VKB-week skop vandag in Reitz vir 18de keer af
REITZ. – Daar is nie veel vooraf te kies tussen die voorste spanne op vanjaar se 18de VKB-week hier nie. Die sentrale streek se aanslag sal na verwagting deur die Vrystaatse Kiewiete gelei word.
Die Kiewiete het egter gesweet om vir Sandveld en die Oos-Vrystaat in hulle opwarmingswedstryde te verslaan. Die Kiewiete sal reeds vandag behoorlik deur die Lynx getoets word.
Die gasheer, Oos-Vrystaat, kom in die hoofwedstryd van die eerste dag teen Suid-Natal te staan. Sandveld pak die Rooikatte in sy eerste stryd op die toernooi.
Daar word vanjaar weer ’n sogenaamde Suid-Afrikaanse platteland-span na afloop van die week gekies wat later vanjaar deur Italië sal toer.
Die Valke is in 2013 tot kampioen gekroon, maar is verlede jaar onttroon deur Noord-Natal se Lammergeiers, wat die Valke met 17-3 in die eindstryd in die eindstryd verslaan het.
Die verdedigende kampioen behoort vanjaar weer een van die aanspraakmakers op dié titel te wees en begin sy aanslag teen Suid-Vrystaat. Daar is egter vanjaar min te kies tussen die meeste van die spanne op die toernooi.
Dit was gister heel gepas dat die Cheetahs se haker, Elandré Hugget, die gasspreker by die opening van die toernooi was. Hugget het in 2009 vir die Lammergeiers uitgedraf. Die Springbokke Juan Smith (Vrystaatse Kiewiete) en Deon Stegmann (Vrystaatse Arende) was ook in die week in aksie.
Die Lynx se Mpo Moiloa is die swaarste speler wat op vanjaar se toernooi in aksie sal wees. Hy laat die skaal op ’n allemintige 142 kg kreun. Hy staan ook 1.91 m in sy sokkies. Die Lynx is ’n span wat uit skole vanuit die Leeus-streek saamgestel word.
Die Lynx se slot, Eben Vorster, het verlede jaar al die verteenwoordigende span gehaal. Die Rooikatte (Pretoria Privaatskole) se loskopstut, Bruce McCarthy, behoort indien hy goed op die week vertoon ook weer die span te haal.
Vandag se bepalings:
09:00 – Rooikatte t. Sandveld; 10:20 – Lynx t. Vrystaat Kiewiete; 11:40 – Valke t. Luiperds; 13:00 – Noord-Natal t. Suid-Vrystaat; 14:20 – Oos-Vrystaat t. Suid-Natal.





