Volkies jag eerste sege sedert 2022 in Potch-derby


Potchefstroom Gimnasium betree die jaarlikse Potchefstroom-derby teen Potchefstroom Volkskool Saterdagmiddag op die Mooivallei-sportgronde as gunsteling.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Vir die Volkies bied dié groot dag nietemin ‘n gulde geleentheid om vir die eerste keer sedert hul sege van 27-10 in 2022 weer oorwinning te smaak teen hul buurskool.
Die Gimmies se jong span streef op hul beurt na ‘n driekuns van seges in die derby, ná ‘n tuissege in 2023 (26-13) en indrukwekkende wegoorwinning (30-13) in verlede jaar se kragmeting in die Volkies se agterplaas. Gimmies het hierdie keer nie minder nie as 15 Graad 11’s in hul eerstespan-groep van 23.
Om verder petrol op die vuur te gooi, maak Saterdag se die stryd ook deel uit van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling. Hoewel Gimmies die verdedigende kampioen is, is Volkies vanjaar ook ‘n sterk aanspraakmaker op die titel.
Gimmies het vandeesweek hul A-veld vernoem na Piet Malan, ter ere van die diep spore wat dié voormalige Springbok-flank as oud-Gimmie getrap het. Dit maak van Saterdag se wedstryd ‘n geskiedkundige gebeurtenis wat bydra tot die drama.
Malan, hoofseun en eerstespan-kaptein in 1937, het in die onoorwonne toetsreeks teen Fred Allen se All Blacks in 1949 Gimmies se eerste van vier Springbokke geword, en later ‘n beduidende rol gespeel in die totstandkoming van die jaarlikse Cravenweek-toernooi vir hoërskole. Gimmies se ander Bokke is Johan van der Schyff (geen toetse), Theo van Rensburg en Gerhard Steenekamp.
Albei spanne is slaggereed vir die massiewe stryd wat hierdie Saterdag voorlê. Die Volkies, aangevoer deur skrumskakel, Juhan Geldenhuys, het vanjaar reeds ‘n paar wenkbroue laat lig met uitmuntende aanvalsrugby. Dit is vernaam heelagter, Arno Nel, en regtervleuel, Lethabo Riet, wat ‘n taamlike bedreiging agterlangs inhou.
Kenmerkend van ‘n derby, sal die vonke ook spat in die loopgraafoorlogvoering tussen die twee pakke. Die Gimmies se Cravenweek-vaskopstut, Matthew Redelinghuys, en sy voorrymaat, Juandré Barends, lek hul lippe af vir die skrumstryd wat wag, terwyl agsteman, De Wet Grobler, se tweestryd met die Volkies se tweede in bevel, steelkantflank, Marlu du Preez, vir hope aksie in die los kan sorg.
Die spanne:
Potchefstroom Gimnasium t. Potchefstroom Volkskool om 14:00 in Potchefstroom:
Potchefstroom Gimnasium: 15 Jandré Oosthuizen, 14 Rea Moloalosi, 13 Irumeleng Pheto, 12 Elrich Bosch, 11 Chris van Zijl, 10 Zandré Da Silva, 9 MJ Viljoen, 8 De Wet Gorbler, 7 Reuel Potgieter, 6 Damian Zwahlen, 5 Rynel Rautenbach, 4 Dirk Stear, 3 Matthew Redelinghuys, 2 Kobus Grobbelaar, 1 Juandré Barends.
Potchefstroom Volkskool: 15 Arno Nel, 14 Lethabo Riet, 13 Hennie Pretorius, 12 Rivel Samuel, 11 Juan Fourie, 10 Lourenzo Louw, 9 Juhan Geldenhuys, 8 Johannes Lombard, 7 Marlu du Preez, 6 Wian Victor, 5 Stef Schoeman, 4 Joshua van der Westhuizen, 3 De Waal Coetzer, 2 Louis Fourie, 1 AB Brink.
Ander spanne:
Piet Malan-veld (A-veld):
12:10 – o.16
11:00 – Tweede spanne
10:00 – o.15
09:00 – o.14
08:00 – Derde spanne