Vier spelers in stryd om Papier se nr. 9-trui
Garsfontein het ‘n goue twee jaar in 2015 en 2016 beleef deur albei jare as kampioen van die Beeldftrofee vir Makroskole gekroon te word. Die skool in die Ooste van Pretoria se eerstespan sal vanjaar hard moet werk indien hy sy onlangse voorgangers wil nadoen.
Garsies het vanjaar nie meer ‘n Embrose Papier in sy geledere wat wedstryde in ‘n oogwink in sy span se guns kan swaai nie. Die stryd om Papier se nr 9-trui is egter hewig met vier spelers wat vanjaar die trui met eer kan dra. Verlede jaar se tweede span skrumskakel, Divan de Clerk, is vanjaar in matriek en sal ‘n sterk aanspraakmaker wees om die trui oor sy kop te trek.
Boonop het Garsfontein twee aanwinste in Keagan Johannes (Swartland) en JJ van Zyl (Diamantveld) wat besluit het om hul skoolloopbane in Pretoria te kom voortsit. Johannes het verlede jaar die Boland se Akademie-span verteenwoordig. Raynard van Niekerk, wat een van Garsies se o.16-skrumskakels verlede jaar was, sal ook sy oog op die trui he.
Die Blou Bulle se Grant Khomo-skrumskakel (o.16) van verlede jaar, Jurich Claassens, is ook ‘n leerling van Garsfontein en sal vanjaar weer vir die o.16-span die oond skoonmaak. Garsies skop Saterdag hul seisoen teen Kemptonpark in ‘n vriendskaplike wedstryd af.
Garsfontein het boonop ook die flank Ryno Pieterse (Blou Bulle) en die heelagter/senter Abner van Reenen (Paarl Boys’ High) verloor. Albei het verlede jaar die SA Skole A-span verteenwoordig. Albei is vanjaar o.19 en sal dus nie weer op die Cravenweek in aksie kan wees nie.
| Garsfontein – 2017 | |
| 4 Maart | vs. Kemptonpark (W) |
| 7 Maart | vs. Diamantveld (Loftus) |
| 11 Maart | vs. Rustenburg (W) |
| 18 Maart | vs. EG Jansen (W) |
| 25 Maart | vs. Tuks Kwarteindstryde |
| 1 April | vs. Paarl Gimnasium (N/Suid) |
| 4 April | vs. Boland Landbou (N/Suid) |
| 22 April | vs. Tuks Halfeindstryde |
| 29 April | vs. Glenwood (WK) |
| 1 Mei | vs. Oakdale Landbou (WK) |
| 6 Mei | vs. Tuks Eindstryde |
| 27 Mei | vs. Menlopark (T) |
Pieterse, die halfbroer van die Afrikaanse sangers Bobby en Karlien van Jaarsveld, het besluit om nie sy matriek by Garsies se voltooi nie en liewer reeds sy rugbyloopbaan by die Blou Bulle te begin. Van Reenen is deur die Westelike Provinsie gekontrakteer en sal sy matriek by Boishaai voltooi.
Garsfontein se nuwe hoofafrigter, Johan du Plessis, sal sy werk uitgeknip he. Du Plessis het Garsies saam met Tjaart van der Walt die afgelope twee jaar tot Beeldtrofee-kampioene gebrei. Van der Walt sal vanjaar by Monument in Krugersdorp die sweep klap.
Du Plessis sal die span saam met Burger Lindeque afrig. Lindeque het verlede jaar van Waterkloof na Garsies geskuif. Hendre Marnitz sal die verdediging hanteer, terwyl Johan van Rooyen vir die span se kondisionering verantwoordelik is. Die voormalige Cheetah-kaptein, Ryno van der Merwe, is die Turkoois Bere direkteur van rugby. Gustav Theunissen is die Bere se spanbestuurder.
Hoewel dit dalk ‘n seisoen vir bou vir Du Plessis en sy bestuurspan is, sal hy steeds op die dienste van CJ Steinhobel (haker/stut), Jordan van Dyk (slot), Carl du Plessis (flank) en Wesley Thompson (senter) kan staatmaak. Boonop het Ettienne Terblanche (Glenwood) en Ruben Roodt (EG Jansen) besluit om terug te keer na Garsies na hul in graad agt hul hoërskoolloopbane hier begin het.
Nog ‘n feit waaroor Du Plessis sal glimlag is die feit dat die skool se tweede span verlede jaar se Tuks-reeks se kampioene was en ook die Virseker Beeldtrofee onoorwonne afgesluit het.
Garsies se moeilikste wedstryd wat op hom sover vanjaar wag is sy herontmoeting met Paarl Gimnasium op die eerste dag van die Noord/Suid-toernooi. Garsies het vir ‘n opskudding verlede jaar gesorg met die twee skole se eerste ontmoeting toe hulle met 15-13 as oorwinnaars van die veld gestap het.
Die Bere sal vanjaar weer op die Wildeklawer-toernooi in Kimberley in aksie wees met stryde teen Glenwood van Durban en Oakdale Landbou wat op hulle wag. Buiten die wedstryd teen Paarl Gimnasium behoort die wedstryde teen EG Jansen in die Tuks-reeks en die Blou Bulle Makroskole-wedstryd teen Menlopark ook reuse toetse vir Garsies te wees.




