Van Zyl kook vir Nellies teen Parkies

Vaughn van Zyl het die afgelope naweek ‘n vertoning, met sowel die kolf as bal, opgedis, wat Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Menlopark, hoewel om verskillende redes, lank sal onthou.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Nellies se kranige en veelsydige sportster, wat ook reeds opslae in rugbykringe gemaak het, het die Parkies bykans eiehandig omgedop in sy span se oorwinning met 32 lopies tuis in Nelspruit. Van Zyl, wat welbekend is vir sy vernietigende boulwerk met die nuwe bal, het ook gewys dat hy die wilgerlat ewe effektief kan inspan.
Die nederlaag het die Pretorianers se hoop om vanjaar se eindstryd te haal ‘n gevoelige knou toegedien. Voor die naweek se aksie was dit steeds ‘n drieperdewedren om te bepaal wie oor twee naweke sake sal uitspook om die titel in die A-afdeling van die Finsbury-reeks.
Die Parkies het die loot gewen en besluit om die tuisspan eerste in te stuur om te kolf, wat, danksy Tiaan Serfontein (2/53) se vinnige twee paaltjies, vroeg reeds vrugte afgewerp het. Matt van der Westhuizen was die besoekers se groot uitblinker met 4/21.
Die tuisspan se aanvangskolwer, Waldemar Graham, het aanvanklik teruggeveg met ‘n blitsige 44, maar die chaos het behoorlik ontvou toe Van Zyl op nommer vyf instap om te kolf. Dit het inderwaarheid gelyk asof hy op ‘n totaal ander blad kolf.
In net 89 aflewerings het Van Zyl sewe viere en agt sesse gemoker om, in ‘n oogwink, 116 lopies by te dra en sy span tot ‘n totaal van 228 te help.
Hy was duidelik honger vir nóg aksie en het vervolgens met die bal ook groot skade aangerig, en dit nogal nié met die nuwe bal nie. In sy boulskof van ses beurte het hy slegs 18 lopies afgestaan, terwyl sy vier paaltjies, insluitende dié van die Parkie-kaptein, Dian van Zyl (97), deurslaggewend was.
Gherdu van Eeden se drie paaltjies vir slegs 33 lopies het verder bygedra om die besoekers se moed te breek en uiteindelik vir 196 uit te boender.
Hoërskool Waterkloof se ster met die kolf, Rico van der Walt, het weer van voor gelei in sy span se oorwinning met vyf paaltjies oor Potchefstroom Volkskool. Met sy onoorwonne 50 lopies, tesame met 31 van Franco Schmidt en 28 deur kaptein, Riley Miller, het hy die teiken van 161 in ‘n japtrap bereik.
Eduan van der Merwe was weer die Potchefstromers se uitblinker. Hy het nog ‘n vyftigtal op sy reeds indrukwekkende kerfstok vanjaar geplaas, maar dit was nie genoeg om die verdedigende kampioen te stuit nie.
Hoërskool Eldoraigne beïndruk steeds, met aanvangsbouler, Matthew Sampson, wat weer in ‘n verwoestende bui was om Hoërskool Rustenburg se toporde te verwoes met merkwaardige syfers van 6/32 in sy toegelate 10 beurte. Dit het die span van Centurion met slegs 150 gelaat om te jaag.
Vyftigtalle deur Vince Lotz (50*) en Marinus Langerman (50) het die Eldos tot nóg ‘n oortuigende sege, met sewe paaltjies, in hul eerste jaar in die A-afdeling gelei.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Nelspruit 228 (Vaughn van Zyl 116, Waldemar Graham 44; Matt van der Westhuizen 4/21, Tiaan Serfontein 2/53); Menlopark 196 (Dian van Zyl 97, Matt van der Westhuizen 24; Vaughn van Zyl 4/18, Gherdu van Eeden 3/53). Hoërskool Nelspruit wen met 32 lopies.
Potchefstroom Volkskool 160 (Eduan van der Merwe 50, Handre de Beer 44, Juan van Niekerk 20; Jaydon Blom 3/19, Darius Maritz 2/18, Jaco van der Walt 2/22, Rivan Booysen 2/25); Waterkloof 161/5 (Rico van der Walt 50, Franco Schmidt 31, Riley Miller 28; Johandre Jacobs 3/47). Waterkloof wen met vyf paaltjies.
Hoërskool Rustenburg 149 (Dehan Jacobs 38, Ekstras 25; Matthew Sampson 6/32, Kyle de Bruin 2/30, Jabu Mangena 2/30); Eldoraigne 150/3 (Vince Lotz 50*, Marinus Langerman 50; Callie Fryer 2/19). Eldoraigne wen met sewe paaltjies.