Vier perde in die resies om as kampioen van die NWU Prestige-reeks gekroon te word
Die Hoërskool Oos-Moot se rugbyspan is vinnig besig om sy ritme in die NWU Prestige-reeks te vind. Die span het sy plek in die halfeindronde van die kompetisie met ‘n sege van 43-24 oor die Hoërskool Zwartkop bespreek.
Oos-Moot sal nou in die halfeindronde teen die Hoërskool Middelburg te staan kom. Die Middies het sy plek met ‘n sege van 22-17 in ‘n klipharde tweestryd oor Hoërskool Rustenburg verseker. Die halfeindrondes van die reeks vind more op Rustenburg plaas.
In die ander halfeindstryd sal Noordheuwel en Lichtenburg teen mekaar sake uitspook. Die twee spanne het mekaar die vorige paar reekse in die eindstryd eers ontmoet.
Die Nories het ‘n goeie sege van 21-10 in die kwarteindronde oor Die Anker van Brakpan behaal, terwyl Lichtenburg ‘n naelskraapse sege van 18-17 oor Heidelberg Volkskool deurgetrek het.
Oos-Moot se Richardo Visser (agtsteman) en Regardt Jordaan (flank) het in die vastelos teen Zwarries gewoel. Visser behoort in die halfeindronde vir Middelburg ook hoofbrekens te besorg.
Agterlangs het die heelagter, Tiaan Bornman, ook ‘n goeie dag op kantoor teen Zwartkop beleef. Die slot Rudolph Coetzee kan ook tevrede met sy vertoning in die kwarteindstryd voel.
Die Hoërskool Middelburg se agterhoede is vuurwarm. Sy heelagter, Simitha Maseko, asook die buitesenter, Grant de Jager, het vir Rustenburg die grootste probleme besorg. Dit is natuurlik buiten die skeidsregter wat 31 keer sy arm in die lug vir strafskop teen Rusties opgesteek het.
Vir Rusties was PJ Engelbrecht uitstaande. Hy het ‘n hele paar sterk lopies ingekry en amper elke keer etlike meters veld vir sy span gewen.
Nories is vanjaar ‘n gedugte span en met ‘n paar hardebaarde voorlangs en ‘n opwindende agterhoede met die skakelpaar, JT Kapank en Coen-Lee Koekman, aan die spits.
Die heelagter, Divan Spangenberg, het agterlangs ook gewys dat hy gemaklik is om ‘n hele paar posisies in die agterlyn te speel. Voorlangs het die voorrymanne, Martin Nel en Arne Roux, saam met die agtsteman, Marco Matthee, die pak behoorlik dik aangemaak.
Vir die verloorspan het sy skakelpaar, Denzel van Rensburg en Gunter Jacobs, goeie vertonings opgedis. Die heelagter, Damien Muller, verdien ook ‘n klop op die skouer vir sy vertoning in die wedstryd.
Lichtenburg se kantman, Dries Scheepers, was aan die voorpunt van sy span se oorwinning oor Heidelberg Volkies.
FOTO: Marius Nortjé
Puntemakers:
Hoërskool Middelburg 22 () – Drieë: Grant de Jager, Fumani Chauke, Philasande Ntshapela. Doelskoppe: AJ Oberholzer (2). Strafdoel: Oberholzer. Hoërskool Rustenburg 17 () – Drieë: Zander Steenkamp, Zander Kruger, Geo Barnard. Doelskop: Adriaan Liebenberg.
Noordheuwel 21 (7) – Drieë: Coen-Lee Koekman, Marshall de Vos. Doelskop: JT Kapank. Strafdoele: Kapank (3). Die Anker 10 (10) – Drie: Denzel van Rensburg. Doelskop: Gunter Jacobs. Strafdoel: Jacobs.
Oos-Moot 43 () – Drieë: Ryan Scott (3), Richardo Visser (2), Regardt Jordaan, Rudolf Coetzee. Doelskoppe: Carlo Janse van Rensburg (4). Zwartkop 24 () – Drieë: SJ Bezuidenhout (2), Nathan van Aswegen, Ian van der Westhuizen. Doelskoppe: Henlu Roos (2).
Lichtenburg 18 () – Drieë: Zandro Coetzee, Vuyo George. Doelskop: Elrigh Snyman. Strafdoele: Snyman (2). Heidelberg Volkskool 17 () – Drieë: Jeandré Kleinhans, Ruben van Vuuren. Doelskoppe: Keane Duckitt (2). Strafdoel: Duckitt.
Montana 48 () – Drieë: Ryan Herbst (2), Estian Gouws (2), Marco van Baalen (2), Vian Kelly, Ewan Korb. Doelskoppe: Rigard van Rensburg (4). Hugenote (Springs) 0.
Wesvalia 26 () – Drieë: Dawid Opperman (2), Grant Coetzee, Teboho Sekonyela. Doelskoppe: Grant Coetzee (3). Jeugland 7.
Potchefstroom Gimnasium 12 () – Drieë: Ruben le Roux, Kea Nduweni. Doelskop: Nduweni. Marais Viljoen 5 – Drie: Juandré Theron.
Potchefstroom Volkskool 31 () – Drieë: Oosterlig 5 () – Drie: Maricus Pretorius.
[powr-comments id=”224f8804_1650803543867″]




