SuperSport Schools Plus

Verdediging hak die knoop deur vir Boishaai

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-31 Tags: , , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

In ‘n kragmeting waar verdediging die verskil tussen wen en verloor sou beteken, het Hoër Jongenskool Paarl die septer geswaai en sy kanse die beste aangegryp.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die span van Paarl het uiteindelik, na ‘n tweede drie in die doodsnikke deur kookwater-slot, Jayden Joubert, met 25-17 oor Afrikaanse Hoër Seunskool geseëvier by vanjaar se NMI Toyota Noord/Suid-toernooi.

Dié kragmeting het ‘n skermutseling afgegee waarin die skote behoorlik geklap het, en dat daar Dinsdagoggend ‘n paar seer lywe sal wees, is gewis. Dit was vernaam voorlangs waar die loopgraaf-oorlogvoering op sy felste gewoed het.

Die Wit Bulle se oopkantflank, Luhan Potgieter, het ‘n reuse wedstryd gespeel, met verál sy klipharde werk op die verdediging en by die afbreekpunte wat goud werd was vir sy span. Hy was, saam met agsteman, Stephan McDonald, ook ‘n doring op die aanval.

Boishaai se taktiese skopwerk was egter van hoogstaande gehalte en het dikwels die span van Pretoria se agterste driehoek uit posisie betrap. Dit het beduidende druk op Affies geplaas.

Skrumskakel, Liam de Villiers, wat as speler van die wedstryd aangewys is vir sy flink diens en akkurate boksskoppe, het die druk afgehaal van losskakel, Francois van der Merwe, wat hom in staat gestel het om die Wit Bulle ook met giftige steekskoppies te looi.

Paarl Gimnasium se staatmaker-senter, Markus Muller, het sy tweede driekuns aan drieë by vanjaar se Noord/Suid-toernooi aangeteken in sy span ‘n wegholsege van 66-16 oor Hoërskool Monument. Die Paarl Gimmies het in die tweede helfte na hoogste versnelling oorgeskakel om ‘n allemintige 49 punte aan te teken.

Voorlangs het haker, Charles Whitehead, en slot, Migael Turner, vir die Wit Bulle van Krugersdorp geroer en elk ‘n tweekuns aan drieë behaal.

Die Monumentare het effense sukses behaal met ‘n paar hangskoppe in Stellenbosch se skemerlig, met loskakel, Anthony Viljoen, wat een van sy span se weinige uitblinkers was, terwyl skrumskakel, Evan Bernhardi, moedige diens gelewer het agter ‘n pak in trurat.

Puntemakers: 

Hoër Jongenskool Paarl 25 (15) – Drieë: Jayden Joubert (2), Caleb Holmes. Doelskoppe: Iwan Jordaan (2). Strafdoele: Jordaan (2). Affies 17 (7) – Drieë: Stephan McDonald, Fourie Roberts. Doelskoppe: Ruben Groenewald (2). Strafdoel: Groenwald.

Paarl Gimnasium 66 (17) – Drieë: Markus Muller (3), Charles Whitehead (2), Migael Turner (2), Hendré van Zyl, Dawid Badenhorst. Doelskoppe: Divan Pieters (8). Monument 16 (6) – Drieë: Ewan van der Walt. Doelskop: Anthony Viljoen. Strafdoele: Viljoen (3).

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.