Vandag kan Die Wilgers en Vryburg nie weer sussies soen nie
Dit is min dat albei spanne in ‘n kragmeting ‘n appeltjie met mekaar te skil het.
Maar die unieke geval doen hom Saterdag voor wanneer die Hoërskool Vryburg en Die Wilgers mekaar die stryd in die Gert Lubbe-stadion in Vryburg in die halfeindronde van Groep 3 van die SDC Noordvaal Cup pak.
Die twee spanne het verlede jaar met 15-elk in die eindstryd van die reeks gelykop gespeel en daarmee ook dan die louere gedeel. Vanjaar sal albei voel dat hul die saak kan regstel.
Vryburg het tuisspan wel ‘n reuse voordeel, maar Die Wilgers het reeds met ‘n sege van 28-24 oor Curro Nelspruit in Mbombela reeds gewys dat hy weer vanjaar ‘n sterk aanspraakmaker op die titel sal wees.
Die span van Pretoria se heelagter, David Valentine, haker, Tiaan Joubert, en flank en kaptein, Ajay Lottering, was verlede jaar ook sleutelspelers vir hul span. Joubert het verlede jaar twee keer in die eindstryd gaan druk, terwyl Lottering ‘n groot doring in Vryburg se vlees was.
Die twee voorrymanne, Ruan en Willem Minny, was ook verlede jaar in die eindstryd in aksie.
Vryburg het vir Vereeniging Gimnasium met 41-19 in die kwarteindronde geklop om sy plek in die volgende ronde te bespreek. Die span wat deur Joubert Horn en Dawid Viviers gebrei word is terug op volsterkte vir die halfeindstryd. Die tuisspan se kaptein en onderkaptein, Hanco Halgryn (binnesenter) en Diaan Janse van Rensburg (flank), maak ook hul terugkeer tot die beginspan.
Halgryn en Janse van Rensburg was saam met Linda Boyo (vleuel), Johan Steyn (haker) en Kobus van den Berg (stut) verlede jaar in die eindstryd ook teen Die Wilgers in die beginspan. Zander Ackerman (losskakel), Jan Espag (slot) en Solly Mokoka (heelagter) het vanaf die plaasvervangersbank ‘n rol gespeel.
In die ander halfeindstryd sal Bastion van Roodepoort op sy tuisveld teen die Hoërskool Erasmus van Bronkhorstspruit sake uitspook. Bastion moes verlede week hard werk om vir Overvaal met 26-20 uit te skakel, Erasmus het op sy beurt vir Hoërskool Brits met 34-13 kaf gedraf.
Die kragmeting beloof ook om kliphard te wees. Bastion se sleutel tot sukses lê by sy skakelpaar, Juan Venter (kaptein) en Devlin du Preez, se vermoë om hul span aan die gang te kry.
Erasmus het in sy geledere vir Reinhardt Uys wat oor ‘n geleerde skopskoen beskik. Die binnesenter het nie ‘n enkele stelskop pale toe in die kwarteindstryd teen Brits verbrou nie. Selfs die Springbokke sal wet hoe belangrik ‘n akkurate stelskopper in die uitspeelrondes van ‘n toernooi is.
Die spanne is:
Hoërskool Vryburg vs Die Wilgers om 11:15 in Vryburg:
Vryburg: 15 Solly Mokoka, 14 Linda Boyo, 13 Karabelo Mbolekwa, 12 Hanco Halgryn, 11 Johannes Haasbroek, 10 Zander Ackerman, 9 Rikus Nieuwoudt, 8 Kenan Joseph, 7 Marno van den Berg, 6 Diaan Janse van Rensburg, 5 Ben van Niekerk, 4 Jan Espag, 3 Daniel Nortjé, 2 Johan Steyn, 1 Kobus van den Berg.
Die Wilgers: 15 David Valentine, 14 Armand Pretorius, 13 Jeanré van der Walt, 12 Jonathan Hefer, 11 Jason Beets, 10 Willem Ferreira, 9 Vicky Beukes, 8 Kyle Painter, 7 Ruben Botha, 6 Ajay Lottering (kaptein), 5 Caleb Klein, 4 Wiehann Ferreira, 3 Willem Minny, 2 Tian Joubert, 1 Ruaan Minny.
Bastion vs Erasmus (Bronkhorstspruit) om 11:00 in Roodepoort:
Bastion: 15 Liam Jacobs, 14 Benie Paich, 13 Aiden Gerber, 12 PJ Potgieter, 11 Heinrich Albrecht, 10 Devlin du Preez, 9 Juan Venter (kaptein), 8 Warren Scott, 7 Christiaan Harmse, 6 Deanin Marais, 5 Michael Bester, 4 Christo Troskie, 3 Joodre de Beer, 2 Heinrich Venter, 1 Rynhardt Koekemoer.
Erasmus: 15 Thoriso Legodi, 14 Marius Erasmus, 13 Petrus van der Merwe, 12 Reinhardt Uys, 11 Boka Sebothoma, 10 Pieter Uys, 9 Marnus Erasmus, 8 André Bezuidenhout, 7 Storm Hailstone, 6 Frikkie de Klerk, 5 Gustav van der Walt, 4 Nardo Craucamp, 3 Raynardt Jacobs, 2 GJ Smuts, 1 Jayden Hilliar.
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30