Velties seëvier danksy “Senuwees-van-Staal” Burger

Duineveld het Saterdag Upington se trots verdedig teen die besoekende Diamantveld van Kimberley danksy AJ Burger se geoefende skopskoen, en senuwees van staal.
Toe die twee spanne verlede jaar in Kimberley slaags was het die Diamonds met 30-15 die botoon gevoer. Hierdie slag het die Velties egter binne trefafstand gebly vir Burger om in die doodsnikke ‘n naelbytsege van 14-12 met sy strafdoel te beklink.
Beleef die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Diamantveld se eerstespan lewer tot dusver vanjaar uithalerrugby en was Saterdag weer eerste uit die blokke. Toe Simon Liversage se reuse strafdoelpoging die pale getref het, het die Diamonds vinniger gereageer as die tuisspan met Jonathan Harding wat die bal opgeraap en oorgeduik het vir die eerste drie.
Met slegs vyf minute oor in die eerste skof het die tuisspan teruggeslaan met ‘n drie deur skrumskakel, Franco Erasmus, om die rustydtelling met 5-5 gelykop te laat trek.
Dit was die Velties se enigste drie, maar ondanks nog een vir die Diamonds, deur hul breker-agsteman, Enrique Boshoff, wat verdoel is deur losskakel, Marno Greeff, het Duineveld daarin geslaag om die besoekers in toom te hou, terwyl Burger elke kans om punte op die bord te plaas benut het.
Jacquin Jasson (vleuel) en Philip van As (haker) het uitgeblink op die verdediging, terwyl Erasmus sy span op die voorvoet gehou met sy hoë werkverrigting agter die skrum.
Met skaars vyf minute speeltyd oor was die besoekers nog met 12-11 voor, toe Burger ‘n strafskoppoging langs die reggoppaal verby laat seil het. Oomblikke later hy het egter koelkop gebly toe hy nóg ‘n geleentheid gekry het, en die bal tussen die pale deurgejaag vir die wenpunte.
Puntemakers:
Duineveld 14 (5) – Drie: Franco Erasmus. Strafdoele: AJ Burger (3). Diamantveld 12 (5) – Drieë: Jonathan Harding, Enrique Boshoff. Doelskop: Marno Greeff.
Ander uitslae:
o. 19 – Hoërskool Kalahari 38, Hoërskool Kathu 5; Diamantveld II 26, Duineveld 24; Diamantveld III 51, Duineveld III 5; Diamantveld IV 26, Duineveld IV 0.
o. 16 – Diamantveld 22, Duineveld 3; Diamantveld B 31, Duineveld B 10.
o. 15 – Diamantveld 28, Duineveld 13; Duineveld B 19, Diamantveld B 12.
o. 14 – Diamantveld 45, Duineveld 5; Diamantveld B 28, Duineveld B 7.