Volkies onttroon Gimmies as Bowl-koning


Potchefstroom Volkskool, geskiedkundig een van die Noordvaal se meer suksesvolle spanne oor die jare, het Saterdagmiddag daarin geslaag om ‘n onoorwonne Potchefstroom Gimnasium in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-eindstryd te onttroon.
Herleef al die SDC Noordvaal Bowl-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Volkies het in die doodsnikke van die eindstryd die oorwinning met 22-17 beklink om as die nuwe kampioen van dié afdeling gekroon te word. Dit was Volkies se eerste Noordvaal-titel sedert 2011, wat ‘n titeldroogte van 14 jaar verbreek het.
Dit was boonop die Gimmies se eerste nederlaag in vanjaar se Bowl-reeks.
Dit was heel gepas dat die Volkies se staatmaker-slot, Joshua van der Westhuizen, vir die wendrie oorgeduik het. Van der Westhuizen was deur die loop van die seisoen ‘n reuse aanwins vir die span van die suide van Potchefstroom, op sowel die aanval as verdediging, terwyl sy springwerk in die lynstane ook van onskatbare waarde was.
Hoewel Van der Westhuizen die held van die oomblik was, het skrumskakel, Juhan Geldenhuys, die grootste aandeel in die Volkies se sege gehad, met vyf reuse strafdoele, asook ‘n doelskop, om 17 van sy span se 22 punte aan te teken.
Vir die Gimmies het Elrich Bosch, met wat later gelyk het soos ‘n erg seer knie, alles in die stryd gewerp. Die tuisspan se binnesenter het, nes in verlede jaar se eindstryd, oorgebars om sy span tot kort voor die eindfluitjie die voortou te gee. Loskopstut, Jeandré Barends, was ook weer uitstekend, maar dit was uiteindelik nie genoeg om vir die Volkies te troef nie.
Merensky Landbou Akademie se o.16-groep het dit twee uit twee gemaak deur vir die tweede agtereenvolgende jaar met die Noordvaal-titel weg te stap, nadat hy vir Hoërskool Eldoraigne naelskraaps met 31-29 verslaan het.
Dit was nietemin ‘n bittersoet einde aan die seisoen vir die Eldos. Ten spyte van dié nederlaag, het die span se deelname, sowel as die o.15-span se Noordvaal-titel, beteken dat die Eldos volgende jaar in die Skild-afdeling sal uitdraf. Die Eldo’s se o.15’s het met Hoërskool Ermelo afgereken, met 25-19, in ‘n aanskoulike eindstryd.
Die Gimmies se kleintjies het aan die einde van 50 minute net-net genoeg gedoen om die o.14-trofee te verower. Juvan Botes, seun van die voormalige Haai-flank, Jacques Botes, se doelskop was uiteindelik die verskil in die naelbytsege van 7-5 oor Hoërskool Jeugland, wat sy plek in dié afdeling behou het.
Puntemakers:
Potchefstroom Volkskool 22 (9) – Drie: Joshua van der Westhuizen. Doelskop: Juhan Geldenhuys. Strafdoele: Geldenhuys (5). Potchefstroom Gimnasium 17 (7) – Drieë: Jeandré Barends, Elrich Bosch. Doelskop: Zandré Da Silva. Strafdoel: Da Silva.
Ander spanne:
o.16: Merensky Landbou Akademie 31, Eldoraigne 29.
o.15: Eldoraigne 25, Hoërskool Ermelo 19.
o.14: Potchefstroom Gimnasium 7, Jeugland 5.
Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




