Virseker maak terugkeer as titelborg van grootste skolerugby-kompetisie ter wêreld
Na ‘n afwesigheid van drie jaar sal die versekeringsmaatskappy, Virseker, weer die titelborg van die grootste skolerugby-kompetisie ter wêreld wees.
Die Noordvaalbeker, wat ook onder die oudste skole-toernooie op die aardbôl tel, sal voortaan as die Virseker Noordvaal Cup of Virseker Noordvaalbeker bekend staan. Die toernooi het in 1920 ontstaan en het sedertdien vele baadjies gedra.
Die toernooi het voorheen ook as die Transvaalbeker (1920-21), AG Robertsonbeker (1922-1933), Administrateursbeker (1934-1981), Direkteurstrofee (1982-1994), Beeldtrofee (1994-2015), Virseker-Beeldtrofee (2016), Virsekerbeker (2017-2021), Noordvaaltrofee (2022) en SDC Noordvaal Cup (2023-25).
Virseker was dus voorheen vir ses jaar die titelborg. Die versekeringsmaatskappy se nuwe kontrak met die Noordvaal Skolerugby-vereniging (NVSRV) sal tot en met die einde van die 2028-seisoen loop.
Die kompetisie het sedert Virseker laas betrokke was reuse tree gegee op kommersiële gebied. Die bemarkingsmaatskappy, Provantage, sien na die kompetisie se kommersiële regte om.
Boonop met die ontstaan van SuperSport Schools in 2021 het die skolerugbylandskap reuse tree vorentoe gegee wat behels die sigbaarheid asook die bemarkingsgeleenthede wat beskikbaar is. Dit het ook aan die spelers ‘n platform gegee om hul talente op die rugbyveld aan ‘n wyer gehoor ten toon te stel.
Daar sal vanjaar weer regstreekse dekking van die toernooi op SuperSport Schools se toepassings aan meeste van die wedstryde gegee word, terwyl daar ook elke Saterdag tydens dié toernooi ‘n wedstryd op DStv Kanaal 216 uitgesaai sal word.
Die Virseker Noordvaalbeker word oor vyf groepe beslis met die Hoërskool Garsfontein van Pretoria wat die afgelope drie jaar as kampioen van die Beker-afdeling gekroon is. Meer as 200 skole neem jaarliks aan dié kompetisie deel.
Die ander verdedigende kampioene in Groep 1 is HTS Middelburg (Plaat-afdeling), Montana (Skild-afdeling) en Potchefstroom Volkskool (Bowl-afdeling). Vanjaar se eindstryde van die vier afdelings sal op 22 Augustus plaasvind.
Die NVSRV het ook reeds ‘n vergrootte Bowl-afdeling vir 2026 aangekondig.
Dié afdeling sal vanjaar in twee groepe, die Oostelike en die Westelike been, verdeel word. Elke been sal uit ses spanne bestaan wat mekaar die stryd aansê. Die top-twee spanne van elke been sal mekaar, oorkruis, in die halfeindronde pak, waarna ‘n algehele wenner in die eindstryd gekroon sal word.
Dit bied ook die geleentheid aan drie nuwelinge, vanuit Afdeling 2, om hul strukture op ‘n hoër vlak te toets. Hoërskool Brandwag van Benoni is, saam met Hoërskool Die Anker en Hoërskool Hugenote van Springs, die nuwe gesigte in die Oostelike been. Die Anker en Hugenote is albei aan die einde van vanjaar se seisoen na die Bowl gerelegeer.
In die Westelike been, is Hoërskool Centurion en ‘n gevaarlike Midstream College die nuwelinge in ‘n uiters mededingende groep. Die kampioen van vanjaar se reeks, Potchefstroom Volkskool, asook die naaswenner, Potchefstroom Gimnasium, is ook albei hier in aksie.
In Groep 2 het Midstream College die kroon gedra, maar sal vanjaar in die vergrootte Bowl-afdeling van Groep 1 in aksie wees. In Groep 3 was Hoërskool Vryburg die kampioen, terwyl Carletonville met die Groep 4-titel weggestap het.
In Groep 5 se twee afdelings het die Hoërskool Vryburger en Jabulani Secondary onderskeidelik die trofee omhoog gehou.



