SuperSport Schools Plus

Verdedigende kampioen se diepte sal die naweek getoets word

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-02-11 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Hoërskool Rustenburg op Facebook.

Die verdedigende kampioen in die A-afdeling van die Finsbury-reeks, Hoërskool Waterkloof, kom hierdie week voor ‘n taamlike toets te staan in sy laaste rondomtaliewedstryd.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die Klofies, huidiglik steeds eerste op dié afdeling se puntelys, se diepte sal behoorlik getoets word wanneer hulle Saterdag teen Hoërskool Rustenburg, op hul tuisveld, die André van der Walt-ovaal in Pretoria, te staan kom.

Die span van Pretoria moet sonder van sy groot staatmakers klaarkom aangesien hy ook ‘n span na die Clifton T20-toernooi in die Middeland van KwaZulu-Natal stuur. Dit is egter welbekend dat die Klofies oor ‘n gesonde pyplyn van kriekettalent beskik.

Die Rusties, met nog slegs een oorwinning in die reeks agter hul naam, sal dus met heelwat hoop en ywer die tog na Pretoria onderneem en taamlik staatmaak op ‘n uitblinker soos Callie Fryer. Fryer, blitsig met die bal en aanvallend met die kolf, spog reeds met internasionale ervaring nadat hy deel uitgemaak het van Krieket Suid-Afrika se o. 19-groep wat vroeër vanjaar teen Engeland meegeding het.

Verdere verantwoordelikheid rus op die skouers van die Rusties se aanvangskolwers, Thian Labuschagne en Hendré Robinson. Albei is netjies op dreef en het gedreig om behoorlik los te trek in die span van Noordwes se vorige wedstryde.

Hoërskool Eldoraigne, met die vooruitsig van ‘n plek in die reeks se eindstryd, sal Hoërskool Nelspruit versigtig benader wanneer die span van die Laeveld in Centurion kom besoek aflê. Die Nellies het verlede naweek verras met ‘n spogsege oor Hoërskool Menlopark, wat grotendeels te danke was aan die heldedade van Vaugh van Zyl.

Sy honderdtal, asook die vier paaltjies wat hy laat kantel, sou beslis deur Abré Volgraaff en die res van die Eldos se afrigtingspan ontleed geword het. Van Zyl sal nietemin op topvorm moet wees indien hy die intimiderende toporde van die Eldos se kolflys wil stuit.

Hoërskool Menlopark het steeds ‘n wiskundige buitekans om om die einstryd te haal. Die Pretorianers het, ná hul nederlaag in Nelspruit, van tweede tot derde op die puntelys afgeskuif.

Hulle sal egter hoop dat die Nellies hul ‘n guns bewys deur die Eldos te troef, en dan self met ‘n bonuspunt teen ‘n onvoorspelbare Potchefstroom Volkskool moet wen. Dit sal voorop staan vir die Parkies se kaptein en lopievraat, Dian van Zyl, en as nodige motivering dien vir nóg een groot kolfbeurt.

Bepalings:

Week 5:
Waterkloof t. Hoërskool Rustenburg
Eldoraigne t. Hoërskool Nelspruit
Menlopark t. Potchefstroom Volkskool

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.