuidenhout, kan sonder twyfel vanjaar ‘n sterk aanspraakmaker op ‘n plek in een van die Blou Bulle se verteenwoordigende spanne wees indien hy op sy spelpeil kan voortbou. Die woelige Bezuidenhout was met ‘n driekuns aan drieë aan die voorpunt van sy span se klinkende sege van 38-8 oor Oosterlig.

Dit was egter nie net eenrigtingverkeer nie. Die Zwarries kon teen rustyd slegs ‘n voorsprong van 5-3 geniet. Oosterlig se flank Damion Damoney kan sy kop omhoog hou na ‘n goeie vertoning in die los sowel as op verdediging. 

Die Hoërskool Rustenburg is sonder twyfel een van die sterk aanspraakmakers om die titel as kampioen te verower. Rusties het Saterdag vir Noordheuwel van Krugersdorp met 26-20 in hul Groep A wedstryd verslaan. 

Lichtenburg het sy aanslag op die titel ook met ‘n goeie sege van 31-24 oor Marais Viljoen van Alberton afgeskop.

Die Liggies se Willem Faurie (slot) en Dries Scheepers (flank) het uitstaande vertonings in die oorwinning gelewer. Dit was veral die twee slotte, Faurie en Rudie Venter was met hul fisieke spel gesorg het dat Liggies voorlangs die oorhand gehad het.

Agterlangs het die losskakel, Erich Snyman, asook die binnesenter, Meyer Olivier, ook meer as hul kant gebring. 

Wesvalia van Klerksdorp het ‘n sege van 14-10 oor Hugenote van Springs op die einde deurgetrek. Die wenspan se vaskopstut, Koos Kleynhans, het behoorlik in die vastelos gewoel.  

Die Anker van Brakpan is ook nie ‘n maklike span om vanjaar te klop nie. Die span het vir Hoërskool Middelburg met 20-5 in hul kragmeting getroef. Sy skrumskakel, Denzel van Rensburg, is vir sy spel as Speler van die Wedstryd aangewys.

Voorlangs het die twee flanke, Christiaan van Schalkwyk en Tegan Baatjes, onderskeidelik by die afbreekpunte en met die bal in die hand belangrike bydraes tot die sege gelewer.

Heidelberg Volkskool het vir Potchefstroom Gimnasium met 28-10 die loef afgesteek. Die span van Heidelberg se losskakel, Attie Hanekom, het met sy besluitneming agterlangs beindruk. Die heelagter, Joshua Booysen, verdien ook ‘n klop op die skouer vir sy vertoning. 

Voorlangs het die twee slotte, Dandré du Plessis en Wian Haasbroek, die pap behoorlik dik aangemaak. 

Puntemakers: 

Hoërskool Rustenburg 26 – Drieë:  Noordheuwel 20 –

Wesvalia 14 – Drieë: Heinrich Janse van Vuuren, Grant Coetzee. Doelskoppe: Coetzee (2). Hugenote 12.

Lichtenburg 31 () – Drieë: Ben Katake, Dries Scheepers, Luan du Plessis. Doelskoppe: Erich Snyman (2). Strafdoele: Snyman (4). Marais Viljoen 24 () – Drieë: Mark Harrison (2), Lohan van Schalkwyk, Kyle Middleton. Doelskoppe: Franco Horn, Tyler Woodruff.

Potchefstroom Volkskool 21 (5) – Drieë: Dean Snyder, Wilbur Kok. Doelskop: Snyder. Skepdoele: Snyders (3). Oos-Moot 14 (7) – Drieë: Tiaan Bornman, Gideon van Rooyen. Doelskoppe: Carlo Janse van Rensburg.

Zwartkop 38 (5) – Drieë: SJ Bezuidenhout (3), Ian van der Westhuizen, Shelton Ferreira, Nathan van Aswegen. Doelskoppe: Henlu Roos (4). Oosterlig 8 (3) – Drie: Armand Wolmarans. Strafdoel: Cayden Serfontein.

Heidelberg Volkskool 28 – Drieë: Rhys Thompson, Damien van der Lene, Jeandré Kleynhans, AJ Engelbrecht. Doelskoppe: Attie Hanekom (4). Potchefstroom Gimnasium 10.

Die Anker 20 – Drieë: Dihan de Villiers, Gunter Jacobs. Doelskoppe: Jacobs (2). Strafdoele: Jacobs (2). Hoërskool Middelburg 5.

Montana 47 – Drieë: Jahnno Lehman (2), Marco van Baalen, Claude Palm, Stephan Havenga, Vian Kelly, Jannie Kruger. Doelskoppe: Kruger (6). Jeugland 3 – Strafdoel: 

Ander spanne: 

o.16: Noordheuwel 27, Rustenburg 17; Wesvalia 31, Hugenote 0; Lichtenburg 10, Marais Viljoen 7; Potch Volkies 15, Oos-Moot 12; Zwartkop 36, Oosterlig 16; Potch Gimmies 28, Heidelberg Volkies 21; Die Anker 27, Middelburg 10; Jeugland 19, Montana 19.

o.15: Noordheuwel 33, Rustenburg 12; Hugenote 13, Wesvalia 7; Marais Viljoen 29, Lichtenburg 19; Potch Volkies 10, Oos-Moot 3; Zwartkop 14, Oosterlig 5; Heidelberg 29, Potch Gimmies 5; Middelburg 47, Die Anker 7; Montana 31, Jeugland 10.

o.14: Rustenburg 16, Noordheuwel 15; Hugenote 24, Wesvalia 14; Marais Viljoen 47, Lichtenburg 0 ; Potch Volkies 26, Oos-Moot 7; Zwartkop 54, Oosterlig 11; Heidelberg Volkies 17, Potch Gimmies 5; Middelburg 10, Die Anker 6; Jeugland 5, Montana 0.

[powr-comments id=”ade21cc6_1647160185830″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.